Voëls, vye en die lekkernygevolge

Argieffoto (Foto: jarmoluk, Pixabay)

Ek sit toe op onse ou ouetehuisstoepetjie en ek sien hoe ʼn spul tiptolle, piet-kleikorrels, kuifkoppe, bottergatte of wat ʼn mens hulle ook al wil noem, in ons gemeenskaplike vyeboom rinkink, waar hulle ons lankvoorgewagte vye verorber. Met die dat ek die spul verjaag, bly een toe sit en toe ek onder die boom inloop om te kyk wat die skade beloop, toe vlie die laaste een weg met ʼn duidelike “vatso!” en hy tref my met ʼn loperige, vyerige blerts agter die oor en ek voel toe hoe loop die spul af nek se kant toe. Hy sluit toe by sy maters in ʼn ander boom aan, waar hulle my sit en koggel. Hoe ek daaroor gevoel het en wat ek te sê gehad het, sal my donker kant verraai en ek swyg liewer onder protes.

Daar van my stoel af het ek hulle wrewelrig sit en bekyk. Dis waar die storie van die ou wat so sonde met die bobbejane gehad het, by my opgekom het. Hy het gereeld met sy lemetfort na hulle geskiet as hulle sy vrugte kom pluk. Maar omdat hy ook ʼn voorste mampoerstoker was en mildelik van die kosbare spogvoggies geniet het, kon hy nie die korrel in die visier inbewe nie en het hy selde of ooit ʼn vyand laat val. Met die bobbejane veilig terug op die krans, het hy eendag bulderend gedreig: “Julle swerkaterdeugniete kan maar koggel, maar hierdie plaas gaan ek nog onder julle gatte uitsuip! Dan sal ons sien wat julle gaan steel, vreet en verniel!”

Dis toe, in ʼn heldere oomblik, dat ek aan ʼn gawe ding begin dink het. Sommer so uit die bloute uit: konfyt! Soet, stroperige ryp vyekonfyt! Dis toe wat ek my emmer vat en vyeboom se kant toe stap. Van die boom se kant af het ek vir die spul vyvreters gesê: “Julle kan my koggel, maar ek gaan al hierdie vye onder julle g…e, nee botters, uit pluk en konfyt kook en dan sal ons sien wat julle gaan vreet en verniel! Ek het my emmertjie vol gepluk. Sommer die reeds gepiktes ook want ʼn mens mors nie. ʼn Gepikte vy is in elk geval die soetste, het ek al geleer.

Nouja, en daar staan ek toe met die emmertjie vye en al wat ek van konfytkook af weet, is dat warm stroop jou sleg kan brand. My ou ervare Kokertjie het tong in die kies die kookboek van die raak af gehaal en vir my gegee en vertroostend gesê dat sy die bottels sal regkry. Dit was nogal oorle skoonma se oorspronklike Kook en Geniet wat ek oopgeslaan het. Om die resep te kry was maklik, maar ou tante De Villiers se resep-relaas was nie begripsvriendelik nie. Dan’s dit ml en dan weer koppie. Dan’s dit weer gr en dan weer ʼn lepel. Ek dag toe ek moet liewer iewers gaan raad vra en dan verder my gesonde verstand gebruik.

Ek het in die gange af gaan kers opsteek by die konfytkookveterane. Hulle het my vertel hóé. Die vye se skille is netjies afgetrek en toe in kwarte gesny. Nee nie liggies geskil, soos die boek sê nie, want dis te veel werk. Party het nog van ʼn pond suiker vir ʼn pond vrugte gepraat, maar tante Naomi, 95 jaar jonk, se raad is gevolg, veral omdat suiker nou so ʼn gevaarlike sondebok is. Vir soet vrugte is dit 800 gr suiker op 1 kg vrugte. Wyse raad en voorskrifte is noukeurig gevolg en toe die kleur en die stroop reg was, moes die lekkerte gebottel word.

Dit was ʼn ander petalje. My ou Helpertjie het my mooi gewys hoe ek die bottel in ʼn vadoek moes wikkel om te keer dat ek nie konfytbrande opdoen nie. Dit was ʼn gesukkel. Amper soos desjare se babadoeke ruil as Vroulief nie betyds daar was om dit te doen nie. Ek vat toe sommer ʼn leer sweishandskoen met die bottel tussen duim en vingers. Toe al die taaigeit met ʼn klam lap afgevee en die prop opgeskroef. My ou Beoordelaartjie het trots na my gekyk en ons het ʼn paar proebotteltjies uitgedeel. Die proeërs se reaksie was egostrelend en ek het rede gehad om my eie stert te prys. By wyse van spreke.

