Meer vroueleiers klim leer, maar vat weer pad

(Foto: iStock)

“Ons sien belowende veranderings in die aantal vroulike leiers in Suid-Afrika en internasionaal, maar terselfdertyd vat vroue in senior rolle nét so vinnig weer die pad.” Só sê Donna Rachelson, medestigter van IgniteHer, ʼn vroueleierskapontwikkelingsbeweging wat daarop fokus om vroue te bemagtig en hul leierskapvermoë te ontsluit.

Luidens die 2022 Women in Business-verslag wat deur Grant Thornton gepubliseer is, is daar ʼn toename in vroue in senior bestuursrolle reg oor die wêreld. Die verslag verskaf belangrike insigte van 10 000 organisatoriese leiers in 29 ekonomieë.

Die verslag toon dat, sedert die Covid-19-pandemie sy kruin bereik het, die ontwrigting van werkplekpraktyke en -regulasies vroulike werknemers en bestuurders bevoordeel het, wat dit vir hulle makliker maak om na leierskaprolle oor te skakel.

Gebaseer op Grant Thornton se bevindings, het die persentasie vroue in senior bestuursrolle tot 32% in 2022 toegeneem. Afrika was die voorloper en het met meer vroue in leiersposisies in 2022 (40%) gespog. Suid-Afrika was geen uitsondering nie, met ʼn merkbare toename in vroue in senior rolle.

Waarom vat dié vroue die pad?

Donna Rachelson (Foto: Verskaf)

“Net soos al meer vroue die leierskapleer klim, net so merkbaar is die wêreldwye toename in vroue wat hul senior bestuurs- en leierskaprolle verlaat,” sê Rachelson. Die verskynsel, wat “The Great Breakup” genoem word, is tekenend van die vooroordeel teenoor werkende vroue wat steeds gedy, meen sy.

“Hoewel dit makliker as voorheen is vir vroue om na leierskaprolle oor te skakel, het hulle steeds met ʼn verskeidenheid uitdagings te kampe wat dit moeilik maak om in dié posisies te bly.”

Volgens die 2022 Women in the Workplace Report wat deur McKinsey vrygestel is, is daar verskeie redes hiervoor, insluitend geleenthede, erkenning, mikroaggressie en kultuur.

McKinsey het bevind dat vir elke 100 mans wat van intreevlakposisies tot bestuursrolle bevorder word, slegs 87 vroue bevorder word. Gevolglik is daar steeds baie minder vroue as mans in bestuursposisies wat na meer senior poste bevorder kan word. “Die bewyse is duidelik as daar na Fortune 500-maatskappye gekyk word. Vroue verteenwoordig slegs 8% van uitvoerende topposte in vergelyking met 91% manlike uitvoerende hoofde,” sê Rachelson.

Waardevolle welstandbewerkers

“Vroueleiers doen dikwels meer moeite as hul manlike eweknieë wat die bevordering van diversiteit, gelykheid en die welstand van hul spanne en werknemers betref. Dit werk beter finansiële prestasie en resultate in die hand, maar hierdie pogings word nie altyd erken nie.

“Gevolglik is vroueleiers dikwels oorwerk en meer geneig om uitbranding en uitputting aan te meld. Dit ry enige verdere bevorderingsmoontlikhede in die wiele. Vroue is voorts meer geneig om vir bevordering oorgesien te word as gevolg van hul persoonlikheidseienskappe asook die feit dat hulle werknemer én ma is. Hulle is ook twee keer meer geneig om as ‘die junior’ beskou te word.”

Volgens Rachelson het baie organisasies ook nie die soort kultuur wat vroulike bestuurders en leiers aanloklik vind nie. “Vroue in bestuur en leierskap beskou inklusiwiteit en geestesgesondheid van groter waarde as hul manlike eweknieë en is daarom 1,5 keer meer geneig as mans om die tuig neer te lê as die werkplekkultuur nie diversiteit en werknemerwelstand voorop stel nie.

“Hibriede en buigsame werk bly ʼn deurslaggewende bepaler waarna vroulike leiers soek, omdat dit hulle in staat stel om ʼn beter werk-lewe-balans te handhaaf. Die vryheid van keuse tussen of kombinasie van tuiskantoor en maatskappykantoor, is hul voorkeur, en vroueleiers wat hierdie keuse kan uitoefen, rapporteer laer vlakke van stres en uitbranding en hoër werkplektevredenheidsvlakke.”

(Foto: iStock)

Vroue vuur prestasie en tevredenheid aan

Wanneer vroue in senior bestuurs- en leierskaprolle geplaas word, floreer maatskappye en hul werknemers, meen Rachelson. “Dit is nie nodig om hieroor te debatteer nie, want navorsing het dit keer op keer bewys. In ʼn studie wat deur die Harvard Business Review gedoen is, is bevind dat werknemers se werksbetrokkenheid, -tevredenheid en -prestasietellings aansienlik hoër was onder ʼn vroulike leier.

“Dit is nie ʼn kwessie van die een óf die ander nie, maar een van balans. Gelyke verteenwoordiging van manlike en vroulike leiers. Hoewel daar geen twyfel is dat groot treë reeds deur baie maatskappye geneem is, veral op middelbestuursvlak, om meer inklusiewe werkpraktyke en ruimte vir vroue in leierskaprolle te skep, bestaan struikelblokke tot sukses steeds. Dit blyk veral die geval te wees by groter korporatiewe instellings waar ʼn sekere manier van doen deur generasies oorgedra is.”

Volgens Rachelson moet organisasies ʼn daadwerklike poging aanwend om leierskap meer divers, inklusief en aanvaarbaar vir mans én vroue te maak.

(Foto: iStock)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vexed ·

Uit bittere ervaring kan ek getuig dat die artikel hoofsaaklik fiksie is.

Catantho ·

In watter opsig? Ek stem saam dat vrouens a.g.v. bestaande kultuurpraktyke teen gediskrimineer word…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.