Churchill en die Boere

verwerk-churchill-en-die-boere-01

Die La Guerre Anglo-Boer poskaart. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Die Boere het geen idee gehad wie die jong Engelsman in burgerlike drag was wat hulle daardie oggend tussen die swetterjoel Kakies (56 in totaal) naby Estcourt vasgetrap het nie; of wat hy daar gesoek het nie. As die onbekende “burgerlike” in uniform was, kon ’n Mauserkoeël sy lewe straks net daar kortgeknip het en dan sou die geskiedenis ’n heel ander verloop geneem het.

Nog minder sou die vryheidstrydende Republikeine besef het dat daar in daardie tydsgewrig, binne ʼn radius van ʼn paar kilometer waar die stryd hom afgespeel het, drie intellektuele reuse teenwoordig was wat later diep spore in hul onderskeie lande en die wêreld se geskiedenis sou trap.

Die een was die Engelsman wat homself sopas oorgegee het. Volgens die Britse historikus Thomas Pakenham was dit veldkornet Sarel Oosthuizen – bekend as die Rooi Bul van Krugersdorp – wat Churchill gevang het, maar minstens een bron wil dit hê dat dit die Boereleier Louis Botha self was wat Churchill laat hensop het. As Churchill nie toevallig sy rewolwer op ʼn verowerde Britse trein laat lê het nie, is die kanse goed dat die Boere hom daar en dan ʼn permanente rusplek in Natal se aarde sou besorg het, aangesien hulle nie gespeel het met gewapende burgerlikes aan die Engelse kant nie.

Louis Botha stel gou genoeg vas sy krygsgevange se van is Churchill en hy is die oorlogskorrespondent van The Morning Post. Winston Leonard Spencer-Churchill word bekend as die staatshoof (met sy kenmerkende sigaar) wat verantwoordelik gehou sou word vir die debakel op Gallipoli in die Eerste Wêreldoorlog, maar wat Brittanje ook in hul donkerste uur teen Duitsland gelei het. Aan die Boere se kant was dit die einste generaal Louis Botha, wat in 1910 Suid-Afrika se eersteminister sou word ná Uniewording.

Die derde lid van hierdie dramatis personae was Mohandas Karamchand (Mahatma) Gandhi, toe ʼn draer vir die Natalse Indiese Ambulanskorps aan die Britse kant, wat sy land, Indië, in 1947 na onafhanklikheid van Brittanje sou lei.

Met sy fyn waarnemingsin as koerantman, beskryf Churchill sy vyande so:

“What men they were, these Boers! I thought of them as I had seen them in the morning riding forward through the rain – thousands of independent riflemen, thinking for themselves, possessed of beautiful weapons, led with skill, living as they rode without commissariat or transport or ammunition column, moving like the wind, and supported by iron constitutions.”

Churchill het op 15 November 1899 tussen Frere en Chieveley in Natal in Boerehande geval toe hulle die gewapende trein aangeval en buitgemaak het. Dr. George Oliver Moorhead van die Rooikruis se verslag lui dat Churchill se hand gewond of beseer was. Hy word aangehou in die Staats Model School in Pretoria, waar hy sy 25ste verjaarsdag op 30 November daardie jaar herdenk.

Hy ontsnap op 12 Desember 1899 en beskryf later in kleurryke taal hoe hy oor die magtige Apiesrivier moes swem. Een weergawe is dat die Boere nie juis aan hom as burgerlike aandag geskenk het nie, nadat hy hulle belowe het hy sou nie probeer ontsnap nie. Ná sy ontsnapping keer hy oor Delagoabaai terug na die front – net betyds om te aanskou hoe Botha en die Boere die Britte bloedig by Spioenkop verslaan!

Maar hierdie storie gaan eintlik oor my eie Boere-verbintenis met die whiskey-drinkende Winston Churchill. My fassinering met geskiedenis en oudhede lei my dikwels op vreemde paaie.

So verken ek en Tisha Frankryk in ons afgeleefde camionnette. Frankryk, deurdrenk van geskiedenis, met sy eeu oue argitektuur en sy brochantes waar jy enigiets van ’n ou bajonet tot colombage vir ons huis wat ons in Le Gers restoureer, kon raaksnuffel. Ons het die camionnette se neus daardie dag in die rigting van Dax gedruk. Ek het die poskaart toevallig tussen ’n stapel ander souvenirs raakgesien. Dit was ’n swart-en-wit-foto en die woorde La Guerre Anglo-Boer het uitgespring.

