Verstaan die emosionele eetsiklus

(Foto: Verskaf)

Deur Rhodene Leydekkers

Kom ek skep ʼn prentjie. Jy het verslaap, die krag was af so jy kon nie ʼn koppie koffie maak nie, die verkeer was ʼn nagmerrie, jou baas het jou oorlaai met werk, jou een kollega het jou onder die bus gegooi vir ʼn fout wat hulle gemaak het, en jou kind het in die moeilikheid gekom by die skool. Kortom, alles het sommer net verkeerd verloop vandag.

Ons almal was al daar. Na so ʼn lang dag vra jou liggaam vir ietsie lekker om te kan ontspan. Om soms ʼn lekkerny te eet na ʼn rowwe dag, of om iets te vier met kos, is nie noodwendig ʼn slegte ding nie. Maar as eet jou enigste manier is om jou emosies te hanteer, en jy agterkom dat jy elke dag iets eet om jouself beter te laat voel, kan dit jou fisiese en emosionele gesondheid begin benadeel.

Die emosionele eetsiklus

Om uit hierdie siklus te kom, is dit eers belangrik om te verstaan hoekom ons dit doen. Kos speel ʼn groot emosionele rol in ons lewe. Dink net daaraan, ons vier nie net met kos nie, ons rou ook met kos. So dit is ʼn natuurlike reaksie om kos te gebruik vir emosionele redes. Wanneer ons sekere kosse eet, produseer ons liggaam goedvoelhormone soos dopamien en serotonien. Daarom voel ons beter as ons sekere kosse eet, en as gevolg daarvan soek ons liggaam daardie gevoel wanneer ons nie lekker voel nie. Kos dien ook as ʼn afleiding van ons emosies sodat ons nie nou daaroor hoef te dink nie.

Alhoewel daardie sny koek baie bevredigend is in die oomblik, is dit egter net ʼn tydelike oplossing, en kan dit lei tot nog meer negatiewe emosies. Dit is soos om ʼn pleister op ʼn baie diep sny te plak: dit help vir ʼn rukkie, maar jy kom vinnig agter dat jy meer as dit nodig het.

(Foto: Verskaf)

Identifiseer die rede agter die eet:

Om op jou emosies te reageer deur te eet, is nie die probleem nie, dit is die simptoom van ʼn emosie. Daarom is dit belangrik om die emosie te identifiseer, sodat jy kan weet wat die eintlike rede is hoekom jy smag na sekere kosse. So vat ʼn oomblik om te identifiseer wat jou laat eet. Is dit stres, verveeldheid, hartseer, aggressie? As jy verstaan wat jou laat eet, is dit makliker om stappe te volg om dit te hanteer. Ons fokus so baie net op wat ons eet, en veroordeel onsself so maklik daarvoor, dat ons heeltemal die punt mis. Jy kan ongelukkig nie iets eet en verwag dat die emosie heeltemal gaan verdwyn nie.

Vind alternatiewe om met jou gevoelens te werk:

Wanneer jy meer inligting het oor die emosies wat jou lei om te eet, kan jy veranderinge begin maak om jouself te help. As jy agterkom dat jy altyd vir iets soek om te eet as jy senuweeagtig is, kan jy stappe in plek sit om jou te help om die emosie beter te hanteer. Ek stel altyd vir my pasiënte voor om ʼn stresballetjie te kry om hulle hande besig te hou, of om asemhalingsoefeninge te doen om hulle te help ontspan. Soms help dit om net die emosie te identifiseer en te weet dat dit menslik is om so te voel.

Leer die verskil tussen emosionele honger en fisiese honger:

Het jy al ooit geïrriteerd, kwaad, of hartseer voel as jy vreeslik honger is? Dit is omdat jou liggaam in oorlewingsmodus gaan omdat jou energie laag is. En wanneer jou liggaam desperaat is vir energie, produseer jy veg-of-vlug-hormone soos adrenalien en kortisol, wat jou emosioneel kan laat voel. Dus is dit maklik om emosionele honger met fisiese honger te verwar. Om uit die siklus van emosionele eet te kom, is dit belangrik om te weet watter honger jy ervaar.

Rhodene Leydekkers (Foto verskaf)

Kry professionele hulp

Om te praat oor jou gevoelens, is soms die beste manier om emosionele eet te hanteer. Sielkundiges, beraders en dieetkundiges kan jou help met tegnieke om uit die emosionele eetsiklus te kom. En dit mag dalk baie moeilik wees om daardie stap te neem om iemand te kontak en te praat oor jou emosies, maar soms moet ons uit ons gemaksone tree sodat ons kan groei. Professionele mediese praktisyns sal jou nooit oordeel nie, en is daar om jou te help.

In plaas daarvan om jouself te kruisig elke keer as jy die koskas oopmaak wanneer jy senuweeagtig voel, of ʼn pakkie skyfies oopmaak wanneer jy hartseer is, vat ʼn tree terug en gaan ondersoek die probleem. Dit is ʼn normale reaksie wat ons almal al ervaar het. Maar as jy nie ander gesonder maniere ontdek om jou negatiewe emosies te hanteer nie, kan jy maklik in ʼn siklus van emosionele eet vasgevang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.