Behoeftige meisies benodig meer as net sanitêre ware

Monique Steyn, sangeres en #HelpHetta-ambassadeur, het Woensdag nuwe navorsing deur Solidariteit Helpende Hand bekend gestel. (Foto: Verskaf)

ʼn Anonieme skoolmeisie van Gordonsbaai in die Wes-Kaap het Woensdagoggend op ʼn mediakonferensie deur Solidariteit Helpende Hand vertel hoe dié organisasie se #HelpHetta-projek haar lewe verander het.

Die #HelpHetta-projek verskaf die afgelope sewe jaar sanitêre ware en higiëniese produkte aan behoeftige skoolmeisies landwyd sodat hulle nie elke maand ʼn week lank skool hoef mis te loop nie.

Die Afrikaanse gr. 10-leerder het vertel dat sy en haar ma weens slegte finansiële omstandighede tans in ʼn motorhuis agter op iemand se erf woon. Aangesien haar ma ʼn enkelouer is, is sanitêre ware ʼn luuksheid wat hulle nie kan bekostig nie.

Die meisie het vertel dat sy sedert gr. 7 deur die projek gehelp word en dat haar skoolpunte sodoende drasties verbeter het. Sy is ook die afgelope drie jaar op haar skool se toptienlys van akademiese presteerders.

Dít is egter slegs die verhaal van een meisie terwyl nog 2 999 gesiglose skoolmeisies landwyd deur dié projek ondersteun word. Altesaam 1 432 bykomende meisies het ook aansoek gedoen om hulp sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie, maar kan ongelukkig weens ʼn gebrek aan geld nie tans ondersteun word nie.

ʼn Nuwe navorsingstudie van Helpende Hand, wat onder die 3 000 meisies wat tans by die projek baat, gedoen is, dui egter daarop dat die meisies meer as net sanitêre produkte nodig het.

Volgens die navorsingstudie het die meisies onder meer maatskaplik-emosionele behoeftes aan motiveringspraatjies, bemoedigende dagstukkies, inligting oor selfbeeld, selfwaarde en hoe verhoudings werk, asook om geestelik ontwikkel te word.

Die navorsing toon ook dat 38% van die meisies wat deur die projek ondersteun word nog op laerskool is en dat 73% van dié meisies op 11 tot 13 jaar oud begin menstrueer het. Agt persent van die meisies het reeds voor 10-jarige ouderdom begin menstrueer, wat hulle blootstel aan die risiko om swanger te raak.

Ongeveer 5% van Suid-Afrikaanse meisies tussen 14 en 19 jaar oud was swanger in 2019. In 2019 was daar 124 628 tienerswangerskappe in Suid-Afrika, waarvan 3 529 (3%) nog op laerskool (tussen  10 en 13 jaar oud) is. Laasgenoemde is ʼn wetlike oortreding.

Op die paneel van links na regs is René Roux, Helpende Hand se adjunkhoof van kommunikasie, Monique Steyn, Hannie Viljoen, Helpende Hand se hoof van navorsing en Benette Welman, #HelpHetta se projekorganiseerder. (Foto: Verskaf)

Byna 10% van die meisies wat aan die navorsing deelgeneem het, woon in die kinderhuis terwyl 5% in ʼn informele nedersetting woon en 4% in ʼn koshuis is. Vyf persent van die meisies word deur ʼn enkelpa grootgemaak.

“Ons navorsing het getoon dat die skenkings verseker dat behoeftige meisies nie skool misloop weens ʼn tekort aan sanitêre ware nie. Ons het wel besef dat die behoefte nie daar eindig nie en dat die nood veel groter as die fisieke behoefte is,” het Benette Welman, #HelpHetta se projekorganiseerder, gesê.

“Ons moet ons Hetta-meisies op ʼn holistiese vlak ondersteun – fisiek, maar ook emosioneel en geestelik.”

Welman het gesê die aantal laerskoolmeisies wat by die projek baat, word elke jaar meer en daarmee gaan talle uitdagings gepaard, soos om die meisies al vroeg van kwessies soos menstruasie en seksuele aanranding te vertel.

“Daar is groter skoene wat die #HelpHetta-projek moet volstaan en vandag trek ons hierdie skoene aan. Ons kan dit nie alleen doen nie en daarom nooi ons mense uit om ons met jul gawes en talente te ondersteun sodat ons as gemeenskap die skoolmeisies kan bystaan. Ons moet skoolmeisies holisties ontwikkel om ʼn sterk volgende generasie van vroue te verseker,” voeg Welman by.

Die navorsing is Woensdag saam met die sangeres en #HelpHetta-ambassadeur, Monique Steyn, bekend gestel.

“Ek is altyd verstom oor al die moeite, passie en liefde wat hierdie organisasie in die #HelpHetta-projek stort,” het Steyn gesê.

“Om voor mense te praat is nie my sterkpunt nie, maar ek wou vandag dapper wees, want dit gaan nie oor my nie. Daar is jong, verwarde meisies daar buite wat moet weet hulle is nie net nog ʼn nommer nie en dit is ons verantwoordelikheid om hulle voor te berei om die leiers van môre te wees.”

Die volledige navorsingsverslag is beskikbaar op Helpende Hand se webwerf. Besoek ook die webwerf om ʼn skenking te maak vir die #HelpHetta-projek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Miskruier ·

Meisies behoort aangemoedig word om ” menstrual cups” te gebruik. Ons rioolstelsels is nie in staat om sanitere ware te verwyder nie. Dan praat ons nie hoeveel goedkoper die inwendige proppie is nie

AmY ·

Ek het ook swaar groot geword. My ma het ons drie kinders alleen groot gemaak. Ek weet nou nie hoe daar in die aande kos op die tafel was nie.

Ek het naweke en vakansies gewerk om my eie toiletware te koop, want daar was nie sulke organisasies gewees 35 jaar gelede nie. (waarvoor ek nou dankbaar is.) Meisies word nou gehelp.

Ek het kinders opgepas oor naweke (terwyl my skoolmaats gaan fliek het en partytjies gehou het.) Ek het ook bejaardes se inkopies gaan doen teen ‘n baie klein fooi.

My klere was tweedehandse klere wat ek by die kerk gekry het. Handouts het hulle dit genoem.

Ek is dankbaar dat jong meisies van vandag gehelp word.

Anoniem ·

Al ken ek jou nie, is ek trots op wat jy vermag het, wel gedaan.

Barney ·

3529 laerskool meisies swanger – dis absoluut ongelooflik en skokkend. Op daardie ouderdom moet jy nog buite speel

AmY ·

Ek het in die tweede kwartaal van graad agt (toe nog standerd 6) my poppe moeilik weggepak.

Sêmanet ·

Nou se dae kan hulle jou ‘n paar dinge leer. Dis omdat daar so gehamer word op seks onderrig in die skole, en “wettige” seks op 13, en en en. Die kinders se aandag word daarop gevestig en goedgepraat met: solank julle kondome gebruik, of sit net die meisie op die pil. Dis in my oë toestemming tot seks van ouers en grootmense af.

Mallie ·

Dit help nie die meisies word gehelp nie. Hulle gooi die goed weg wat deur die regering vir hulle gratis en verniet gee word. Voldoen glo nie aan hulle behoeftes of vereistes nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.