Sentimentalis wat ek is, was ek onmiddellik vasgevang in die greep van die historiese betekenis. Wat sou ’n argiefstuk uit ’n oorlog in Afrika meer as ’n eeu gelede hier in ’n uithoek van Frankryk soek? Dis eers toe ek hom optel en bestudeer, dat die implikasie my behoorlik tref: Dis Churchill!

Daar is ’n gesegde in die joernalistiek dat jy op die regte tyd op die regte plek moet wees om ’n storie goed te dek. Dit was klaarblyklik hier ook die geval. Die Anglo-Boereoorlog word dikwels beskryf as die “eerste mediaoorlog”. Fotografie was nog in sy kinderskoene. En wie ook al hierdie foto geneem het, was op die regte tyd op die regte plek.

Die foto wys Winston Churchill langs ’n trein op die Pretoriastasie. In die voorgrond maak ’n forsgeboude Boer wat lyk of hy met gemak as slot in ’n Springbokpak sou kon sak, die Engelse wys oor hoe dinge van nou af gaan werk. ’n Paar Kakies staan bedremmeld rond.

Die onderskrif van hierdie merkwaardige foto lees: Arrivée à Pretoria des prisonniers du train blindé d’Estcourt (Lord Churchill à gauche en casquette). Vry vertaal beteken dit: Die aankoms van gevangenes in Pretoria van Estcourt met ’n gepantserde trein. (Lord Churchill links met die pet.)

In potlood links bo is ’n inskripsie wat sê AFR SUD epoque 1900. Onder word die leser die volgende vertel: Ed. Nels, Bruxelles. Serie Transvaal III.

Die agterkant van die poskaart. Foto: Verskaf.

Agter staan UNION POSTALE UNIVERSELLE, CARTE POSTAL. En dan die geadresseerde, in netjiese fyn handskrif, dalk dié van ’n vrou:
Monsieur Gouverneurs
1 Place du Pongier
Bruxelles.

Was hierdie poskaart bestem vir die Belgiese regering? Om steun te kry vir die Boeresaak? Het hy sy bestemming bereik? Dit wil so voorkom, want die 5c-seël regs bo is gestempel. Die woord BRUXELLES is duidelik sigbaar en die datum 10 Mars 18-19 (?).

My Churchill-poskaart uit Frankryk is vandag deel van Afrika se suidelikste militêre versameling. Dit is bekend dat Churchill ’n bewonderaar van die Boere was, soos uit sy beskrywing afgelei kan word. Daar word ook gesê dat “sy kennis en invloed om die Vrede van Vereeniging te bewerkstellig, deurslaggewend was.” Hy sou na bewering ook passievol gewees het om “aan Afrikaners selfbeskikking toe te laat.”

Selfs al was laasgenoemde waar, sou dit my egter nie van mening laat verander dat Winston Churchill ’n aartsimperialis was nie. My eie navorsing dui daarop dat die verpletterende neerlaag wat die Boere die Britte by Majuba in die eerste Anglo-Boereoorlog toegedien het, vir hom ’n persoonlike vernedering was. Boonop bewys sy uitlatings oor ras- en etniese groeperings, asook sy gedragsverslag in Pakistan en Soedan, presies wat sy lewens- en wêreldbeskouing was.

  • Pierre Massyn is ’n oudjoernalis en voormalige lid van die SuidAfrikaanse Oorlogsgraftekommissie.

Bronne:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

As die Rivonia Hofsaak tussen 9 Okt 1963 en 12 Jun 1964 op doodstraf uitgeloop en dit toegepas was, was sy Suid Afrika se geskiedenis ook anders…..maar nou ja, as is verbrande hout.

Stephan de S ·

Dankie Pierre, dis n lekkerlees storie wat n geskiedenis-liefhebber se tone laat omkrul.Mag jy nog baie ontdekkings maak.

Dorothy ·

Dankie Pierre, ek het dit nou baie geniet! Sien uit na jou volgende skrywe.

Jean ·

Tog te interessant. Ja, Afrika is ‘n karaktervormende plek vir laterale denkers. Hier Churchill, Botha en Gandhi.

Swartwolf ·

Fantastiese artikel. Baie leersaam. En baie om op trots te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.