Mediese fondse sterker as voor pandemie

(Argieffoto: pixabay)

Mediese fondse in Suid-Afrika het verlede jaar Covid-19-verwante eise van R10,1 miljard gehad. Nietemin was mediese fondse se reserwes aan die begin van vanjaar amper 20 keer meer as dieselfde tyd verlede jaar.

Dit is hoofsaaklik omdat minder mense in 2020 algemene praktisyns, tandartse en spesialiste besoek het.

Die Raad op Mediese Skemas (RMS) het pas sy bedryfsverslag vir 2020/’21 bekend gemaak en die uitwerking van die pandemie op mediese fondse word daarin uitgestippel.

Van die bevindings sluit in dat 422 894 lede van mediese fondse verlede jaar Covid-19 opgedoen het. Altesaam 393 585 van hulle het herstel en die sterftekoers was 3,02%.

Die syfers is gegrond op data van 73 mediese fondse wat 99,84% van die bedryf verteenwoordig en sluit 8,8 miljoen begunstigdes in.

Gebruik van gesondheidsorgdienste

Luidens die verslag het die pandemie tot ʼn daling in uitgawes en die gebruik van gesondheidsorgdienste gelei, hoofsaaklik omdat vrywillige prosedures en dienste gekanselleer is, asook weens die verskillende vlakke van afsondering.

Besteding aan gesondheidsorgvoordele het verlede jaar tot R178,04 miljard afgeneem, ʼn daling van 3,81% in vergelyking met ʼn jaar tevore (R185,1 miljard).

Besteding aan hospitale het tussen 2019 en verlede jaar met 8,38% gedaal en het verlede jaar op R62,7 miljard gestaan. Die gemiddelde bedrag per begunstigde wat aan hospitaaldienste betaal is, het ook met 8,45% afgeneem en het in 2020 op R7 052 gestaan. Meer as 92% van dié besteding het na private hospitale gegaan.

Luidens die verslag is meer geld egter bestee aan hospitalisering en die gemiddelde bedrag het met 13,7% toegeneem.

Daar was verlede jaar minder doktersbesoeke en die bedrag wat algemene praktisyns by mediese fondse geëis het, was meer as 10% minder as ʼn jaar tevore. Dit het gedaal van R68,4 miljard in 2019 tot R62,7 miljard verlede jaar.

Daar was ook ʼn algehele afname in besoeke aan spesialiste, hospitale, tandartse en tandartsspesialiste.

Meer keisersneë is verlede jaar gedoen en dit het met 7,3% toegeneem van 651 in 2019 tot 699 verlede jaar.

Patologiedienste was – soos verwag kan word – die enigste spesialisdiens wat ʼn toename in die tydperk onder hersiening ondervind het. Mediese fonds- eise van R11,6 miljard is verlede jaar vir dié dienste betaal. Dit is ʼn styging van meer as 10% sedert die vorige jaar.

Medisyne wat deur aptekers en ander diensverskaffers geresepteer word (dit sluit hospitale uit), was ook meer en het ʼn toename van 3,73% getoon. Besteding het tot R29,45 miljard gestyg van die R28,3 miljard wat in 2019 bestee is.

Uitwerking op reserwes

Volgens die RMS het mediese fondse se saamgestelde surplus verlede jaar op R19,93 miljard gestaan. Dit is aansienlik beter as die net meer as R1 miljard wat in 2019 aangeteken is. Die verbeterde prestasie word toegeskryf aan laer gebruik van voordele tydens die pandemie.

Lede van mediese fondse soek meer

Elias Mabena, hoofbeampte van die Health Squared-mediese fonds, sê buigsaamheid en integrasie is deurslaggewend vir mediese fonds- begunstigdes om bykomende waarde uit hul mediese skemas te kry.

“Dit vereis dat mediese fondse ʼn skuif maak in die manier hoe hulle by hul lede se lewens, behoeftes en begrotings aanpas.”

Mabena sê hulle het die afgelope ruk ook ʼn al hoe groter behoefte aan meer voordele vir gewone doktersbesoeke ondervind. Daar is ook ʼn behoefte dat hulp vir geestesgesondheid net so toeganklik as hulp vir enige ander mediese toestand gemaak moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Baardman ·

Nou verlaag ons premies ook asb dat ons ook weer kan asemhaal

Hendrik ·

Ons word lekker geslaan met die hoer betalings en elke jaar moet ek ‘n laer pakket uitneem om te oorleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.