Die Franse joernalis in my rooi BMW se kattebak

verwerk-delphine-marie

Delphine Marie, beeldskone Franse joernalis wat Pierre Massyn ‘n Afrikastaat binnegesmokkel het. Hier staan sy by die inlaattoring van die Lesotho Hoogland-waterprojek, destyds in aanbou toe Massyn kommunikasiebestuurder vir dié internasionale projek was. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Haar fluweelsagte aksent sou enige warmbloedige man se toonnaels laat opkrul het. Dit het met my ook gebeur, sekondes ná my grys staatsdienstelefoon daardie dag die soveelste keer gelui het.

“Monsieur Massyn? Je ‘me suis l’envoyé extraordinaire de Hydroplus en Paris, spécialisée dans les grands barrages… J’ai un problème et vous seul pouvez m’aider. S’il vous plait Pierre Francois!”

Ek het slegs ’n oomblik kans gehad om te dink. Hydroplus was dié prestige tegniese tydskrif in Europa en een van die toonaangewendses in sy genre ter wêreld. Sý was onmiskenbaar Frans. Behalwe dat haar stemtoon aanlokliker was as ’n grande crème op ’n wintersoggend in die Champs-Élysées, het sy klaarblyklik meer van my geweet as die gewone nuusjagter wat my daagliks uit die bloute wou kom sien.

Delphine Marie wás mooi. Sy was chic en elegant. Boonop het sy met die minimum grimering ’n ongekunstelde sjarme gehad, hoewel sy gelyk het asof sy haar pas van Vogue se voorblad in die koffiewinkel, ’n blok van die Residensiegebou in Schoemanstraat in Pretoria (waar my kantoor was), tuisgemaak het.

Soos alle knap joernaliste, het sy bepaalde eienskappe gehad. Sy kon netwerk. Sy het ’n fyn waarnemingsin gehad. Voeg daarby ’n titseltjie vroulike intuïsie, et voila, jy het ’n fenomeen op jou hande met ’n skop soos Frankryk se beste cognac.

Ek het geweet wat ’n femme fatale was, want my paaie het met Ingrid Pepler[1] s’n gekruis en Mademoiselle Marie wás een. Sy het ook ’n sin vir nuus gehad. Dis hoekom sy geweet het Fase 1A van die projek[2] nader nou vinnig voltooiing (2).

Joernaliste werk teen spertye. En hul redakteurs verwag soms die onmoontlike. Ek het haar posisie verstaan, want ek kom uit dieselfde milieu en slypskool. Om haar te help met enige brokkie inligting oor die komplekse, reusagtige Lesotho Hoogland-waterprojek (LHWP) sou die maklike deel van my werk as projekwoordvoerder gewees het. Maar hierdie Franse brunet in haar laat twintigs se onmiddellike probleem was anders en eiesoortig. Haar redakteur wou haar op die terrein hê, by die Katsedam self (die sleutelkomponent van die projek) en in daardie stadium die grootste in sy soort ter wêreld. ’n Terreinbesoek op sigself sou ek maklik kon aanlê. Ek het immers deurlopende kontak met die rolspelers, soos die menigvuldige kontrakteurs en konsultante, gehad.  Maar daar was ’n ander kwessie – toegang tot Lesotho.

Dit was 1995. Delphine Marie het nie ’n visum vir Lesotho gehad nie. Ek was nie net haar inligtingsbron nie, in haar uur van nood moes ek ook haar chevalier wees. Sy is reeds op Air France terug na Parys bespreek. Uit die aard van my pos, kan ek dalk vir haar ’n deur of wat oopmaak. Onderhoude reël met Spie Batignolles en Bouygues en die ander Franse maatskappy wat hul tegnologie, kennis en vaardighede na hierdie wilde kontinent gebring het.

Mademoiselle, kry jou bagasie reg, ons vertrek oor ’n uur, d’accord? Ek sal na jou omsien, maar ek moet net eers ’n paar oproepe maak.