Einste tante Naomi vra my toe die volgende dag of ons nie vir haar wil gaan help om vye op die plaas te gaan pluk nie. Sy gee al jare vir die oumense wat kamergebonde is, lekker ryp vye want hulle kry mos ook lus. Op pad plaas toe vra ek toe uit oor heel ryp vyekonfyt. “Ja,” seg sy, “die vy moet net nie pap wees nie en jy moet hom so pluk dat die stingeltjie nog aan is.” So aangeraai, so gemaak. Sy het mooi verduidelik, nee voorgeskryf, hoe dit gedoen moet word en later die aand het ek die ryp heelvyekonfyt gebottel en weer vir my fynproewers uitgedeel. Nou nie dat ek wil spog nie, maar die reaksie was van so ʼn aard dat ek gewens het my ou moeder het nog geleef om dit te hoor. Sy was konfytkoker van formaat en dis omtrent net klippe waarvan sy nie konfyt gekook het nie.

Ek dag dis waar my konfytstorie sou ophou, maar nee. ʼn Paar dae later loop ons ʼn vriendin raak en sy sê toe sy hoor ek kook so lekker konfyt. Wil jy nou meer! Ek vra toe wat sy daarvan weet en toe vertel sy ʼn ander vriendin het by die VLV-vergadering daarvan vertel. Haai so ʼn kleindorpiestorie darem! Ek sê vir jou! Ek die konfytkoker en my naam lê by die VLV rond! Nóg ʼn egostreler!

Die nag lê ek toe en dink. As ek so aangaan, kan ek mos een van die dae op grond van die Wet vir Geslagsgelykheid, aansluit by die VLV en daar verder naam maak. Vir al wat ek weet kan ek voordat ek taggentag slaan president van die VLV word! En ek dag toe verder dat ek vir tante Evita van Darling kan vra om namens my, my intreerede te lewer want dit wil ek pertinent en onomwonde stel: Man sal ek waaragtig man bly!

Nouja, toe ek die volgende oggend wakkerskrik was die grootheidswaan afgeslaap. Hef aan het voorgelê want my ou Inlêertjie wat my tot die Ridderorde van Vrugteskil geslaan het, was gereed om leë bottels vol te maak en dit is geelpersketyd. En einde Februarie is dit kweper- en peretyd en dit kan ek sê: Vir haar sal ek nooit in die steek laat nie! Op my kan sy reken. Dienswillig hare.

Ja, die konfytstorie hou nie hier op nie, maar dis ʼn ander dag se storie wat nog geskryf gaan word. Van my ou vrinne wat dalk begin wonder of daar nou fout gekom het en my ou koppie begin raas, wil ek gerusstel. Nee, ek betree net ʼn nuwe lewensfase! My goeie vrind Kobus, voorheen van Lekkerwater en nou van Amperklaar, in jare gevorderde Meesterkonfytkoker, het gesê sy polities, swaargelaaidewoordwaatlemoene is mooi en ek moet vir my een kom haal. ʼn Kleintjie, want die grotes gaan hy self verwerk want die kerkbasaar lê voor en die mense wag al van laasjaar se basaar af vir sy heel waatlemoenstukke. En hy sê ek moet kom, dan leer hy my om agurkiekonfyt te kook!

Ek kan nou nie met ʼn oorstootdrie in beseringstyd spog nie … Maar ek kan darem praat van ʼn tweede asem. Nou hoop ek net die tweede asem hou lank genoeg om al die goed te doen wat ek nog wil doen, sodat daar nie van my gesê sal word dat ek vir die duiwel ʼn oorkussing nagelaat het nie.

Nou sit ek en wonder oor broodbak. Net dat die konfyt nie op die ou end op die rak gaan staan en muf nie. Brooddeeg-vetkoeke met lekker groot rysholtes is ook ʼn gawe gedagte. Dis om van pure lus te kwyl! Ai, hoe sluk ek nou!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae