Vreemd in my Vaderland

afrikaanse-taalmonument-leuse

Die Afrikaanse taalmonument in die Paarl. Foto: commons.wikimedia.org

Ek mag nie wees nie. Ek mag nie hier wees nie. My kinders mag nie hier wees nie. Ons mag nie trots wees nie. Nie trots op ons taal of ons kultuur of ons geskiedenis nie. Ons mag nie sing nie. Ons mag nie praat nie. Ons mag nie sê dis onregverdig of bedreigend of isolerend nie. Ons mag nie.

Ek word gesê ek is verkeerd. Nie my opinie is verkeerd nie, ek is. Ek is verkeerd om wit te wees en om Afrikaans te wees. Ek is verkeerd om hier te wees. Ek moet iets anders wees. Of ek moet iemand anders wees.

Ek word gesê ek moet “teruggaan waar ek vandaan kom”. Ek weet nie waarheen hulle my wil stuur nie. My voete ken nie die paaie van Europa nie, hulle ken net die rooigrond van Afrika. My stem ken nie die klanke van die woorde nie, dit ken net die taal van my moeder. Die gespartel van die vreemdheid in my mond is die gespartel van my hart in die vreemdheid van daardie lande. Ek het nie ʼn plek daar nie. Ek het nie ʼn identiteit daar nie.

Ek het hier in Afrika mens geword. Toe die jare van apartheid gejaag het na hul einde, is ek gebore in ʼn Afrikaanse huis in Afrika. My ouers is gebore toe apartheid al volstoom aan die gang was. My taal het homself gevorm in Afrika. Dit het gewroeg en geworstel bo-oor die Drakensberge tot veiligheid. Dit het geveg vir oorlewing onder Britse plaas-brande en Zoeloe-spiese. Dit het verengels en toe self diktator probeer speel vir ʼn ruk. Dit het gewankel en gekneus die diktatorskap prysgegee. En toe het dit ʼn nuwe toekoms ingegaan met baie hoop.

Maar nou is my taal ʼn vyand. Dis ʼn vreemdeling. Dis ʼn haatlike ding, ’n ding wat uitgewurg moet word. Dit word verban uit die regering. Dit word verban uit besighede. Dit word verban uit skole. En dit word stil-stil vreemd in ons eie huise, ons eie kerke en ons eie monde. Soos daardie spreekwoordelike padda in die warm water, kom ons stadig agter hoe die kring al hoe nouer trek.

My taal is nou ʼn vyand. Dis ʼn vreemdeling. Ek is nou ʼn vreemdeling. Ek is nou ʼn vyand. En nou mag ek nie wees nie. Ek mag nie hier wees nie. Terwyl my mense nie eers ʼn tiende van die land se bevolking is nie, moet ons veg. Ons moet veg om veilig te wees agter ons heinings en ons tralies en ons alarms en ons gewere. Ons veg om vry te wees om te gaan waar ons wil en te wees wie ons wil en te doen wat ons wil. Ons veg om voorspoedig te wees sodat ons kinders kan eet en speel en grootword en vorentoe gaan. En ons veg om te oorleef. Ons veg om net te wees.

Ons veg voor ʼn skool in die strate terwyl die bakstene vlieg. Ons veg sonder stokke en swaarde en gewere. Ons veg in Engels in die howe om ons stemme in Afrikaans te laat hoor. Ons veg anoniem en openlik op die internet om ʼn plek te hê om te wees. Ons veg by die VN met petisies en toesprake om die wêreld te laat weet ons is nog hier. Ons veg op ons knieë in gebed met trane in ons oë.

Ons veg in ons Vaderland. Ons veg vir ʼn sonkolletjie, want daar word gesê om die son vir ons toe te laat, vat die son weg van iemand anders. En ons hoort nie. Ons mag nie wees nie. Ek mag nie wees nie. Hier in die land van my vaders, in die taal van my moeder, verwag hulle dat ek moet stilbly en wegkwyn. Hier word ons vreemd. Word ons vreemdelinge. Word ons vyande. Vaderland.

