Aarduur op 28 Maart 2015

Aarduur-2015

‘n Groep mense vier Aarduur in Kanada. Foto: Worldwildlife.org

Eerskomende Saterdagaand, 28 Maart, is dit van half nege tot half tien Aarduur 2015. Die media beskryf Aarduur as die wêreld se grootste viering van die planeet. Honderde miljoene mense wêreldwyd gaan gedurende Aarduur hulle ligte vir een uur afskakel om te wys hulle wil bydra om die aarde te beskerm.

Volgens Radio Pretoria se nuuskommentaar van vandag het Aarduur in 2007 in Sydney, Australië, begin toe 2,2 miljoen huishoudings hulle ligte ʼn uur lank afgeskakel het om standpunt teen klimaatsverandering in te neem. Vandag vind Aarduur wêreldwyd plaas om mense aan te moedig om hulleself te verbind tot ʼn volhoubare wêreld wat bevolkings in staat sal stel om genoeg skoon water, plante en diere te hê om die aarde mee te deel.

Om nader met Aarduur 2015 kennis te maak, word die publiek aangemoedig om die webblad www.earthhour.org te besoek. Hierop is die amptelike Aarduur-video sowel as die liedjie Pompeii deur die groep Bastille. Voorts word inligting verskaf oor drie projekte, waarvoor diegene wat wil, geld en steun kan gee. Die projekte handel nie net oor alternatiewe krag-opwekking nie.

Blykbaar het Aarduur in die verlede wel ʼn positiewe uitwerking in verskeie wêrelddele gehad. Mense het meer aandag en tyd begin spandeer om maniere te bedink hoe om die aarde te beskerm. Daar is egter nie net gedink nie, daar is ook uitvoering aan die idees gegee. Die Wêreld Natuurfonds (WWF) in Uganda het byvoorbeeld die eerste Aarduurbos geskep. In drie dorpies in Indië is sonaangedrewe ligte geïnstalleer. Die dorpies was vroeër sonder enige ligte.

Wat Suid-Afrika betref, het Eskom in 2014 tydens Aarduur 575 megawatt gespaar. Volgens Eskom beteken dit honderde tonne steenkool is nie verbrand nie.

Die ooreenkoms is dat alle huise en ondernemings Saterdagaand tussen half nege en half tien alle nie-noodsaaklike ligte sal afskakel By baie van die wêreld se bekendste bakens sal kolligte en spreiligte as ʼn simboliese gebaar gedemp word.

Die gebruik van fossielbrandstowwe soos steenkool om kragstasies aan die gang te hou, besoedel die planeet. Omgewingskundiges wys al meer op die langtermyn uitwerking van aardverwarming. Daar word verwys na sekere wêrelddele wat reeds uiterste weerstoestande ondervind. Diesulke kundiges is oortuig dat die mens ʼn verskil kan maak deur meer ekonomiese energieverbruik toe te pas. Alle lande behoort van owerheidsweë af sowel as met die steun van die privaatsektor doelgerig te belê in skoner maniere – soos son- en windkrag – om elektrisiteit op te wek.

Met inisiatiewe soos Aarduur is sekerlik nie fout te vind nie behalwe dat dit nie die aarde is wat gevier behoort te word nie. Alle lof en eer kom ons Hemelse Vader toe wat hemel en aarde geskep het. Hy het die planeet aan die mens as woonplek gegee met die opdrag om dit verantwoordelik te bestuur. Vanuit daardie oogpunt behoort juis ons inisiatiewe soos die jaarlikse Kragdag te ondersteun, maar altyd met die ingesteldheid dat ons dit doen uit dankbaarheid teenoor ons Skepper omdat Hy in sy genade ons daagliks onderhou en ons volgens Sy opdrag in Genesis die aarde moet bewaar en bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

HEVW ·

Die wereld het nog nie kennis van Eskom se navolgenswaardige voorbeeld geneem nie. Dit kan veel beter gedoen word as om n uur se ligte af te skakel.

Neptunus ·

Wat ‘n klomp robbies waarmee gewone burgers se breine gespoel word. Die meeste energie word deur nywerhede opgeslurp, nie deur Jan Publiek nie. Aardverwarming is ‘n foefie. Kom ons protesteer eerder teen die industrieë wat elektrisiteit teen minder as kosprys by Eskom kry. In plaas van aardverwarming moet ons eerder op herwinning fokus. Die meeste mense in ons land kry krag so te sê verniet, nou moet ons betalendes ook nog ligte afsit wanneer daar nie beurtkrag aan die gang is nie. Ek sal aan Aarduur deelneem die dag as die meeste Suid-Afrikaners nie meer hulle rommel en KFC-houers in ons parke neersmyt nie.

Henrietta Klaasing ·

Met die gereelde beurtkrag doen ons MEER as ons deel vir Aarduur. Gister twee keer 2 ure ( totaal van 4) en vandag weer 2 ure. Onaangekondig, krag sumier af. My hart gaan uit na plekke soos bakkerye wat seker derduisende Rande verloor.

Kerrie Vlamskiet Briekstreep ·

Langs die N1 oppad Grasmere plaza Tolhek toe..Jhb suid..brand hulle hope en hope gebruikte motorbande…party hope tot 3m hoog…elke dag. Daai bande word aangery van Gauteng Metro af..na dae se swart rubber roet word die oorblywende staaldraad na die “scrap-metal dealers” toe aangery..probeer daai een in jou pyp.

Janine du Plessis ·

Ons het vanjaar al so baie “aardure” gehad dat ek liewer “ligte-aan” sal wil vier. Ons Munisipaliteit sit elke aand tussen 18:00 en 20:00 ons geysers af. Self sit ons dit net na 20:00 aan om te kan stort (ons bad lankal nie meer nie). Dan skop beurtkrag in vir 2 ure en moet ons tot 22:00 wag om water te verhit. 23:00 stort en 23:30 bed toe… Hoef ek meer te se?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.