[Video] STROOP: Hope, die renoster wat wêreldwyd mense aangegryp het

Bonné-de-Bod

Bonné De Bod op ‘n renosterplaas. Foto: Verskaf.

WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig is baie grafies en kan sensitiewe lesers of kinders ontstel.

Ons almal is reeds bekend met die beelde van ʼn gestroopte renoster. Om die opgeswelde karkas van ʼn eens kragtige dier te sien en natuurlik die wrede, leë plek waar die horings eens was, die ontblote bloedrooi weefsel en been. Ons kyk ʼn vlugtige oomblik daarna… of ons dit nou vir die eerste keer sien, of vir die honderdste.

Reeds vroeg in die verfilming van STROOP het ons besef dat een keer genoeg was vir die meeste mense. Ons het nuwe grond betree deur verfilming met sosiale media te kombineer, maar dit is en bly steeds ons verbintenis met diegene wat die film finansier – die publiek. Nie net is dit van sleutelbelang om ons reis tydens verfilming te deel nie, maar dit is ʼn wonderlike manier om onmiddellik te sien waarvan die mense meer wil weet en waarvan hulle nie hou nie. En waarvan hulle nie hou nie, is beelde van dooie renosters met gruwelik verminkte gesigte, wat lê en verrot onder die Afrika-son.

Dit het ʼn onmiddellike effek… Die oomblik dat ons die gesig van ʼn gestroopte renoster met ons aanhangers op sosiale media deel, kry ons boodskappe wat sê beelde soos daardie is nie ʼn prentjie om saam met jou eerste koppie koffie op Facebook te aanskou nie! So, mense gee om vir ons renosters en is diep gekwel oor die krisis, maar die gruwelikhede, die realiteit slaan hulle hard.

Dít het net meer as ʼn jaar gelede verander. ʼn Verskriklike foto van miskende pienk vlees teen die agtergrond van ʼn grys vel het op ons sosialemediaplatforms verskyn. Maar hierdie keer het die renoster nog gelewe… Sy is verdoof en vir dood agtergelaat nadat die stropers haar sinusse tot op die been oopgekloof het, en die grootste deel van haar gesig weggekap het. Dit was ontsettend moeilik om te aanskou en nog moeiliker om te glo dat sy dae lank oorleef het voordat sy gevind is. Sy is na die Shamwari-rehabilitasiesentrum verskuif waar die veeartseny-organisasie Saving The Survivors ingeroep is om haar gesig te begin behandel.

Bonné de Bod op 'n toneel. Foto: Facebook via Stroop

Bonné De Bod op ‘n ander toneel. Foto: Facebook via Stroop

Dit het na ʼn onbegonne taak gelyk, en ʼn omstrede een daarby, aangesien baie mense in die “renosterbedryf” hewig daarteen gekant was en genadedood bepleit het, omdat hulle gevoel het sy kan nie gered word nie. Diegene wat haar versorg het, het haar “Hope” genoem.

Dr. Johan Marais, uitvoerende hoof van Saving The Survivors, is een van die karakters in die film. Ons was al voorheen daar waar hy gestroopte renosters behandel het, maar niks het ons voorberei om vir Hope te sien nie.

’n Mens kan na foto’s kyk en voel hoe jou maag op ʼn knop trek oor die gruweldade en hoe pynlik dit vir haar moes wees, maar wanneer die reuk van vars vleis en bloed jou neus tref, wanneer jy hoor hoe sy na asem snak deur die verminkte gesig en jy draai om om te sien wat oor is van haar gesig, en sy kyk na jou en haar oë knip, sjoe! Jy kan dit nie verduidelik nie. En dit is my werk… om aan mense te verduidelik wat nie daar kan wees nie, hoe dit werklik is. Hoe doen ʼn mens dit as daar geen woorde daarvoor bestaan nie?

Duidelik het dit ʼn indruk op mense oor die hele wêreld gemaak. Bykans oornag het Hope ʼn media-sensasie geword. Sy het in honderde gedrukte publikasies verskyn asook op tientalle van die voorste nuuskanale en -netwerke oor die wêreld. Skielik was sy die bekendste renoster op die planeet. En op sosiale media kon mense net nie genoeg van haar kry nie. Inskrywings het soos ʼn veldbrand versprei. Burgers van Amerika, Europa, Australië, Egipte, Brasilië, die Oekraïne, Fidji… Van elke uithoek van die aarde en duisende kilometers van haar tuiste daar tussen die bossies van die Oos-Kaap, wou mense net meer en meer van haar weet. Hoeveel sy eet, wat sy eet, of sy te veel eet – en daardie spesiale bedekking oor haar wond en die tegnologie betrokke by haar tientalle operasies het lang besprekings op Facebook uitgelok.

Die helingsproses onder haar wondbedekking het ʼn gejeuk vir Hope veroorsaak. Dr. Marais en die span veeartse het skroewe ingeboor in dit wat oor was van haar beenstruktuur om ʼn verskeidenheid bedekkings in plek te hou, van veselglas tot metaal tot splinternuwe materiaal van die weermag en selfs behandelde olifantvel.

