Logista gerat vir die toekoms

Jacques Coetzee, besturende direkteur van Logista, en Heinrich Regenass, direkteur, die bestuurspan by Logista is gerat vir die veranderinge wat die vierde industriele revolusie meebring. (Foto: Jeanie de Klerk/Verskaf.)

Die vierde industriële revolusie (4IR) bring baie veranderinge mee. Sommige bedrywe soos die finansiële bedryf, kan heeltemal vernuwe word en baie beroepe wat ons vandag nog ken, sal wegval terwyl nuwe geleenthede weer geskep sal word.

Die bestuur van Logista, ’n suksesvolle ouditeursfirma in Pretoria-Oos, is egter nie bekommerd oor die veranderinge wat dié nuwe era inhou nie.

“Ons maak gereed vir die behoeftes van die volgende generasie,” sê Heinrich Regenass. Hy is tans die besturende direkteur van Logista, maar gee binnekort die leisels oor aan Jacques Coetzee wat tans een van die direkteure is.

“Dit is tyd om plek te maak vir iemand met vars nuwe idees.”

Regenass meen dié besluit is nie ligtelik gemaak nie.

“Ons is reeds vir meer as twee jaar besig met opvolgbeplanning en het vir Jacques stelselmatig voorberei om sy pos vol te staan as nuwe besturende direkteur.” Hy glo die besluit demonstreer die firma se toegewydheid aan innovasie en verandering. “Ons wil uiteindelik ’n firma ontwikkel wat steeds in die toekoms relevant is, daarom is ’n goeie opvolgplan deel van ons strategie om as firma volhoubaar te bly.”

Heinrich Regenass, voormalige bestuurende direkteur van Logista is reg om bietjie meer gholf te speel en fiets te ry, alhoewel hy steeds nou betrokke by die firma gaan wees. (Foto: Jeanie de Klerk/Verskaf.)

Coetzee prys Regenass vir sy bydrae tot die firma se sukses.

“Hy is ’n baie goeie leier en het die firma reeds so geposisioneer dat ons die besigheid, gegrond op integriteit en vertroue, verder kan bou.”

Regenass gaan gelukkig nie die firma verlaat nie, en bly steeds aan as ’n mentor vir Coetzee.

“Ek sal seker so ’n bietjie meer gholf speel en fietsry, maar ek wil graag steeds deel wees van die firma en Coetzee verder bystaan.” Hy sal ook nog die bestaande lojale kliënte soos altyd met goeie raad bedien.

Regenass en Coetzee is dit eens: hulle is nie bang vir die uitdagings wat die vierde revolusie inhou nie.

“Die sleutel tot sukses is die vlak van aanpasbaarheid wat ’n besigheid kan handhaaf,” sê Regenass. “Ons wil deel wees van die era waar tegnologie ’n groter rol speel. Ek glo mense se vaardighede gaan altyd nodig wees om stelsels doeltreffend te bestuur – dit is die insameling van inligting en bestuur van data wat belangriker gaan word, maar syfers en data beteken niks as ’n kundige dit nie kan ontleed nie.”

Regenass glo Coetzee se internasionale ondervinding in die bedryf sal handig te pas kom in sy nuwe pos.

“Dit is vir ons belangrik aangesien Logista reeds ’n lid is van BKR International, ’n wêreldwye organisasie van onafhanklike rekeningkundiges en besigheidsadviseurs. Ons wil ook graag ons mark verder uitbrei en ons vlerke sprei.”

Die firma is bekend vir die persoonlike aandag wat hul kliënte ontvang en die hoë gehalte professionele dienste wat hulle aanbied. Logista het oor die jare ’n aanpasbare struktuur van gespesialiseerde kennis saamgestel wat dit maklik maak vir hulle om kliënte se spesifieke behoeftes te vervul.

Die organisasie het in twee dekades soveel gegroei dat hulle tans een van die markleiers in die bedryf is en hulle spog met ʼn lang lys van tevrede kliënte in verskeie sektore. Logista se bestuursmodel bestaan uit sewe direkteure wat deur sowat sestig tegniese, en administratiewe personeel ondersteun word.

Jacques Coetzee, nuwe besturende direkteur van Logista, sien uit daarna om die firma na nuwe hoogtes te neem. (Foto: Jeanie de Klerk/Verskaf.)

Coetzee sien uit daarna om Regenass se skoene vol te staan.

“Ek wil graag voortbou op dit wat hy reeds tot stand gebring het. Ons wil graag markleiers bly en steeds aanpas by die besigheidswêreld wat so vinnig verander. Met al die nuwe verwikkelinge kom nuwe uitdagings, maar ook nuwe geleenthede. Ons is voortdurend op soek na maniere om die uitdagings in geleenthede te omskep. Ek is bly om steeds te kan leer by een van die bestes. Iemand wat uit die boks kan dink en nie bang is om te innoveer nie.”

Coetzee is oortuig daarvan dat Logista vir die toekoms gerat is. “Ons gaan nog lank hier wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.