Video: Jong sakevrou se stokperdjie word volwaardige onderneming

Mia Botha (24), eienaar van Miekeraai Modemal. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Mia Botha het nog altyd geglo dat alle vroue mooi moet kan lyk én voel sonder om hul bankrekening te knou.

Min het sy geweet dat oorbellemaak, iets wat sy in 2019 as onderwysstudent met R100 en ʼn pakkie krale begin doen het, in minder as vier jaar na ʼn volwaardige sakeonderneming sal groei en dat haar produkte op bekendes soos Marciel Hopkins en Nadia Beukes se ore sal pronk.

“Ek het gedink ek gaan eendag voor die swartbord staan en klas gee, nie die lint voor my eie winkel knip en mode deel van my loopbaan maak nie,” vertel sy oor haar onderneming, Miekeraai Modemal.

Hier kan elke vrou modieuse bykomstighede teen billike pryse vind.

Mia is in Pretoria gebore en getoë en het in 2016 aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria gematrikuleer. As dogtertjie het sy graag met haar ma se juwele, grimering en hoëhakskoene gespeel en nog altyd ʼn liefde vir voorkoms en mode gehad.

“Miekeraai” is ook een van die vele troetelnaampies was sy as dogtertjie gehad het en dit was ook die inspirasie vir haar handelsmerk.

“Ons het aanvanklik self oorbelle gemaak en later deur verskaffers begin aankoop. Alles was deur Instagram geadverteer en verkoop, maar daar was ʼn toenemende behoefte daaraan om die produkte eers in persoon te sien.”

Nes bekende entrepreneurs soos Steve Jobs, moes Mia ook aanvanklik haar ouers se motorhuis en later ʼn deel van hul leefarea gebruik om Miekeraai-produkte uit te stal. Haar produkte was ook eers op studente gemik, maar het vinnig vlamgevat onder jong werkendes.

“Mense het gebel en afsprake gemaak om sommer in middagete of tussen klasse bykomstighede te kom koop en ek het besef daar is ʼn beslis ʼn mark vir ʼn fisieke winkel met bekostigbare bykomstighede.”

Oorbelle het vinnig ook uitgebrei na ander juwele, handsakke en serpe en Mia het naweke by plaaslike markte begin uitstal. Dít alles terwyl sy haar onderwysgraad aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf het.

‘Miekeraai’ verwys na een van Mia se troetelname as kind. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Weens die Covid-19-pandemie in 2020 is haar drome vir ʼn winkel eers op ys geplaas, maar Miekeraai se aanlyn winkel het behoorlik gekook.

Volgens Mia het die pandemie en toename in aanlyn verkope ook daartoe gelei dat ander plaaslike klerehandelsmerke bykomstighede begin verkoop het.

“Kompetisie is nie ʼn slegte ding nie, maar dit was beslis ʼn struikelblok want ander, groter plaaslike klerehandelsmerke het ook bykomstighede verkoop en ek moes bybly. Ek glo wel dat kompetisie ʼn mens net moet aanvuur en dit het my gedwing om aanpasbaar te wees.”

Óók haar ouderdom het aanvanklik ʼn paar spoedhobbels veroorsaak.

“Ek was 20 jaar oud toe ek begin het, so ek weet baie mense het na my gekyk en gedink my besigheid is baie klein en gewonder wat daarvan kan word. Gelukkig het ek die fondasie gelê toe ek jonk was en vinnig geleer om mense verkeerd te probeer bewys.”

Haar ondersteuningsbasis is volgens Mia ʼn kerndeel van Miekeraai se suksesresep.

“My familie, verloofde en vriendekring het my van dag een af so openhartig ondersteun en nie geskroom om in te spring en te help pakkies opmaak of stalletjies beman nie. Hulle sê dit vat ʼn village om ʼn kind groot te maak en my besigheid is beslis soos my baba wat ek nie sonder my village kon oopmaak nie.”

Hoewel sy nou net 24 jaar oud is, het sy reeds verskeie prestasies op haar entrepreneuriese kerfstok.

Sy het in 2021 die AfriForum Sakenetwerk se Tinteltong Toekenning ingeoes vir haar bydrae tot die bevordering van Afrikaans in die sakewêreld. Sy is tans ook besig om haar vaardighede as voorkomskonsultant te slyp deur Aletté-Johanni Winckler se voorkomsskool.

“Aletté is beslis een van my rolmodelle en ʼn sakevrou wat my inspireer. Ek wil as voorkomskonsultant nie net bykomstighede aan vroue verkoop nie, maar uiteindelik ook vir hulle kan help om te wys watter die beste by hul persoonlike styl en voorkoms sal pas.”

Haar advies aan jong, en veral vroue entrepreneurs, is om nie in beperkings of omstandighede vas te staar as hul harte vir sake klop nie.

“Vrees en finansies is wat so baie mense terughou, maar mens moet êrens begin – al is dit op ʼn baie klein skaal en sonder ʼn groot finansiële inspuiting.”

Sy glo ook dat mens nie skaam moet wees om hulp te vra nie en konstant jouself moet probeer verbeter.

“Die tyd wat jy aan jou besigheid bestee het ’n groot invloed op jou sukses, daarom is dit belangrik om jou tyd oordeelkundig aan te wend. Prioritiseer en maak gebruik van kundiges om die fasette van jou besigheid te ondersteun waarby jy nie uitkom nie.”

Of haar pad haar eendag weer terug na die onderwys sal stuur, is sy onseker. Vir nou is dié jong entrepreneur daarop gefokus om haar sakeonderneming verder uit te bou.

“Dis natuurlik baie makliker en veiliger om vir ʼn vaste salaris te werk, maar daardie bevrediging wat ʼn mens kry as jy die vrugte van jou eie harde werk kan pluk, is onvergelykbaar. Ek dink nie ek sal dinge ooit anders kan doen nie.”

Kyk Maroela Media se onderhoud met Mia in die Miekeraai Modemal-winkel hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

As jy nie waag nie , wen jy nie. Voorspoed met die besigheid vorentoe. Alle sukses.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.