Wat ek haar nie gesê het nie, was dat ek van die Trans-Caledon-tonnelowerheid, op wie se betaalstaat ek was, ’n gesekondeerde ex-officio lid van die Gesamentlike Permanente Tegniese Kommissie was – die binasionale liggaam wat bestaan het uit verteenwoordigers van Suid-Afrika en Lesotho. Ek het naamlik maandeliks met my eweknie van die Lesotho Hoogland-ontwikkelingsowerheid (LHDA) in Maseru vergader. Om my gereelde toegang tot die Bergkoninkryk te vergemaklik, was daar ’n indrukwekkende stempel in my paspoort wat my kwasidiplomatieke status verleen het. My bekwame baas, Willie Croucamp, die projek se besturende ingenieur van die departement waterwese, het daarvoor gesorg. Croucamp het my genoegsaam vertrou om my carte blanche te gee met alle media-aangeleenthede en terreinbesoeke.

My helderrooi BMW met sy allooivellings en sondak maak die pad kort. Op die N3 by Villiers swenk ons suid. Ek en Delphine praat oor Suid-Afrika in ons nuwe demokrasie. Haar Engels is strate beter as my Frans. Die gesprek wissel van Nelson Mandela tot die Wêreldrugbybeker. En wat dink ek daarvan, wil sy weet.

“Wel”, waag ek so vlymskerp soos ’n Joost van der Westhuizen-breekslag, “Suid-Afrika het wêreldrugby vir 60 jaar oorheers. En ons gaan op 24 Junie amptelik die wêreldkampioene wees.”

Ek kan sien sy soek ’n aanhaling vir haar Franse lesers en voeg ondeund by: “Sedert die Anglo-Boereoorlog, het rugby vir Suid-Afrikaners, veral ons Afrikaners, ’n manier geword om ons meesterskap oor Engeland en die Engelse te bewys![3]

Sy hou daarvan, want sy is Frans en die Engelse het die volksheldin en -martelaar Jean van Ark (Jean D’Arc) op die brandstapel verbrand.

Ons werk in die rigting van Tweeling, Reitz, Bethlehem en dan Clarens. Sy verlang na du fromage, en ek ontdek weldra sy het ’n skrikwekkende aptyt vir kaas.

Ons bespreek ons strategie haarfyn. Ons gaan die grens by Caledonspoort oorsteek. Ons plan kom daarop neer dat sy my onvoorwaardelik moet vertrou. Sy is nie bang nie. Die bloed van haar dapper voorvaders wat Engeland by die Slag van Hastings in 1066 verpletter het, pols warm in haar are. Sy leer my die aangrypende La Marseilles. My bloed bruis tot vandag toe as ek hierdie chanson de combat hoor, en tot vandag toe is hierdie meesleurende strydlied die luitoon van my selfoon.

Die oomblik van waarheid breek aan toe ek die BMW by Wyndford Holiday Farm, waar ek dikwels met toergroepe oornag het, aftrek. Aan die oorkant van die pad is daar Boesmantekeninge van dolfyne, maar niemand is seker of dit seedolfyne of rivierdolfyne was wat die kunstenaar teen die rotswand geskilder het nie.

Mademoiselle, je suis vraiment tres desole, maar jy moet nou uitklim. Maintenant.”

Met die panache en flair van ’n ballerina klouter die beeldskone Franse joernalis grasieus in my motor se beknopte bagasieruim; jy sou sweer dis die natuurlikste ding op aarde. Die doeanebeamptes ken my, maar mens weet nooit.

Blasé bied ek my paspoort aan en probeer so verveeld as moontlik lyk terwyl ek hulle tersluiks dophou. Ses voet agter my is Delphine tjoepstil in die donker bakruim soos ek haar gebied het. Geen probleem aan die Suid-Afrikaanse kant nie. Nou vir Lesotho.