René du Preez

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

31 Kommentare

Ada ·

Ek gaan my nie laat onderkry nie.
Ek is trots Suid-Afrikaans.
Ek is nie vreemd nie en ook nie ‘n vreemdeling nie. Niemand kan my Afrikaanse Taal en Kultuur en Suid-Afrikaanse Burgerskap wegneem nie.
Net indien jy dit toelaat om vreemd of ;’n vreemdeling te wees – sal jy dit wees.
Andersinds – nie.

Ronel ·

Alle so so waar wat jy se en SO hartseer. Eerste gedagte wat by my opkom met die lees van ons geveg vir alles, is dat ons dalk maar net maai wat ons voorouers gesaai het. Hoeveel hartseer en pyn en swaarkry het apartheid nie vir die ontvangers daarvan gebring nie?Ek regverdig hiermee glad nie die stand van sake vandag nie, maar ons kan dit nie ignoreer nie. Die saai-en-maai beginsel is ‘n Bybelse beginsel. Ek glo God is steeds in beheer van sake en sal ons nie bo ons kragte beproef nie. Vraag is net, is ons as volk kollektief en individueel bereid om ons knie voor Hom te buig en daar te bly in totale afhanklikheid, sodat net Hy ons voorsiener is? Want Hy verseker ons dat die wat aan Hom bly vashou tot die einde wel die prys sal kry. Ek skat dit gaan oor ons harte- kan ons aan God en Sy verordinge getrou bly ten spyte van ons omstandighede?

Basson ·

Apartheid het dan ook sy ontstaan gehad op Bybelse beginsels? So wat nou?

Boerseun ·

Ek wil apart van die ANC bly. Barcelona wil apart van Spanje wees. So wat nou? Sekere kan net die self ontwikkel nie

Susan ·

Sjoe, my kind, jy is een van die redes hoekom ons taal nooit sal ophou bestaan nie! Jy vat n ding so vas met woorde!!! So trots op jou!!

Gerhard ·

Ongelukkig is wensdenkery en toewyeiding nie genoeg om probleme op te los nie. Jy moet ook ‘n plan he en ek kry die gevoel ons het nie een nie.

James ·

Die insig het dus gekom – naamlik dat jy ‘n vervolgde minderheid is. Jy het geen bestaansreg nie – inteendeel – jy is ‘n kanker op die vel van die meerderheid.

Jy voel soos – ek dink: ‘n jood tussen 1933 en 1945 in Europa moes voel.

Interessant, die verwysing na wanneer jy gebore is: Gaan SOEK die antwoorde op jou vrae hierbo by jou ouers en moontlik grootouers. Gaan VRA hulle, of hulle deel was van die 67% wat JA gese het vir jou en jou kinders se huidige tamelekie: – omdat hulle weer Springbok Rugby wou kyk..

Baie van hulle sal verskonend verklaar: “Ons het nie geweet nie.”

Vra hulle dan of hulle mense soos Dr AP Treurnicht en Mnr. Jaap Marais onthou? Vra hulle – of hulle ook – soos baie destyds – gelag het vir die voorspellings van genoemde twee here oor wat die toekoms vir hul nageslag gaan inhou as hulle voortgaan met hulle ondersteuning van FW se planne?

Jou voorouers is dalk onskuldig , of dalk nie.

Gaan VRA hulle…

Gerhard ·

Meeste mense hou nie daarvan as iemand hulle herhinder daaraand dat hulle gewaarsku was nie.

Hennie ·

James, dis maklik om nou te praat, maar ongelukkig weet niemand wat die uieinde sou gewees het indien die oorgrote meerderheid “Nee” gestem het nie.

LM Lourens ·

René du Preez, Jy het jou standpunt uitstekend en baie duidelik gestel. Daar is miljoene wat met jou sal saamstem.

Merkur ·

Dit is verlore energie en bring niks om aanhoudend oor foute in die verlede te kla nie. Is dit so seker dat die wêreld ´n nee stem sou aanvaar het? Die ja stem was beslis nie die enigste fout wat gemaak was nie. Dit ís moontlik om uit foute te leer. Dink liewer vorentoe.

