Video: Cotton On spog met nuwe Afrika-tuiste

Cotton On se pasgemaakte sentrale kantoor en verspreidingsentrum in Midrand, Johannesburg is amptelik geopen. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/ Maroela Media)

Die reis waarop kledingstukke gaan voordat hulle in ons kaste beland, is dikwels ʼn ver en ondeursigtige een.

Daarom het die internasionale klerewinkelgroep Cotton On se Afrika-been besluit om ʼn unieke blik op dié einste reis te gee tydens die amptelike opening van sy pasgemaakte sentrale kantoor en verspreidingsentrum in Midrand, Johannesburg.

Bouwerk aan dié groep se nuwe Afrika-tuiste ter waarde van R300 miljoen het in Januarie 2021 begin en volgens Phil Marais, hoof van aanbodkettingbestuur in Afrika en Brasilië, is die gebou se nuwe pakhuis gerat om 6 000 e-handel-bestellings en 200 000 kleinhandel-eenhede per dag te versprei.

Die gebou heet amptelik die Cotton On Group Africa Campus. (Foto: Verskaf)

Die gebou heet amptelik die Cotton On Group Africa Campus en is ʼn klipgooi van die Mall of Africa – wat een van die groep se vlagskipklerewinkels huisves. Die kantoor se bestuurspanlede besoek dié winkel elke Maandagoggend en hou ook hul weeklikse vergadering daar om in aanraking met hul kliënte en winkelpersoneel te bly.

Marais verduidelik dat die doelgeboude “kampus” ontwerp is om die pakhuis én hoofkantoor se funksies te kombineer en sodoende ook logistiek, werknemerswelstand, veiligheid en ʼn harmonieuse werksomgewing onder werknemers te prioritiseer.

Meer as 2,2 miljoen items word jaarliks vanaf die verspreidingsentrum na verbruikers in Afrika versprei. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/ Maroela Media)

Kantoor- én pakhuispersoneel geniet dus dieselfde geriewe en dienste, waaronder deurlopende internettoegang, ʼn modern ingerigte eetsaal en ontspanningsgebied, asook ʼn gimnasium met ʼn persoonlike afrigter.

Daar is ook oop werkruimtes by die geriewe beskikbaar om “ope gesprekke en samewerking” onder personeel aan te moedig. Elke handelsmerk, waaronder Cotton On, Cotton On Kids, Cotton On Body, Factorie en Typo, spog met sy eie “kamer” wat elkeen se unieke temas en teikenmarkte weerspieël.

Volhoubaarheid, ʼn verbintenis tot water-, plastiek- en afvalvermindering, die gebruik van herwonne materiale en verpakking, asook die opheffing van vroue in die werksplek is volgens Marais ook ʼn kerndeel van die maatskappy se sentrale doelwitte en word in die gebou weerspieël.

“Die kampus omsluit die maatskappy se verbintenis om ʼn positiewe verskil in mense se lewe asook in die omgewing te maak.”

Die perseel maak ook van gryswater en sonkrag gebruik en bevat hoofsaaklik inheemse plantegroei.

Natalie Wills, Suid-Afrikaanse bestuurder vir die Cotton On Group, voeg by dat die kampus juis ontwerp is met die maatskappy se “mense eerste”-kultuurbenadering in gedagte.

“Ons produkte is uiters spesiaal en so ook ons span. Ons pasgemaakte terrein is juis ook ontwerp om die bes moontlike ervaring vir ons kliënte te lewer en terselfdertyd vir ons span ʼn wonderlike plek te bied om te werk en floreer.”

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/ Maroela Media)

Die Cotton On Group is in 1991 deur die Australiër Nigel Austin gestig en het met een winkel in Geelong, Australië, begin. Austin se droom om die “Aussie-leefstyl” na die res van die wêreld te neem het vinnig vlamgevat en vandag spog die groep met agt handelsmerke, 1 400 winkels en 18 000 spanlede wat oor 22 lande versprei is.

Austin het ook die Afrika-groep via video tydens die bekendstelling gelukgewens en gesê hy sien daarna uit om te sien hoe hulle ʼn verskil in hul gemeenskappe en omgewing kan maak.

Kitsfeite:

  • Cotton On is reeds langer as tien jaar in Afrika bedrywig en het tans meer as 167 winkels oor die vasteland.
  • Meer as 2,2 miljoen items word jaarliks vanaf die verspreidingsentrum na verbruikers in Suid-Afrika, Botswana en Namibië versprei.
  • Junie en Julie is die winkelgroep se swakste verkoopsmaande, terwyl aankope in November en Desember byna verdriedubbel.
  • Meer as 100 vragmotorvragte se voorraad is van die maatskappy se vorige kantore in Pomonaweg in Kempton Park na die nuwe perseel in Midrand vervoer.

Kyk na Maroela Media se toer van die nuwe perseel hier:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.