Verbruikersake: 2023 is hier en dis tyd om jou finansies in orde te kry

spaarvarkie-munte-geld

Foto: Skitterphoto/Pexels.com.

Verbruikers het in 2022 geleer hoe belangrik dit is om na jou finansies te kyk toe die pryse van kos en brandstof byna onbeheers gestyg het, wat inflasie ook laat toeneem het en die onvermydelike hoër rentekoerse veroorsaak het. Nou is dit ʼn nuwe jaar en dis tyd om ontslae te raak van die Nuwejaarsvoornemens waarby jy tog nie gaan hou nie en te sorg dat jou finansies reg is vir enigiets wat 2023 na jou kant toe gaan gooi. Ina Opperman het by kenners gaan hoor wat jy kan doen.

Verbruikers gaan in 2023 beslis versigtig met hul finansies moet werk. Hardnekkige inflasie en hoër rentekoerse wag, en nou gaan jou kragrekening ook nog met meer as 18% styg. Dit is duidelik tyd om jou finansiële doelwitte vir die jaar te stel en pragmaties te wees deur terug te keer na die grondslag van goeie finansiële bestuur vir jou huishouding.

Die kombinasie van hoër rentekoerse, kos- en elektrisiteitspryse beteken verbruikers gaan, om mee te begin, minder geld in hul beursies hê as wat hulle ʼn jaar gelede gehad het. As jy egter goeie en bereikbare finansiële doelwitte stel, sal jy in beheer wees van jou finansies in ʼn moeilike ekonomiese tydperk, meen Stian de Witt, hoof van finansiële beplanning by NMG Benefits.

“Jy kan nie die breër ekonomie beheer nie, maar wat jy wel kan doen is terugkeer na Finansies 101 deur ontslae te raak van jou skuld en sover jy kan so min as moontlik geld uit te gee. Selfs klein bedrae kan ʼn verskil maak aan jou finansiële en persoonlike welstand.

Stap 1: Trek ʼn begroting op

Alle finansiële doelwitte begin en eindig met ʼn begroting wat jy dikwels hersien. Jy betaal nou meer vir jou huislening, motorfinansiering, krag en ander skuld as ʼn jaar gelede. Daarom moet jy seker maak dat jy altyd weet hoeveel geld inkom en hoeveel uitgaan, en jou begroting daarby aanpas.

Stap 2: Verklaar skuld as die vyand

As jy skuld het, kos dit jou meer elke keer as die Reserwebank die rentekoers verhoog en daarom is dit belangrik om elke sent wat jy het te gebruik om skuld af te betaal deur te begin met die duurste skuld wat jy het. “Raak so gou as moontlik ontslae van ongesekureerde skuld, soos kredietkaarte en persoonlike lenings”, sê De Witt.

Stap 3: Spaar en spaar

Verskeie opnames het al gewys dat verbruikers gewoonlik net een maand weg is van bankrotskap en in ʼn veranderlike wêreld is dit belangrik om ʼn noodfonds te hê. De Witt sê jy moet spaar vir ʼn reëndag of ten minste ʼn kredietfasiliteit beskikbaar hê wat jy kan gebruik as ʼn laaste uitweg wanneer daar ʼn krisis is. De Witt beveel aan dat jy drie tot ses maande se salaris in jou noodfonds spaar of indien dit nie moontlik is nie, begin met R10 000 tot R15 000 in ʼn aparte spaarrekening. Jy sal baie beter slaap as jy ʼn noodfonds het.

Stap 4: Wees slim met belasting

Vra jou werkgewer om jou aftreefonds- en mediesefondsaftrekkings van jou salaris af te trek sodat jy belasting betaal op ʼn kleiner bedrag.

Stap 5: Kyk weer na jou beleggings

As jy beleggings het, is dit belangrik om hulle nou te hersien saam met jou finansiële raadgewer. Daar is altyd geleenthede vir slim beleggings wanneer markte so wisselvallig is. De Witt sê die ryk mense van 2027 word in die volgende jaar gemaak. Soos Warren Buffet sê: “Die rykes koop wanneer ander verkoop en verkoop wanneer ander mense koop”.

Residensiële eiendom is ʼn goeie belegging in 2023, aangesien die vraag na hierdie eiendomme styg wanneer rentekoerse styg. As jou finansies dit toelaat, is dit nou ʼn goeie tyd om ʼn deposito te betaal vir eiendom wat jy kan verhuur en te begin geld maak.

Gebruik die finansiële lesse van die afgelope paar jaar

“Die afgelope paar jaar was moeilik vir die meeste mense, maar ons kan nou die lesse wat ons geleer het gebruik in 2023 om seker te maak ons word nie weer uitgevang nie,” sê Brett Mackay, konsultant van 10X Investment.

Les 1: Berei voor vir korttermynkrisisse

Ook Mackay benadruk hoe belangrik dit is om voorsiening te maak vir ʼn reëndag met ʼn noodfonds. “As jou inkomste skielik gestaak of verminder word of indien jy skielik voor ʼn ernstige krisis te staan kom, sal dit jou baie help om genoeg geld te hê om dit die hoof te bied.”

Hy stel voor jy spaar jou geld vir ʼn noodfonds in ʼn Money Market Fund om seker te maak jy het maklik toegang daartoe, sodat jy nie nodig het om nog skuld te maak as die krisis jou tref nie.

“Wanneer dit sleg gaan, het bykomende skuld die teenoorgestelde uitwerking as om noodkontant beskikbaar te hê. Jy sal nie net die geld moet terugbetaal nie, maar waarskynlik ook hoë rente daarvoor betaal.”

Les 2: Dink langtermyn

Dit is egter ook belangrik om te dink aan die langtermyn. Mackay sê dit is ongelukkig waar dat beleggers waarskynlik die teenoorgestelde doen van koop wanneer pryse val: hulle verkoop, maar verkoop sluit jou verliese in en jy sal dit nie kan opmaak wanneer dinge weer beter gaan nie.

Hy waarsku dat jy nie jou onmiddellike behoeftes moet toelaat om jou oog van jou langtermyn-behoeftes te haal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.