Geldwenke vir die Desembervakansie

Desember is die ideale tyd om pret te hê, te ontspan en tyd deur te bring met jou geliefdes. Almal wil ontlaai, afskakel en net ’n lekker tyd geniet. Hier is egter ’n paar nuttige geldwenke om te onthou.

Ongelukkig eis die dood steeds baie lewens tydens die feestyd. Dit is beslis nie iets waaraan ’n mens wil dink nie, maar dit is beter om voorbereid te wees. Maak dus seker dat jou lewensversekering, begrafnisdekking en testament mooi in plek en op datum is sodat jy nie chaos agterlaat indien iets wel gebeur nie.

Misdaad, huisbrake en motorongelukke styg geweldig tydens die Desembervakansie. Maak seker jou huisinhoud- en motorversekering is op datum. Dit is ook belangrik dat jou motor se opspoortoestel, asook jou huis se alarm, elektriese heining en diefwering in werkende toestand is.

Indien jy so gelukkig is om te gaan reis die vakansie, neem maar liewer reisversekering uit en sorg dat dit wel aan al jou behoeftes voldoen.

Jy gaan geld bestee tydens die feestyd, maar bly binne jou begroting. Alles is duurder in Desember en mense raak dikwels roekeloos met hul besteding. Onthou, Januarie lê voor en dis altyd ’n lang en rowwe maand met baie uitgawes.

Ronel Jooste (Foto: Verskaf)

Hier is ’n paar wenke om in die Desembervakansie geld te spaar:

  • Dit is nie nodig om altyd duur geskenke te koop nie. Die meeste volwassenes en kinders waardeer tyd en aandag meer as duur geskenke. Gee jou geliefdes die waardevolle geskenk van jou onverdeelde tyd en aandag die vakansie.
  • Vra jou familie en vriende om ’n wenslysie op te stel. Bestee liewer jou geld aan geskenke wat die ontvanger sal waardeer as om geld te mors op geskenke wat die ontvanger nie gaan gebruik of waardeer nie.
  • Inkopies tydens die feestyd is onvermydelik. Beplan jou inkopies lank vooruit en probeer eerder vroeër as later inkopies doen. Moenie onnodig in die winkels ronddwaal nie. Maak ’n inkopielys en hou daarby. Kyk uit vir winskopies, maar koop net items wat jy nodig het.
  • Moenie ’n fortuin aan dekor en versierings bestee wat gou weer vergeet gaan word nie. Maak gebruik van vrugteruikers wat ook gebruik kan word vir nagereg. Gebruik blomme uit jou tuin om iets te skep wat kostedoeltreffend, uniek en spesiaal is.
  • Dit is makliker om geld te spaar deur tuis te bly. Hou ’n fliekaand tuis met springmielies en melkskommels. Hou ’n kookkompetisie of gaan haal daardie vergete bordspeletjies uit die kas.
  • Wanneer jy onthaal, moenie al die koste alleen dra nie. Vra familie en vriende om hul gunstelinggeregte saam te bring en smul saam aan almal se heerlike geregte.
  • Aktiwiteite hoef nie duur te wees om baie pret te hê nie. Gaan ry bergfiets in talle van die bergfietsparke in ons land of gaan hou piekniek in ons mooi Botaniese Tuine om ons heerlike sonskynweer ten volle te geniet.
  • Desember is ook die tyd van baie, en ongesond, eet. Vat die hele gesin om met die honde te gaan stap of te gaan draf. Dit hou die kinders besig en sodoende kan jy van die oortollige vetrolletjies ontslae raak.
  • Leer jou kinders die waarde van herinneringe skep.

Jy het hard gewerk die hele jaar en dis nodig dat jy die tyd geniet en geld afstaan aan jouself en jou gesin, maar neem steeds slim geldbesluite. Kyk altyd uit vir geleenthede waar jy kan spaar, selfs al is dit net ’n klein bedrag. Elke bietjie help en dit vermeerder gou. So maak jy ook seker jy beland nie Januarie in die verknorsing nie. Mag jy en jou gesin ’n wonderlike feestyd beleef!

Geskryf deur: Ronel Jooste, CA(SA), Finansiële Konsultant, Spreker en Outeur. Ronel en Helpende Hand pak in 2019 ’n veldtog aan wat Suid-Afrikaners help met begrotings en finansiële kundigheid. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.