Gerhard ·

Wat nodig was lank voor die gebeurtenis was politice wat vooruit kan dink en probleme hanteer voor dit onhanteerbaar word en ook nie oor reageer toe nugtere denke nodig was nie. Afrikaners moes hul afhanklikheid van swart arbeid lank voor die tyd aangapreek het. Verder was “onderhandeling” met die ANC die laaste ding wat hulle kon bekostig, die rede is omdat dit noodwendig ‘n oorgawe was waar jy nooit werklik kon verseker die ooreenkoms is afdwinbaar nie. As jy een van die is wat glo dat daar eerlike bedoelings was tussen die twee kanteer verstaan jy net nie politiek baie goed nie. Eie belange was noodwendig al waarvoor daar onderhandel was en daar was en is geen manier hoe jy kon verseker enige ooreenkoms is afdwinbaar nie. Dit was dus nog altyd onlogies om te dink dat wat ook al daar onderhandel was van enige waarde was.

Merkur ·

Gerhard ek stem met jou hele skrywe saam. Die afhanklikheid van swart arbeid was een van die foute waaraan ek gedink het. En jy is reg dat geen onderhandelinge/verhandelinge enige waarde ooit gehad het en ooit sal hê nie. Dit is belangrik om eindelik uit hierdie fout te leer.

Boerseun ·

Heelhartig stem ek saam met die gevoel van die skrywer want ek dink elke boer voel so. Ek maak nie verskoning vir wie God die Almagtige my gemaak het nie. ‘n Wit boer, gebore in Afrika. Dit is Sy meestersplan en ek sal nooit wegskram van dit wat my volk gelewer het nie: Die goed saam met die sleg… Anders as ander volke dra ons die las nou. Ons wys nie vinger en blameer ander nie. My vraag is egter nog voor ons by menseregte uitkom wat is werklik die belangrikste? Gister of môre? Wat van die waarde van lewe? Dit is en bly die grootste wonderwerk en moet ten alle koste bewaar word. Suid-Afrika- hierin faal jy liederlik. Die agenda verras my altyd oor ons verlede en die verskille tussen wit en swart. Die sonde van lewensverlies in ons land word afgemaak tot nuus in ‘n koerant en so sommer terloops. Wat jy saai sal jy maai… Die “nuwe “ Suid-Afrika moet agslaan hierop… Apartheid is verby… In hierdie oomblik vleg jy jou eie hangtou met hoe dinge nou aangaan. Onthou een waarheid: Geen regering het die finale sê nie… maar wel God! Hy regeer en ek dra my volk op aan Hom elke dag… Wie aanhou terugkyk gaan in ‘n gat val vorentoe… Moet nooit jou skaam vir wat God jou gemaak het nie- jy het ‘n wonderlike doel!!!

Gerhard ·

As mens kyk na die verlede moet jy tog daaruit leer en ongelukkig beteken dit dat die wat fouteer daaraan herhinder gaan word. Ons hoor selfs vandag van die veraaiers in die ABO. Dit is bloot deel van die geskiedenis. Dit is ook nodig dat dit bespreek word SODAT daaruit geleer kan word. Ongelukkig is dit ongemaklik vir die wat verkeerd gehandel het. Jy se die wereld sou nooit ‘n NEE stem aanvaar het nie, beteken dit dat jy van ‘n afgrond moet afspring omdat die wereld nie gaan aanvaar as jy dit nie doen nie. Die Afrikaners se geskiedenis was nie een van waar die probleem eweskielik kop uitgesteek het toe De Klerk aan bewind gekom het nie, dit was ook nie een waar daar toe met wat die Engelse sal noem “a knee jerk reaction” gereageer moes word nie.

Merkur ·

Om mense aanhoudend aan hulle foute te herinner is eiegeregtig en kontraproduktief.

