Aflegging: 9 dinge om te doen

(Foto: Christin Hume/Unsplash.)

Suid-Afrika se werkloosheidsyfer staan tans op 30,1% wat beteken meer as sewe miljoen mense is op soek na werk of sukkel om ʼn werk te kry. Die tesourie skat ook dat soveel as ʼn verdere vyf miljoen Suid-Afrikaners hulle werk mag verloor.

Aflegging bly ʼn gevreesde woord. Dit is ʼn tragiese gevolg van moeilike ekonomiese omstandighede en ʼn pynlike werklikheid as dit jou tref, maar jy kan dit oorleef.

Sherwin Govender, sakeontwikkelingbestuurder, en Colleen Taljaard, menslike hulpbronnebestuurder, albei by Glacier deur Sanlam, het die volgende nege wenke vir mense wat deur aflegging in die gesig gestaar word om hulle te help om finansieel te oorleef.

  1. Praat met jou gesin

Van die moeilikste gesprekke wat jy sal hê, is om jou aflegging met jou gesin te bespreek. Dit kan voel of jy hulle in die steek gelaat het of jy kan moontlik skaam voel oor die situasie.

Onthou: Om afgedank te word is nie jou skuld nie, en dit is ʼn werklikheid wat duisende ander hardwerkende Suid-Afrikaners ook ervaar.

Vertrou jou gesin, wees eerlik en praat openlik. Laat hulle toe om hierdie reis saam met jou te stap en jou te ondersteun. As jy depressief of angstig voel kan jy ʼn gratis beradingsdiens soos LifeLine of Famsa skakel.

  1. Moenie herontplooiing afskiet nie

Oorweeg al jou opsies tydens die afleggingsproses en bespreek die moontlikheid om in ʼn ander departement ontplooi te word, as die maatskappy of organisasie dit kan aanbied. Wees oopkop oor ʼn nuwe rol, selfs as dit ʼn loonverlaging insluit, net solank dit jou toelaat om jou werk in hierdie uitdagende tye te behou.

  1. Berei jou CV voor

Bring jou CV op datum en begin die dokument met jou jongste werkservaring. Hou dit kort; die ideaal is ʼn maksimum van twee bladsye en maak seker jou CV is ook digitaal opgedateer.

Ontgin die moontlikhede wat LinkedIn jou bied. Dit is ʼn belangrike platform in die werwingswêreld van vandag. Poste word nie net hier geadverteer nie, maar werwers kyk graag na die platform wanneer hulle nuwe talent soek.

Wees egter maar altyd versigtig vir swendelaars, veral wanneer jy werk in die buiteland aangebied word. Moenie enige inligting soos bankrekeninge of ʼn afskrif van jou ID oorhandig voordat jy heeltemal seker is die werk bestaan, en die geleentheid wat jou aangebied word, is voorgelê op ʼn ondertekende kontrak deur ʼn regte persoon wat werklik vir die maatskappy werk nie.

  1. Hou jouself besig en haal jou agterstallige administrasie in

Dit is ongelukkig nie ʼn vinnige proses om ʼn werk te kry nie. Verskerp jou vaardighede of leer intussen nuwes aan. Kort aanlyn kursusse in jou vakgebied is beslis iets wat jy kan oorweeg. Dit is ook nou die ideale tyd om jou administrasie in te haal.

Registreer so gou moontlik by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) as jou werkgewer tot die fonds bygedra het. Praat ook dadelik met jou versekeraar, bank en krediteure as jy voorsien dat dit moeilik gaan wees om jou betalings na te kom. Dit is nóg ʼn moeilike gesprek maar jy moet jou situasie aan die mense verduidelik.

  1. Skep jou eie werk

Terwyl jy op soek is na iets permanent, is vryskutwerk beslis iets wat jy moet oorweeg. Vryskut- of tydelike werk bewys aan ʼn voornemende werkgewer dat jy nie net vir ʼn lang tyd gesit en niks doen het nie, en dat jy bereid was om alles te doen wat nodig was om aan die werk en relevant te bly.

  1. Navorsing

Skryf die spesifikasies van jou droomwerk neer en begin dan om die nodige navorsing te doen van wat dit sal verg om die werk te laat realiseer.

Voor jy vir ʼn onderhoud gaan moet jy die onderneming leer ken wat jou vir die onderhoud genooi het. Doen jou huiswerk en daag voorbereid op. Jou potensiële nuwe werknemers beskou die vlak van jou voorbereiding as direk in verhouding met hoe graag jy die werk wil hê. Jou toekoms is grootliks in jou eie hande.

Volg gerus die ondernemings waarvoor jy graag sal wil werk aanlyn. Dikwels plaas hierdie ondernemings hulle poste aanlyn of bied hulle volgelinge ʼn geleentheid om as voornemende kandidate te registreer en op die wyse kennisgewings oor beskikbare poste te ontvang.

  1. Besnoei jou huishoudelike begroting

Jou uitgawes gaan ongelukkig bly staan terwyl jou maandelikse salaris lankal weggekwyn het. Met die verwagting dat ons ekonomie in 2020 met 7,2% gaan krimp is dit dalk nou die tyd om jou eie zero-gebaseerde begrotingsbeginsel te volg.

Dit is nou die tyd om jou maandelikse huishoudelike begroting met ʼn vergrootglas te fynkam. Wees streng en klinies met die onvermybare uitgawes, soos die terugbetaling van jou verband of kinders se skoolfooie, en skort die luukshede op tot daar weer ʼn gereelde inkomste is.

  1. Stel ʼn finansiële beplanner aan

Dit is waarlik die beste tyd om ʼn finansiële beplanner te kry. Daar is ʼn paar belangrike finansiële besluit wat jy nou sal moet neem en ʼn gekwalifiseerde finansiële beplanner kan jou help om die regte besluit met selfvertroue te neem.

As jy byvoorbeeld vir ʼn paar jaar by dieselfde onderneming gewerk het, het jy waarskynlik ʼn aansienlike pensioenfonds opgebou. Daar is ʼn paar beleggingsbesluite wat jy nou sal moet neem oor die toekoms van dié geld, en jy wil geen foute maak nie.

Advies van ʼn finansiële beplanner wat ervaring het van afleggings sal van onskatbare waarde wees.

Indien jy ʼn mediese fonds by die onderneming gehad het, sal die beplanner jou ook kan help besluit wat om te doen as die voordeel tot ʼn einde kom

  1. Moenie aan jou aftreefonds raak nie

Dit mag dalk na ʼn vinnige en maklike uitkoms lyk, maar as jy jou aftreefonds ten volle aan jou laat uitbetaal, kan dit een van die skadelikste besluite vir jou finansies wees.

Jou aftreespaargeld is jou geld, maar dit is nie vir vandag nie. Moenie vergeet waarom jy die geld gespaar het nie.

As jy die hele fonds aan jou laat uitbetaal, beroof jy jouself op die ouderdom van 60 – dit is so eenvoudig.

Voordat jy selfs net ʼn deel van die fonds laat uitbetaal, moet jy eers uitvind hoeveel belasting jy op die geld sal moet betaal. Dit sal genoeg rede wees om jou aftreefonds weer te laat belê.

“Tydens hierdie ongelooflike spanningsvolle tyd is dit noodsaaklik om jouself besig te hou en jou oë op die toekoms te hou,” het Govender gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Duck ·

En belangrik, moet nie skuld maak nie, skuld wat gemaak is soos motor en / of huis moet gedelg word indien moontlik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.