Verbruikersake: Moenie toelaat dat jou feestelikhede uitreën nie

weer-storms-huis-dakloos-versekering

(Argieffoto: Blitzmaerker/Pixabay)

Almal hou al klaar die weer dop om te sien of hulle planne om fees te vier oor die feestyd gaan uitreën. Hulle maak ʼn plan B vir ingeval die stormwolke wel ongenooid opdaag, maar in ons agterkoppe sit die kennis nog oor die skade wat storms die afgelope tyd aangerig het. Dis nou tyd om te sorg dat jy ook genoeg versekering het om stormskade te dek. Ina Opperman verduidelik wat jy moet doen.

Mense sien al klaar uit na al die kuiers, braaie en vermaak wat gedurende die feestyd wag, maar somer in die grootste deel van die land beteken ook baie swaar reën en verwoestende storms wat jou planne in die wiele kan ry.

“Ons kan ongelukkig maar min doen aan Moeder Natuur se onverwagte uitbarstings, maar jy kan voorsorg tref en verseker dat jou eiendom en besittings beskerm word om die moontlike skade te verklein en dus ook minder onverwagte uitgawes te moet betaal”, sê Serapelo Mofokeng, hoof van kliëntediens by MiWay.

Mofokeng se wenke vir verbruikers om die somer se storms te trotseer is:

Hou ʼn oog op die weer

“Stormstelsels is dikwels beperk tot een gebied en kan in ʼn oogwink vorm en wegwaai nadat dit verwoesting gesaai het. Daarom is dit beter om ingelig te wees en gereeld te kyk na weersvoorspellings wat kan keer dat jy in die buitelug kuier wanneer ʼn groot storm dit kan ontwrig.”

Wanneer jy sien ʼn storm steek op, probeer om binne te bly omdat dit gevaarlik kan wees om buite te wees in swaar reën. Maak ook seker dat jou motor onder dak is om dit te beskerm teen skade.

Sommige versekeraars het handige weertoepassings wat dit vir jou moontlik maak om ʼn ogie op die weer te hou en waar jy ook jou skade kan registreer na die storm oor is. Dit het gewoonlik ook ʼn gerieflike teksboodskapdiens waar jy jou skade-eis kan indien sonder om op die lyn te wag vir die oproepsentrum.

Maak seker jou huis is bestand teen stormweer

“Die beste verdediging teen storms is om omvattende voorsorg te tref,” sê Mofokeng. “Gaan jou huis goed deur voordat die storms kom. Maak seker dat alle gekraakte en gebreekte vensters en rame vervang word en kyk of daar enige lekplekke in jou dak is, soos waar die teëls geskuif het. Dis ook belangrik om te sorg dat die geute en aflooppype nie verstop is met gemors en blare nie. Vervang ook alle stukkende aflooppype.”

Dit is ook ʼn goeie idee om nou alle oorhangende boomtakke af te saag wat moontlik kan losbreek en jou huis beskadig wanneer die wind sterk waai. En terwyl jy nou buite besig is, maak ook seker dat jy alles bêre wat kan wegwaai, soos versierings en tuinmeubels van plastiek.

Indien jou huis ʼn grasdak het, moet jy sorg dat die weeligafleier werk. Maak seker dat dit deur die SABS goedgekeur is en dat die dak die afgelope sewe jaar behandel is teen brand. Laat die dak ook gereeld nagaan vir enige moontlike brandrisiko’s.

Gaan jou dekking na

“Dis belangrik om te onthou dat, terwyl jou waardevolle besittings gedek is deur jou versekering, die goedkeuring en uitbetaling van jou eis kan sloer na groot storms wat baie skade aangerig het omdat so baie mense eise indien. Daarom is dit beter om voorsorg te tref teen skade aan items soos swembadpompe en motors.”

Wanneer jy sien ʼn storm is op pad, maak seker jou voertuie is onder dak geparkeer, verkieslik in ʼn motorhuis, om duur haelskade te vermy. Dit is ook ʼn goeie idee om seker te maak jou swembadpomp is toegemaak om dieselfde rede.

Skakel ook jou duur toestelle af en trek die prop uit die muur of gebruik spesiale stroombeskermers om te keer dat die weerlig skade aanrig.

Maak seker jou verskering is goed genoeg

“Jy kan baie doen om jou eiendom en waardevolle besittings te beskerm, maar die natuur se woede kan soms wen en wanneer dit gebeur kan die onkoste astronomies wees. Daarom is dit belangrik om jou self te bewapen met ʼn versekeringspolis wat jou spesifieke dekking gee teen stormskade, van stukkende vensters tot vloedwater en haelskade,” se Mofokeng.

Aangesien versekeraars gewoonlik oorval word deur eise na ʼn verwoestende storm, maak seker dat jou versekeraar ʼn toepassing het waar jy skade kan aanmeld sodat jy nie hoef te wag dat iemand die telefoon antwoord by die oproepsentrum nie.

“Of dit nou reën en of die son skyn, maak seker hierdie feesseisoen is een om te onthou vir al die regte redes deur seker te maak jou versekering is reg,” sê Mofokeng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.