Gerhard ·

Merkur my persoonlike siening is dat dit eerder gaan oor die erkenning van die fout. Sonder dit kan daar nie aanbeweeg word nie. Jy kan tog nie ‘n fout regmaak as jy nie eers erken dit is gemaak nie. Kyk maar na die kommentaar en jy sal sien daar is nog baie sulkes. Verder kan ek ook nie die wat wel voel hulle moet mense tot verantwoording roep blameer nie. Hulle het immers rede om ongelukkig te wees. Al is dit nie altyd produktief om mense teveel te herinder nie.

Merkur ·

Gerhard, natuurlik moet die ja-stem as fout erken word om daaruit te leer.
En ek verstaan dat die nee-stemmers ´n sterk gevoel van frustrasie en woede moet hê. Dat die ja stem ´n geweldige fout was met ´n verreikende en amper apokaliptiese gevolg, ontken ek nie en is ek self spyt oor.

Dit is duidelik dat hierdie gedeelte van ons geskiedenis nog verwerk moet word.

Lize Freislich ·

Ek’s trots Afrikaans en niks óf niemand stop my om Afrikaans orals te praat nie. Ek sal met mense uit hoflikheid in ander tale praat.
My kinders is ook trots Afrikaans en ons almal loop gelukkig en met vrymoedigheid oral in Suid-Afrika rond
Ek het vriende en vriendinne van alle rasse en hulle praat gewoonlik Afrikaans met my. Hulle leer my ook Sotho en Zulu. Hulle Afrikaans is soms beter as myne.
Ek reis baie: in Suid-Afrika en in die buiteland. Ek ontmoet oral mense van alle kleure en kulture wat Afrikaans praat en Suid-Afrika bewonder. As ek weer in Suid-Afrika kom, is ek altyd só bly, dat ek die eerste doeane beampte wil soen. Ek sê dit gewoonlik vir hulle (waarop hulle dan hartlik lag en my terugverwelkom – soms in Afrikaans!)

Chantelle ·

n Minderheid is ons dalk in ons eie land soos die Joodse nasies. Ons as Afrikaanse nasie moet juis na die Jode kyk en leer uit hoe hulle hulle idrntiteit beskerm en behou. Solank daar n wil is is daar n weg.
Ek is met n Engelsman getroud maar my kinders gaan almal steeds na Afrikaanse skole toe waar Godsdiens beoefen word. Wat maak dit saak as die besigheid wereld Engels is. En waarom kan meeste van ons en ons kinders nie meer n swart taal praat nie? Altwee my oupas en groot ouers kon met hulle werkers in Sotho of Tswana praat. Die taal maak nie die mens nie dis die kultuur. Afrikaans is n kultuur meer as net n taal en die kultuur moet van ouer na kind oorgedra word. Die Joodse vakansie dae is nie Publieke vakansie dae nie maar hulle neem betaalde verlof en vier dit met trots. Ons moet ophou kla oor wat weg geneem is en word en fokus op die voortbou en steun van ons taal en kultuur.
Ondersteun FAK, ATKV , Solidariteit en organisasies wat n verskil wil maak.
Hou op pm op die kantlyn te staan en te kla. Raak betrokke in die Afrikaanse gemeenskap en maak n verskil.

Casper Labuschagne ·

René, ons ondervind almal hierdie kognitiewe dissonansie waar die son eensklaps opgekom het oor ‘n land wat hoegenaamd nie ons geboorteland is nie, waar ons nou veragtelike buitestaanders is. Ek kan onbepaald uitbrei op die aspekte hierbo, hoe ons die talente en vermoë het om reg te maak wat in die land gebroke is, maar ons mag nie; hoe, sodra ons saamstaan, ‘n verskil maak, uitblink; vir ons regte durf veg, of bloot ons eie omstandighede verbeter, dan word ons uitgekryt, beskuldig en verag want ons is …

Ek wens ek het die antwoorde hierop gehad want ek het nie. Maar die oplossing lê hierin, in Afrika geld net respek, diegene wat oorgee word verag en sal wegval. Gevolglik is ons enigste pad vorentoe om te stry en verbete te baklei vir elke sentimeter wat ons bestaansreg is.

Merkur ·

Om mense aanhoudend aan hulle foute te herinner is eiegeregtig en kontra produktief.

