Diabetes en oogsorg

Dr. Jan Niemandt van die Pretoria Ooginstituut. (Foto: Verskaf)

Dr. Jan Niemandt van die Pretoria Ooginstituut. (Foto: Verskaf)

November is Diabetesbewusmakingsmaand, en met Wêrelddiabetesdag wat op 14 November herdenk is, is dit ʼn gepaste tyd om te fokus op die uitsonderlik hoë persentasie van ons bevolking wat deur dié toestand geraak word.

Luidens ʼn mediaverklaring deur die Pretoria Ooginstituut, dui die jongste statistieke van die Internasionale Diabetesfederasie (IDF) dat ʼn verbysterende 1,8 miljoen volwassenes uit ʼn volwasse bevolking van 33 miljoen Suid-Afrikaners met diabetes gediagnoseer is – ʼn syfer wat na verwagting eksponensieel sal toeneem.

“Die redes hiervoor dek die spektrum van die suikerepidemie, stres en ongesonde lewenstyl tot ʼn bevolking met een van die hoogste vlakke van obesiteit. Elkeen van hierdie faktore is op sigself ʼn bron van kommer,” het dr. Jan Niemandt, ʼn toonaangewende oogspesialis van die Pretoria Ooginstituut, luidens die verklaring gesê.

“Hoewel die situasie kommerwekkend is, is die goeie nuus dat diabetes, asook die newewerkings daarvan, deur middel van die regte dieet, oefening en gereelde mediese ondersoeke bestuur kan word. Nog ʼn deurslaggewende oorweging is behoorlike oogsorg, gegewe die feit dat diabetes die hoofoorsaak van blindheid in volwassenes tussen 20 en 74 jaar oud is.”

Wanneer dit by oogtoestande kom, is voorkoming beter as genesing. “Met gereelde optiese sorg, kan die risiko’s wat gepaardgaan met die verlies aan sig weens diabetes aansienlik verlaag word,” verduidelik Niemandt.

“Diabeteslyers moet baie noukeurig enige verandering in hul sig moniteer,” het Niemandt gemaan. “Simptome wat onmiddellik deur ʼn deskundige ondersoek moet word, sluit in vervaagde sig, skerp pyn in die oog, ʼn verlies aan sig in een of albei oë, ligflitse, asook naarheid, braking of hoofpyne wat met oogkomplikasies gepaardgaan.

“Daar bestaan nie iets soos ‘ligte’ diabetes nie, en ons neem ons verantwoordelikheid teenoor ons pasiënte baie ernstig op. Teen die agtergrond van volgehoue mediese vordering met die behandeling van diabetes, asook die optiese newewerkings van die toestand, bly ons daartoe verbind om elke geleentheid aan te gryp om met holistiese oogoplossings vorendag te kom. Uiteindelik gaan dit vir ons om die mens, nie net die behandeling nie,” het Niemandt bygevoeg.

Die onderstaande is ʼn lys van die oogprobleme wat diabeteslyers kan aantas:

  • Diabetiese retinopatie: ʼn Toestand wat die bloedvate in die retina aan die agterkant van die oog raak.
  • Diabetiese makulêre edeem: Swelling van ʼn gebied in die retina, genaamd die makula, wat deur die opbou van vloeistof veroorsaak word.
  • Katarakte: Die vertroebeling van die gewoonlik deursigtige kristallyne lens van die oog wat tot vervaging in sig lei.
  • Gloukoom: Die voorkoms van abnormaal hoë druk in die oog vanweë ʼn oormaat vloeistof wat die oogsenuwee kan beskadig.

Vir meer inligting, bel die Pretoria Ooginstituut by 012 427 0000 of stuur ʼn e-pos na [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oftalmiese Assistent ·

Hallo, wysig asb julle berig. Dr Jan Niemandt is n oogspesialis en nie n oogkundige nie. Daar is n groot verskil. N oogkundige/optometris is nie n dokter nie. Oogspesialis/oftalmoloog is wel. Dankie!

Tania Heyns ·

Dagsê Oftalmiese Assistent

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.