Verbruikersake: Maak so met ’n welkome finansiële meevallertjie

(Foto: Shutterstock)

Die meeste verbruikers sal dalk sinies lag oor hierdie storie, maar baie mense kan dalk skielik ʼn groot bedrag geld kry: ʼn pensioenuitbetaling, ʼn afleggingsuitbetaling, ʼn erfporsie of selfs die Lotto wen. Sou hierdie dag dalk vir jou aanbreek, is dit belangrik om koelkop te bly en mooi daaroor na te dink voordat jy aan ʼn sent daarvan raak. Ina Opperman gee raad.

Dit is belangrik om die drang te onderdruk om dadelik alles wat jy nog altyd graag wou hê te gaan koop as daar skielik ʼn groot bedrag geld in jou bankrekening verskyn, maar dis beter om jouself in te hou en slim planne te maak oor wat om met die geld te doen.

“As jy ʼn lys moes maak van die mees emosionele gesprekke in jou lewe, sal ek wed dat geld vir die meeste van ons redelik hoog is op daardie lys. Ons emosies kan ons dikwels onderkry, veral wat besteding betref,” sê Cebile Zibi, hoofbemarkingsbeampte by Momentum Money.

Waarvoor jy geld wil hê en waarvoor jy dit nodig het, is nie altyd dieselfde ding nie. Daarom, sê Zibi, beplan te veel van ons dadelik hoe om alles te spandeer wanneer ons ʼn onverwagte finansiële meevaller soos ʼn erfenis of ʼn bonus ontvang.

“As jy al ooit ʼn episode van die program I Blew It gekyk het, sal jy weet hoe maklik dit is om geld deur ligsinnige besteding in die drein af te gooi. Selfs in die VSA toon statistieke van die National Endowment for Financial Education dat 70% van loterywenners se geld óf binne die eerste paar jaar op was óf dat sommige van hulle selfs bankrot was.”

Enigiemand kan geld uitgee, maar wie kan onverwagte geleenthede reg gebruik?

“Wanneer ons skielik meer geld het as waaraan ons gewoond is, is die versoeking groot om impulsiewe besluite te neem en emosioneel te bestee. In die vinnige, ingewikkelde en stresvolle wêreld van finansies neem emosies dikwels die bestuurdersitplek in en ons moet ons swaarverdiende geld beskerm en die potensiaal vir langtermynsukses vergroot.”

Zibi sê by Momentum Money sê hulle: “Moenie dit mors nie, laat dit groei (of in Engels: don’t blow it, grow it). Dit is meer as net ʼn slagspreuk. Dit moedig Suid-Afrikaners aan om los te breek van impulsiewe reaksies en ʼn ingesteldheid te aanvaar wat op strategiese finansiële beplanning fokus. As individue moet ons almal erken dat hoe ons vandag ons geld bestuur, ons vermoë toon om groter bedrae in die toekoms te bestuur.”

Sonder kennis en ervaring kan emosionele en irrasionele besluite jou op die langtermyn finansieel benadeel, waarsku sy. “As verbruikers moet ons ʼn tree terug gee, ons finansiële omstandighede beskou en die tyd gebruik wat nodig is om ʼn stabiele finansiële toekoms te verseker.”

ʼn Groot som geld wat skielik in jou bankrekening verskyn, kan jou finansiële toekoms die wêreld se goed doen. As jy die drang kan weerstaan om jou nuutgevonde rykdom te verspil, sê Zibi dit is ʼn goeie idee om hierdie stappe te oorweeg om geldvaardige besluite te neem:

Stop en dink eers daaroor

Voordat jy enigiets doen, is dit beter om eers jou tyd te vat, stil te staan en na te dink oor wat jy met jou geld kan doen. Sit dit intussen in ʼn digitale spaarrekening wat rente kan verdien en die geld kan laat groei.

Stel duidelike doelwitte

Voordat jy enigiets met die geld doen, stel duidelike en realistiese doelwitte – of dit nou is om skuld af te betaal, vir die toekoms te belê of ʼn noodfonds te skep, dit is beter om goed gedefinieerde doelwitte te hê wat jou kan help met jou finansiële besluite.

Gebruik die regte raad

Om met ʼn finansiële adviseur te gesels kan waardevolle insigte bied wat aangepas is vir jou unieke omstandighede. Hulle kundigheid kan jou help om ingeligte besluite te neem en jou welvaart vir langtermyngroei te verbeter.

Stig ʼn noodfonds

Voordat jy in beduidende finansiële verpligtinge induik, prioritiseer die bou van ʼn noodfonds. Hierdie veiligheidsnet verseker dat jy voorbereid is op onverwagte uitgawes en dit beskerm jou algehele finansiële stabiliteit.

Skuldbestuur is belangrik

As jy uitstaande skuld het, oorweeg dit om ʼn gedeelte van jou meevaller te gebruik om jou skuld te verminder. Die vermindering van skuld met hoë rente kan jou algemene finansiële gesondheid aansienlik verbeter, asook jou vermoë om vir die toekoms te belê.

Zibi sê as jy nadink oor jou geld en wat jy beplan om daarmee te doen, onthou dat dit nie net oor getalle gaan nie. Dit gaan oor drome, aspirasies en ʼn blywende nalatenskap wat jy wil agterlaat.

“Soms kry jy net een kans om ʼn geleentheid aan te gryp en jou lewe op die pad na sukses te plaas. Ek sal dit weer sê: moenie dit blaas nie, laat dit groei! Jou toekoms is in jou hande. Raak stil en besin, voer die regte gesprekke, wees eerlik met jouself, moenie met jou hart spandeer nie en jy sal goed op pad wees na ʼn geldslim-toekoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.