Andrea ·

Ek stem met jou saam. Ek dink almal besef dit al lankal. Maar wat nou? Hoe skep ons nou n beter situasie vir ons en ons kinders en hulle kinders? Ja jy kan jou ma, pa en oupa en almal wat stemgeregtig was gaan vra, maar wat help dit jou nou? Kom ons bedink eerder planne vir die toekoms as om heeltyd op die fout van die ja-stem te hamer. Dit klink te veel soos mense wat apartheid die skuld vir alles gee…

Gerhard ·

Daar is ook natuurlik die die feit dat die wat ja gestem het baie luidkeels die res as dom en onnosel afgemaak het en sommige mense baie bitter gemaak het. Ek wil amper se dit is terugbetaling dat hulle nou die ja-stemmers openlik as dom en onnosel afmaak. Weereens nie produktief nie, maar dit is wat gebeur.

Merkur ·

Andrea, jy is reg dat ons vir die toekoms planne moet maak. Met gelyktydige ontleding van die geskiedenis soos Johan met nie net negatiewe maar ook die positiewe aspekte.

´n Bewegende skrywe van René du Preez.

Johan ·

Ongelukkig is baie mense onkundig aangaande ons geskiedenis. Meeste van al die goed waarvan die Afrikaner beskuldig word het sy oorsprong by die engelse. Apartheid kom van die Segregasie wet wat die engelse in 1834 op ons wetboeke geplaas het. Kolonisasie kom van die engelse af. Tydens die Anglo Boereoorlog was daar 49 blanket konsentrasiekampe vir vrouens en kinders. Wat ons nooit van geleer het nie was dat daar 67 konsentrasie kampe vir swartes was waar die plaaswerkers geinterneer was. Die swart mense besef nie dat die wonderlike engelse wat hulle so aanhang vir baie meer wandade teenoor swartes verantwoordelik was as die Afrikaner wat hulle vir alles blameer. Onthou Suid- Afrika was n britse kolonie van 1806 tot 1961. Die Nasionale Party het die land net van 1961 tot 1994 regeer. Baie van wat Hier gebeur en aangegaan het, het ons van die koloniale ere ge-erf. DF Malan het die term Apartheid geskep en Dr Verkeerd het dit ongelukkig vorder gebruik, maar die wetgewing was reeds van 1834 op die wetboeke, dit was nie n nuwe wet nie. Mense ons as Afrikaner hoef nie sleg te voel oor ons verlede nie, inteendeel kan ons met reg trots wees op ons taal en verlede. Die brittle het egter baie waarvoor hulle sal moet verantwoording doen.

Reyna-Marie ·

Pragtig saamgestel Rene’. Trane stort oor my wange vir ons mense wat verneder word vir ‘n tyd in ons geskiedenis wat nou verby is. Ek bid in die oggend en in die aand vir sterk Boere harte, dat ons ‘n hardkoppige trots sal toepas wat niemand sal kan wegskeur nie. Die rooigrond van Afrika wat so lekker ruik na ‘n storm is ook vir ons bedoel. Ons voorouers het met bloed en sweet daarvoor betaal en ons sal ‘n plek moet verg waar ons trots AFRIKAANS en WIT kan wees. Die meerderheid se afguns sal dit nie vir ons gun nie. Nie in die volgende 200 jaar nie. Kyk net na Amerika, hulle kla nou nog na ‘n 148 jaar van regstellende aksie waar alles vir hulle verniet gegee word op ‘n silver skinkbord. Ek is moeg vir skaam voel, ek is moeg vir bang voel. Ek weet daar is goed in my hart terwyl ek saam met die Here wandel. Ek ken my geskiedenis en besef voute was gemaak. Hoe meer haat ek verduur as ‘n Afrikaner hoe trotser voel my siel, want ons is ‘n besonderse volk wat jy net kan kry aan die suid punt van Afrika. Ons kan self besluit hoe ons toekoms gaan lyk. Hierdie regering sal nie vir ons ‘n plek in die son laat geskiet nie. As jy nugter daarna kyk lewe ons die selfde stories uit as ons Grootouers, net met meer hulpbronne.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.