Dumelang Morena!” Ek gebruik doelbewus die respekvolle “Morena” en nie die gebruiklike “Ntati” nie, en hoop die beampte sal nie wonder hoekom my bagasie vandag op die agterste sitplek staan en nie in die kattebak is nie. Die Mosotho in sy kraakvars uniform staar my aan of hy my moontlik vantevore gesien het, bekyk die stempel in my paspoort. En toe lig hy die valboom. Ons is in!

Net voor ons Butha-Buthe binnery, trek ek weer af, buite sig van nuuskierige polisiemanne en doeanebeamptes. Ek laat Delphine vry. Sy lyk verlig, glimlag skalks en herwin in ’n oogwink haar poise.

verwerk-pierre-massyn-garies-van-zyl-en-willie-croucamp

Garies van Zyl van TV-nuus in gesprek met Pierre Massyn (links), destydse skakelhoof van die Lesotho Hoogland-Waterprojek. Regs van Massyn staan Willie Croucamp van die Departement van Waterwese en Bosbou en toe Projek-Ingenieur van hierdie komplekse, multi-nasionale projek wat onder meer deur die Wêreldbank gefinansier is en die beste tegnologie ter wêreld na die afgeleë en onherbergsame Maluti’s in die Bergkoningkryk gelok het. Foto: Verskaf.

Ons vleg deur die skilderagtige Maluti’s tot by Afrika se hoogste dam. Ons sal oornag in die Katse Lodge. Op die konstruksieterrein wag ’n televisiespan van die SAUK my in. Andries van Zyl kyk my met ’n jaloerse blik aan toe ons by die uitkykpunt oor die skouspelagtige Malibamatso-rivervallei stop.

“Jis Pierre, en wie is hierdie skoonheid by jou?”

“Ou Garies, ja man, hierdie werk van my bied bepaalde byvoordele.”

My baster miniatuurwindhond se naam is Delphine. Dit is ook geen toeval dat sy ’n Franse paspoort het nie. Eendag sal ek haar vertel van haar baas se rol in Afrika se menslike smokkelhandel en van haar naamgenoot en asemrowende compatriote.

  • Pierre Massyn was van 1991 tot 1996 die kommunikasiebestuurder van die Lesotho Hoogland-waterprojek. Hy is ’n Franse burger en die skrywer van Springbok Rugby-Vasvra.

Voetnotas:

[1] Sien “Sowetodag: ’n Oud-joernalis onthou”: Maroela Media 16 November 2018. Ingrid Pepler was by Beeld werksaam.

[2] Fase 1A van die LHWP het, onder meer, die Katsedam, die inlaattoring, die verskillende trajekte deurvloeitonnels na Suid-Afrika, die Muela-hidrokragstasie en die infrastruktuur soos paaie, geboue en krag behels.

[3] Delphine Marie haal my soos volg aan in haar verslag wat op 19 Junie die wêreld ingestuur word: “Exceller en rugby était devenu pour nous le moyen idéal de batter les anglopholes à leur proper jeu”, racconte (M. Pierre-Francois Massyn) un fonctionnaire Afrikaner, évoquant l’hostilité sous jacente entre ces deuz groups de Blancs. Op 24 Junie was die Springbokke wél wêreldkampioene ná hul oorwinning oor Nieu-Seeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Madeleine ·

Ekt nou hierdie geniet
Was weggevoer tot daar in Lesotho

@Stephan de S ·

“Mnr Massyn? Ek is die verteenwoordiger/ afgesant van die ‘Hydroplus’ in Parys, wat spesialiseer in groot damme. Ek het ‘n probleem en jy is die enigste een wat my kan help. Asseblief Pierre Francois.” ….
soos ek verstaan met my beperkte kennis, danksy 1 jaar klas by Alliance Française in Jhb.

Stephan de S ·

Dankie Pierre vir jou reaksie. Dis so lekker om op so n manier te korrespondeer.

Therese van Schalkwyk ·

Héérlik gelees!
Soos ‘n wafferse joernalistieke ‘James Bond’ met die mooi Franse mademoiselle in die kattebak van die rooi BMW.
Pierre Massyn mág maar skryf!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.