Verbruikersake: Dis wat jy moet weet van voertuie se ballonbetalings

Argieffoto (Foto: Royalty-Free/Corbis)

Dit klink so maklik: jy koop ʼn nuwe motor, betaal bekostigbare maandelikse paaiemente en daar gaan jy met jou nuwe motor. Nee, dit is nie so maklik nie. Aan die einde van jou betalingstydperk wag daar ʼn ballon en dit is die res van die geld wat jy skuld. Verbruikers weet ongelukkig nie altyd waarvoor hulle hulself inlaat nie en Ina Opperman het gaan hoor wat WesBank sê oor ballonbetalings en voertuigfinansiering.

“Op die oog af lyk ballonbetalingstransaksies dalk na ʼn maklike manier om ʼn motor te kry wat jy eenvoudig nie kan bekostig nie. Jy neem basies ʼn bedrag verskuldig op die koopprys van ʼn motor en sit dit opsy en dit verlaag die maandelikse paaiemente omdat dit bereken word op ʼn kleiner aanvanklike bedrag wat aan die bank verskuldig is,” sê Lebogang Gaoaketse, WesBank se hoof van bemarking en kommunikasie.

Hy sê dit is egter belangrik om te onthou dat die bedrag wat aan die begin van die transaksie opsy gesit is, steeds die koper se verantwoordelikheid is en vereffen sal moet word.

Die ballon is ontwerp om die las van maandelikse uitgawes te verlig, maar die luukse van laer terugbetalings elke maand kom met baie verantwoordelikheid vir die koper. As dit korrek gebruik word, moet die geld wat op terugbetalings bespaar word, meer as die koste dek van ʼn lening wat nodig is om die enkelbedrag skuld aan die einde van ʼn ballontermyn te herfinansier.

“Eenvoudig gestel, moet kliënte daarna streef om die geld wat hulle elke maand spaar te hou om die uitstaande bedrag wat op ʼn voertuig verskuldig is makliker te betaal na ʼn paar jaar. Daar is ʼn groot verskil tussen om ʼn motor bestuur en om dit te kan bekostig,” sê Gaoaketse.

“Ons raai WesBank-kliënte aan om veel meer as slegs maandelikse terugbetalings in ag te neem wanneer die bekostigbaarheid van voertuigfinansiering bereken word. Hoewel afbetalingsbedrae soos die groot prentjie kan lyk, moet jy ander verantwoordelikhede soos brandstof, versekering, bande, gereelde instandhouding, onverwante lewenskoste en, in die geval van ballonbetalings, die belangrike enkelbedrag verskuldig ook in ag neem wanneer jy na bekostigbaarheid kyk.”

Verbruikers moet onthou dat ʼn uiters verantwoordelike begroting die sleutel is tot die volle gebruik van die voordele van ʼn ballontransaksie. As jy weet jy sukkel dalk om elke maand geld te spaar, is hierdie opsie waarskynlik nie die beste een vir jou nie.

Gaoaketse waarsku ook dat dit belangrik is om nie ʼn ballonbetaling te sien as ʼn alternatief vir ʼn deposito wat aan die begin van ʼn lening neergesit word nie. ʼn Gesonde deposito op ʼn nuwe of gebruikte motor sal altyd jou finansiële pad makliker maak, aangesien terugbetalingskoste en die uitgestelde ballonskuld laer sal wees.

WesBank raai motoriste wat ballontransaksies oorweeg ook aan om hulself te vergewis van die term ‘gelykbreekpunt’. ʼn Gelykbreekpunt is wanneer ʼn gefinansierde voertuig se inruilwaarde dieselfde is as die bedrag wat jy nog aan die bank skuld.

Afhangende van die struktuur van die finansieringstransaksie kan ʼn gelykbreekpunt vroeër of later gedurende jou termyn aanbreek, maar vroeër moet altyd die doelwit wees. Uit die aard van die saak sal ballonbetalings jou gelykbreekpunt binne ʼn leningstydperk na ʼn latere datum stoot.

“Gelykbreekpunte is krities belangrik om te verstaan. Suid-Afrikaanse verbruikers het ʼn ongesonde neiging om hul voertuie op te gradeer en meer gereeld nuwe finansieringstransaksies aan te gaan as wat finansieel moontlik is. Om uitstaande skuld oor te rol na ʼn nuwe aankoop of, met ander woorde, ʼn gedeelte van jou ou motor af te betaal terwyl jy jou nuwe een bestuur, is ʼn gevaarlike lokval.”

Onverantwoordelike kopers wat dit verskeie kere doen, kan nie net hul gelykbreekpunt baie ver buite bereik stoot nie, maar kan in uiterste gevalle die bank ʼn bedrag skuld wat meer is as wat hul bate, of motor, ooit werd sal wees. WesBank beveel aan dat verbruikers hul maandelikse terugbetalings, die waarde van ʼn huidige motor en ballonskuld eweredig gebalanseerd hou.

As jy nie seker is waarop jou motorfinansieringskuld gaan neerkom nie, kan jy een van WesBank se sakrekenaars gebruik wat ontwerp is om jou voertuigfinansieringsvrae te beantwoord. Die nuwe WesBank-app stel jou in staat om uit te vind hoeveel jy kan verwag om vir jou huidige motor te kry, uit te werk watter motor jy kan bekostig, aansoek te doen vir voertuigfinansiering en binne ʼn paar minute goedkeuring te kry, of die maandelikse terugbetalings op jou droommotor te bereken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kokerboom ·

Geheim bly: leef binne jou vermoeë!!!Vermy ballon betalings

Matmiet ·

As jy n ballon paaiement moet vat om n kar te kan koop, leef jy bo jou vermoë.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.