Spira bult spiere as SA se Virgin Active-hoof

Jessica Spira neem van Oktober af die leisels oor as Virgin Active Suid-Afrika se nuwe besturende direkteur. (Foto verskaf)

Jessica Spira, ’n geoktrooieerde rekenmeester en senior beleggingsbankbestuurder, sal vanaf 1 Oktober vanjaar haar spiere bult as Virgin Active Suid-Afrika se nuwe besturende direkteur. Dit volg op die hakke van Dean Kowarski se aanstelling vroeër vanjaar as die uitvoerende groephoof van Virgin Active wêreldwyd.

Spira het meer as 22 jaar se ondervinding in strategiese sakeontwikkeling, verhoudingsbestuur en transaksies in die skuld- en aandelesektore, het Virgin Active gesê. Sy het in 2001 by Rand Merchant Bank (RMB) aangesluit en is tans hoof van dié bank se gesondheidsorg- en gasvryheidsektor.

“Met Jessica as besturende direkteur en ’n sterk span aan haar sy, sal Virgin Active Suid-Afrika in staat wees om munt te slaan uit die snelgroeiende gesondheid-, welstand- en fiksheidsmark. Virgin Active sal boonop splinternuwe en innoverende ervarings vir die Suid-Afrikaanse verbruiker kan ontsluit,” het Kowarski gesê.

Volgens Kowarski is daar ’n groeiende vraag na gemeenskapsgebaseerde oefening en begin aanlyn oefening, wat veral tydens die inperking soos ’n veldbrand versprei het toe gimnasiumdeure vir maande lank toe was, in gewildheid taan.

“Leierskap in die gimnasiumbedryf is tradisioneel deur mans oorheers, so Jessica se aanstelling is soos ’n vars bries. Jessica het baanbrekerswerk by RMB gedoen in die ontwikkeling van oplossings vir vroue in die finansiëledienstesektor en ons is opgewonde dat sy hierdie passie nou ook in ons bedryf kan inpomp.

“Sy is resultaatgedrewe, het ’n persoonlike passie vir gesondheid en welstand, en haar ervaring in die gesondheidsorg- en gasvryheidsbedryf sal tot groot voordeel van Virgin Active strek. Haar diepgaande kennis van die gesondheidsorgsektor sal ons nie net help om verder te groei as die voorste gimnasiumgroep in Suid-Afrika nie, maar ook om ’n innoverende leier in die breër welstandsruimte te word. Jessica se gasvryheidservaring sal voorts help om ons lede se algehele ervaring in ons 134 gimnasiums te verbeter,” het Kowarski gesê.

Virgin Active het met Kowarski se aanstelling ’n aansienlike kapitaalinspuiting ontvang. Brait en die Virgin Groep, die bestaande aandeelhouers van Virgin Active, het £20,2 miljoen (sowat R390 miljoen) ingestoot, terwyl sekere lede van die beleggerskonsortium in Real Foods altesaam £18,2 miljoen (meer as R350 miljoen) belê het, en Titan Premier Investments Limited, ’n beleggingsvoertuig van die sakemagnaat Christo Wiese, £50 miljoen (R968 miljoen) tot die maatskappy bygedra het, het Virgin Active in ’n verklaring gesê.

Virgin Active het ook aangekondig dat hy die voedselbates van The Real Foods Group, waaronder 204 Kauai-winkels, vir £28,6 miljoen (sowat R553 miljoen) bekom het. Hierdie verkryging is nog onderworpe aan regulatoriese goedkeuring. Indien dié transaksie goedgekeur word, sal Real Foods Group se voedselbates met Virgin Active gekombineer word om ’n welstandsgroep te skep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.