Vuurwarm SA-klerereeks ʼn suksesverhaal binne twee jaar

(Foto: Burnt Studios)

Burnt Studios was eers ʼn klein aanlyn onderneming wat Pierre Cronje en Andriana Botes op ʼn plaas sonder opvangs in Limpopo bestuur het, maar vandag is dit een van Suid-Afrika se bekendste klerereekse met derduisende volgelinge op sosiale media.

Dié verloofde paartjie het albei in ʼn sakerigting studeer en vertel dat dit nog altyd hul plan was om hul eie sakeonderneming te begin. Burnt kry juis sy naam van ʼn vorige onderneming wat Cronje begin het as student toe hy braaihout verkoop het.

“Ons hou albei van mode en oefening. Ek het gesukkel om mooi, goeie kwaliteit oefenklere in die hande te kry,” sê Botes. “Pierre het toe die gaping in die mark gesien om oefenklere te maak waarin vroue kan goed, mooi en stylvol voel, wat goeie kwaliteit is, en wat hulle die hele dag lank kan dra.”

Botes en Cronje het toe Burnt Studios net meer as twee jaar gelede op Botes se familieplaas in Limpopo begin.

Pierre Cronje en Andriana Botes (Foto: Verskaf)

“Die plaas is in die middel van nêrens, tussen die Waterberge en daar is nie sein nie. So ons het in die oggende begin werk, maar wanneer ons met verskaffers moet praat, moes ons so 20 km ry na ʼn klein heuweltjie waar ons sein kon kry,” vertel Cronje.

Op die heuwel het hulle op hul motor se dak gesit en met verskaffers gepraat en gereël vir voorbeelde van materiale. Vandaar het hulle na Kaapstad verhuis en die onderneming uit hul woonstel bestuur.

Botes sê kliënte het gereeld gedink Burnt is ʼn groter sakeonderneming en dat daar ʼn paar mense is om al die take te verrig. Maar in die werklikheid was dit vir lank net sy en Cronje wat tussen hul leefvertrek en kombuis werskaf om almal se pakkies gepak en gestuur te kry.

(Foto: Burnt Studios)

In Oktober 2020 kon Burnt eindelik hul eie ateljee oopmaak in Woodstock, Kaapstad. Vandag is die span ook effens groter en hoef Botes en Cronje nie meer alles self te doen nie.

Burnt Studios spog nou al met byna 40 000 volgelinge op Instagram, hulle het hul klerereeks uitgebrei en het ook ʼn gesondheidsplatform genaamd Burnt Fit.

Cronjé sê dit was baie harde werk om die onderneming aan die gang te kry, maar dat hulle dankbaar is vir die vinnige groei wat Burnt gehad het, veral in die laaste jaar.

Hy skryf hul goeie sukses toe daaraan dat hulle ʼn gemeenskap vir hul kliënte skep en dat hulle ekstra waarde toevoeg, eerder as om net bloot klere te verkoop.

“Ons praat van ons ‘orange tag tribe’ – want al ons klere het ʼn oranje etiket aan. Omdat mense deel voel van die Burnt-gemeenskap voel hulle trots daarop, deel hulle dit met ander, en kom hulle terug.”

Pierre en Andriana agter die skerms by ‘n fotosessie vir Burnt (Foto: Verskaf)

“Burnt Fit voeg ook baie waarde by omdat ons soveel gratis inhoud daar deel – van resepte tot oefeninge tot geestesgesondheidprogramme.”

Cronjé sê die droom vir Burnt is om ʼn staatmaker in oefening-en-gesondheidswêreld te wees en dat dit ʼn platform is waar mense reg oor die wêreld enigiets kan kry wat met ʼn gesonde, gelukkige en aktiewe leefstyl gepaard gaan. Hulle werk ook tans aan nuwe projekte en het pas hul nuwe Retro-reeks oefenklere bekendgestel.

Botes sê die hart van Burnt is om mense te bemagtig om so gesond moontlik te leef.

Burnt se nuwe Retro-reeks (Foto: Burnt Studios)

“Die grootste kompliment wat ons gekry het, was ʼn vrou wat gesê het vandat sy ons oefenklere dra, voel sy nie meer asof klere iets is wat haar terughou nie, maar dat Burnt-oefenklere haar eerder bemagtig om goed te voel en die beste te wees wat sy kan. En dis waaroor Burnt vir ons gaan.”

Besoek Burnt Studios se webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.