Bonné de Bod tydens haar soektog na renosterhoring in Asië. Foto: Verskaf.

Bonné De Bod tydens haar soektog na renosterhoring in Asië. Foto: Verskaf.

ʼn Verskeidenheid sjirurgiese staaldraad en verskillende bindingstegnieke is gebruik om die bedekking in plek te hou waar daar nie meer been was nie en waar dele van haar lip voorheen was. Maar sy was lekker stout en het keer op keer maniere gevind om dit af te skuur! Sy het ook ietwat van ʼn humeur aan haar gehad, maar wie kan haar kwalik neem? Toe ʼn nuwe boma vir haar gebou is, het sy op ʼn heuweltjie gestaan, haar kop van kant na kant geswaai, deur die verbande na die mense gekyk wat op die grens gewerk het en dan verwoed op die werkers afgestorm! Sy sou dan slegs enkele millimeters van die grensdraad af stop wat almal genoop het om na asem te snak, wagtend op die potensiële skade aan haar gesig teen die grenspale… Haar vurige temperament het sosiale media net meer laat gons.

Hope se wêreldwye impak is natuurlik indrukwekkend, maar meer as dit, sy het die gesig geword van renosterstropery, iets wat geen mens kon doen nie. Met elke operasie het haar drang na oorlewing net sterker geword. Om terug te keer na normaal terwyl dit duidelik was dat “normaal” moeiliker sou wees as om op Mars te land. Dit is nou al ʼn jaar waarin daar gesoek word na die onmoontlike, om die wond toe te maak. Dit is moeilik om te glo dat in sewe jaar van renosterstropery so min bekend is oor die beenstruktuur in die gesig van die renoster. Dr. Marais, ook ʼn professor by Onderstepoort, is al geruime tyd besig om die koppe van renosterkarkasse op te kerf, x-strale daarvan te laat neem, MRI- en CT-skanderings te laat doen, als in ʼn desperate poging om meer vas te stel oor wat agter Hope se skade lê. Hierdie reis is goed op sosiale media gedokumenteer en het die bonus dat idees van oral instroom, selfs dié wat nog nooit vir diere gebruik is nie.

ʼn Tegniek van plastiese sjirurge van Kanada, ʼn tipe trek-stelsel en steroïed van gom, word nou op haar gebruik in die hoop dat die wond uiteindelik toegetrek sal word. Dit druis teen alles in, maar gelukkig lyk dit of dit begin werk. Haar gesig het dramaties verander en soos altyd is daar tientalle besprekings op die internet hieroor aan die gang. Maar Hope is Hope, en sy het selfs haar dokters verbaas deur ʼn nuwe horing terug te groei. Is dit nie ongelooflik nie!

Ons sien daarna uit om die merkwaardige storie van Hope in die film te vertel en soos Bonné gesê het, nadat sy haar die eerste keer gesien het: “Ek voel so bevoorreg om oogkontak te maak met hierdie dier wat lelik gemaak en geskend is deur die mens se gierigheid, maar wat so mooi is danksy haar wil om te oorleef.”

Bonné De Bod

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Die bekroonde rolprentmakers Bonné De Bod en Susan Scott is al drie jaar besig met die verfilming van die renosterstropingskrisis vir die dokumentêre prent, Stroop. Dié gedugte span is nou besig met redigering en die film sal na verwagting in 2018 uitgereik word. De Bod is bekend as die wildlewe-aanbieder op 50/50, aanbieder en vervaardiger van Rhino Blog, sowel as ʼn spesiale korrespondent vir die SAUK se Newsroom en kykNET se Grootplaas en #RenosterRadar op Groot FM 90.5.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

“Hope” se aangrypende storie verskaf dramatiese inhoud vir televisie, hou mense wêreldwyd vir ‘n wyle besig op sosiale media, veeartse probeer hard om haar weer naastenby soos ‘n volbloed renoster te laat lyk, maar daar kan met reg gewonder word of sy nie eerder die lyding gespaar sou wou word nie? “Media-sensasie” of te not.

Terwyl daar al twee jaar gewerk word aan ‘n film oor “Hope” en die renosterstropingskrisis gaan die meedoënlose uitwissing van renosters voort. Die syfer is meer as ‘n 1000 per jaar. Dit is algemeen bekend dat veldwagters, polisiemanne en selfs ‘n veearts al betrokke was by hierdie misdaad. Vergewe my dus as ek taamlik sinies is oor die toekoms van renosters in Suid-Afrika.
Daar sal na hulp van buite die land gekyk moet word, en Australië is in die proses om aan 80 renosters ‘n nuwe, veilige tuiste te bied teen astronomiese kostes.

rr ·

Dit is baie hartseer. Die geldgieriges sal nie ophou om die diere by tekom nie. Hul gee vir niks en niemand om nie. As daar net iets was in die horing wat mense wat dit gebruik siek maak en nie die dier nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.