Verbruikersake: Hoe om jou huislening te hanteer in moeilike tye

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Huiseienaars regoor Suid-Afrika knyp al hoe meer hul beursies toe weens finansiële druk in moeilike ekonomiese tye. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se rentekoersverhogings eis hul tol en huiseienaars moet elke maand duisende rande meer opdok om hulle verbandterugbetalings na te kom.

Ina Opperman vertel watter raad Corné Welman, franchise-hoof en gesertifiseerde finansiële beplanner by Consult by Momentum, vir verbruikers het.

Welman waarsku ongelukkig dat die ergste nog nie verby nie. “Dit is waarskynlik dat daar nog ʼn rentekoersverhogings op die horison is. Vir diegene wat ʼn vaste inkomste verdien, is dit nie maklik om elke maand ʼn ekstra R10 000 of wat te kry om jou verbandbetaling na te kom nie, aangesien ons salarisse oor die algemeen nie teen dieselfde koers styg nie.”

Sy sê dit is belangrik om te weet dat daar opsies tot jou beskikking is wat sal help om van die finansiële druk te verlig, maar dat dit eerstens “belangrik is om te verstaan wat die huidige rentestyging veroorsaak – wat alles beïnvloed, insluitend jou motor-, kredietkaart- en klererekeningterugbetalings.”

Die verhouding tussen vraag en aanbod is aansienlik ontwrig in die 2020-grendeltyd. “Die vraag na sekere goedere en dienste het tydens die inperking gedaal omdat mense dit nie kon koop nie, terwyl baie mense gesien het hoe hul inkomste ʼn knou kry omdat hulle verminderde ure moes werk of afbetaal moes word. Gevolglik het beide rente- en inflasiekoerse laag gebly en dit het beteken dat diegene wat ʼn huis wou koop, dit relatief bekostigbaar kon doen.”

Inflasie het egter intussen toegeneem weens verskeie faktore – waarvan Suid-Afrika se energiekrisis nie die minste is nie en die SARB het die rentekoers sover met 425 basispunte verhoog in ʼn poging om dit hok te slaan.

“As jy in 2020 ʼn huis vir R2,5 miljoen gekoop het, was jou verbandterugbetaling dalk sowat R20 000 per maand, afhangende van die terugbetalingstydperk en die koers wat die bank aan jou toegestaan het. Nou, in 2023, sal jy byna R28 000 per maand op dieselfde verband betaal – ʼn bykomende R8 000 wat jy iewers sal moet kry.”

Welman sê die SARB verhoog nie rentekoerse om die lewe vir verbruikers moeilik te maak nie. “Deur rentekoerse te verhoog, kan dit die vraag beheer sodat mense nie soveel koop as wat hulle sou nie omdat hulle nou minder geld het om te bestee. So word inflasie in toom gehou, wat help om die rand en dus die ekonomie te beskerm.

“Die silwer-randjie is dat as jy dit oorweeg om ʼn huis te koop en gemaklik die terugbetalings kan bekostig, dit nou eintlik ʼn goeie tyd is om dit te doen. Die rentekoers sal binnekort daal, wat jou met meer besteebare inkomste sal laat. As jy regtig slim is, sal jy jou verbandterugbetalings dieselfde hou as wat jy op die hoogtepunt van die rentekoerssiklus sou betaal, wat jou in staat sal stel om jou huis net soveel vinniger af te betaal.”

Sy waarsku dat wanneer jy ʼn huis koop, moet jy seker maak dat daar genoeg buffer in jou begroting is om voorsiening te maak vir moontlike rentekoersverhogings. “Maar vir diegene wat reeds ʼn huis gekoop het en sukkel om die terugbetalings te doen, is daar steeds verskeie dinge wat jy kan doen.”

Moenie jou kop in die sand steek nie

Moenie toelaat dat die sperdatum vir jou maandelikse betaling kom en gaan terwyl jy jou bank se oproepe ignoreer nie, sê Welman. “Wees proaktief oor die situasie en kontak jou bank voordat jy ʼn betaling misloop, terwyl jou kredietwaardigheid nog goed is. Soms is banke bereid om die rentekoers wat hulle jou op jou verband bied te heronderhandel, wat jou elke maand ʼn paar duisend rand kan spaar.”

Hersien jou begroting

Hersien jou begroting om te kyk waar jy dalk kan besnoei aan jou maandelikse uitgawes sodat jy meer geld beskikbaar het om na jou verbandterugbetaling te kanaliseer. “Wees ook op die uitkyk vir ander maniere waarop jy jou inkomste kan aanvul. Ek sal eerder op ʼn korttermynbasis ʼn kamer in my huis verhuur om my inkomste aan te vul as om my huis te verloor.”

Verander jou terugbetalingstydperk

Jy kan ook jou verbandterugbetalingstydperk verleng, wat jou maandelikse betalings sal verminder, maar Welman waarsku dat dit ʼn laaste uitweg moet wees. “Ek sou voorstel dat jy eers probeer kyk waar jy kan sny om die huidige leningterugbetalings te doen. Die verlenging van die verbandtydperk beteken dat jy vir ʼn langer tyd vir jou huis sal betaal en dus ook meer in rente sal betaal.”

Moenie hoop verloor nie

“Jy het dit tot dusver gemaak – moenie nou opgee nie. Die wiel sal draai. Praat met jou finansiële adviseur wat jou kan help om jou begroting te herstruktureer, die opsies tot jou beskikking te bespreek en jou te help om daardie moeilike besluite te neem wat jou in staat sal stel om die storm uit te ry totdat dinge beter word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

DapperWoef ·

Ha ha ha

Ek kan nie ‘n finansiele adviseur bekostig nie.

En waar sal ek sny?

Reken pakkies Maggi Sop en brood is my voorland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.