Volg dié vyf wenke om skuld te verminder óf te vermy

(Foto: Mikhail Nilov/Pexels)

Daar word dikwels gesê dat nie alle skuld slegte skuld is nie en vir talle Suid-Afrikaners is dit boonop die enigste uitweg om die land se voortslepende ekonomiese uitdagings aan te pak.

Maroela Media het vroeër berig dat al meer Suid-Afrikaners hulle tot persoonlike lenings wend om die pot aan die kook te hou. Diegene wat meer as R20 000 ʼn maand huis toe vat, skuld dikwels meer as twee keer wat hulle in ʼn maand verdien.

“Gewone Suid-Afrikaners is op soek na maniere om die boeke te laat klop en vir baie mense sluit dit in om lenings te oorweeg of om geld by kredietverskaffers te leen. As dit jy is, moedig ons jou aan om verskeie aspekte noukeurig te oorweeg voordat jy ja sê vir daardie lening,” sê Chantel Pieterse, bedryfshoof by Unifi Suid-Afrika, ʼn gemagtigde finansiële kredietverskaffer wat persoonlike lenings via ʼn verbruikersvriendelike aanlyn aansoekproses verskaf.

Volgens Pieterse kan klein persoonlike lenings met ʼn buigsame terugbetalingstermyn help om van die druk op jou sak te verlig. Maar wat as jy veelvuldige lenings en ander skuld soos winkelkaarte het om af te betaal?

Hier is haar vyf wenke om te help om die stres uit die terugbetaling van jou lenings te verlig:

Neem beheer oor jou bestedingsgewoontes

Het jy ʼn idee waarop jy die meeste oorbestee? Kyk na jou bankstate om te sien waarheen die meeste van jou geld gaan. As jy oorbestee aan nie-noodsaaklikhede soos wegneemetes of mode-bykomstighede, oorweeg dit om vir ʼn paar maande sonder hierdie luukshede oor die weg te kom. Gebruik die geld wat jy spaar om jou lenings terug te betaal. Kyk ook na jou noodsaaklike aankope om te sien waar jy kan spaar.

Maak byvoorbeeld gebruik van kruidenierswinkelpromosies en afslagwinkelkaarte en stel ʼn weeklikse maaltydplan en inkopielys op om seker te maak jy koop net wat jy nodig het.

Sit elke bietjie wat jy kan spaar terug in jou skuldterugbetalings. Sodra jou lenings afbetaal is, kan jy finansieel asemhaal en jouself bederf met van daardie luukshede wat jy opgeoffer het.

Stel ʼn begroting op en hou daarby om jou lenings beter te bestuur

ʼn Maandelikse begroting kan jou help om beheer oor jou terugbetalings te neem.

As jy nog nooit voorheen ʼn begroting opgestel het nie, is dit baie maklik: maak ʼn lys van al jou noodsaaklike uitgawes soos huur, vervoer en kos, asook leningspaaiemente en rekeninge soos skoolgeld.

Tel die totale koste van hierdie uitgawes by en trek dit van jou salarisbedrag af. Sit enigiets wat jy oor het vir jou terugbetalings of spaar dit vir ʼn reënerige dag.

Kry ʼn ekstra inkomste om te help om jou lenings af te betaal

As jou salaris tans eenvoudig nie ver genoeg strek nie, gebruik jou talente om ʼn ekstra inkomste in jou vrye tyd te skep. As jy byvoorbeeld ʼn talent het om te bak, begin om koeke aan vriende en kollegas te verkoop. Elke sent is een stap nader aan die terugbetaling van jou lenings.

Volg ʼn plan wat die afbetaling van jou lenings makliker maak

Daar is verskeie planne wat jy kan volg om die afbetaling van jou lenings minder stresvol te maak. Die skuldsneeubal- en stortvloedmetodes is twee gewilde keuses.

Met die sneeubalmetode gebruik jy al die ekstra kontant wat jy het eerste om jou kleinste lening mee af te betaal terwyl jy net die minimum betaling op die groter lenings maak. Wanneer dit afbetaal is, plaas jy ook die bedrag wat jy aan die kleinste lening spandeer het in die volgende grootste lening of kredietpaaiement. Doen dit totdat al jou skuld afbetaal is.

Met die stortvloedmetode betaal jy die paaiemente met die hoogste rentekoerse eerste af. Dan gebruik jy die geld wat jy gespaar het op hierdie rentekoerse om die kleiner lenings mee af te betaal.

Moenie meer betaal as wat jy moet nie en leen slegs by betroubare bronne

Chantel moedig die publiek aan lenings by geregistreerde en betroubare kredietverskaffers aan te gaan.

“By Unifi doen ons ons ​​bes om seker te maak jy in die eerste plek ʼn lening kan bekostig, en bepaal die bedrag wat jy kan bekostig deur na jou huidige inkomste en bestaande kredietverpligtinge te kyk,” voeg sy by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.