Die meubilering van die Voortrekkers se bootvormige hartbeeshuise

Meubilering-hartbeeshuise-01

Figuur 2. ʼn Hartbeeshuis van binne gesien. Let op die gepleisterde muur
(links) wat as pakplek vir kleiner items dien en die gordyn (agter)
wat die huis in twee vertrekke verdeel. Die rusbank is ʼn uiters
eenvoudige meubelstuk wat deur die inwoners self
gemaak is (Erich Mayer, Bosveldwoning, Voortrekker-
styl, noord-oos van Brits, tekening, 1927).

Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, beskryf in hierdie week se artikel hoe die Voortrekkers ’n bootvormige hartbeeshuis gemeubileer het.

Deel VII: Meubilering

Die meubels in ʼn tydelike pioniershuis het slegs uit dít wat op die wa gelaai kon word as daar  getrek moes word, bestaan. Bell het in ʼn skildery getiteld Interieur van die tent van ʼn Trekboer in Griekwaland (1835), die karige besittings van ʼn pionier uitgebeeld (Fig. 1).

Tregardt het op 22 Maart 1837 in sy dagboek geskryf: “Ik had die dag niets te doen als de hartbeeshuis te late pleisteren, en Pieta heb de katel … op gezit.[1]

Backhouse berig oor die hartbeeshuis van die boer Salomon en sy vrou Adriana Catharina Nortje[2] by wie hy in die Transorangia naby die Sand- en Modderrivier in 1839 oornag het: “Their house presented no attractions in regard to cleanliness; but it was the abode of hospitality, and in some measure, a shelter from the cold.” Die meubels het bestaan uit ʼn lae bed, twee wakiste wat as ʼn tafel gedien het, twee klapstoele, ʼn stoel, en ʼn konfoor vir die vrou wat sonder skoene was, ʼn paar ysterkookpotte waarvan een met ʼn gat in die sy in die middel van die vertrek gestaan het met ʼn klein hout vuurtjie binne-in. Daar was ook ʼn ketel, ʼn geweer, ʼn paar kleiner items en ʼn stapel velle waarop die kinders geslaap het. Buite was onder meer ʼn rietskerm wat as ʼn kookplek gedien het.[3]

In kontras met Backhouse se beskrywing, het Aucamp oor die meubilering van ʼn bootvormige hartbeeshuis in die Stormberge in die Noordoos-Kaapland geskryf:

Soos hy [die vloer] droog is, kom die vrouens aan die kant maak. Nou word dit gesmeer en die huisraad ingedra en die kooie word spierwit oorgetrek, en wit doekies oor die tafeltjies.

Niemand wat dit nie gesien het nie, kan hom voorstel hoe deftig so ʼn huis kan lyk nie.[4]

Soos Aucamp, het Spoelstra die netheid van die interieurs van die hartbeeshuise bevestig: “… hulle het hulle meubeltjies mooi daarin gerangskik en alles skoon en sindelik gehou.”[5] Volgens Spoelstra het die meubels uit stoele, tafels, rusbanke, wakiste en katels bestaan: “…alles alleen eiehandige boermaaksel.”[6] In ʼn spesifieke geval het ʼn paar geskuurde kookpotte wat uit die kookhuis ingebring is, in die een hoek van die huis gestaan.[7]

In Erich Mayer se skets van die binnekant van ʼn bootvormige hartbeeshuis noord van Brits (1927) (Fig. 2), word die huis deur middel van ʼn horisontale paal met ʼn gordyn in ʼn slaap- en woonkamer verdeel. In die woonkamer teen die gordyn staan ʼn riempiesbank met ʼn stoel regs daarvan. Dit wil voorkom asof die stoel by ʼn klaptafel staan wat deur die rand van die skets afgesny word. Die dakmuur wat tot op ʼn hoogte van ongeveer 0.9 of 1.2 meter (3 of 4 voet) gepleister is, het as pakplek vir ʼn aantal kleiner voorwerpe gedien.[8]

Meubilering-hartbeeshuise-02

Figuur 2. ʼn Hartbeeshuis van binne gesien. Let op die gepleisterde muur
(links) wat as pakplek vir kleiner items dien en die gordyn (agter)
wat die huis in twee vertrekke verdeel. Die rusbank is ʼn uiters
eenvoudige meubelstuk wat deur die inwoners self
gemaak is (Erich Mayer, Bosveldwoning, Voortrekker-
styl, noord-oos van Brits, tekening, 1927). Uit: Nasionale Kultuurhistoriese Museum, HG 7014 312.

Bronne:

[1] L. Trigardt, Die dagboek van … (red. T.H. le Roux) (Pretoria, 1982), p. 23.

[2] J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa (London, 1844), p. 419; C.C. de Villiers, Geslagregisters van die ou Kaapse families II (Kapstad 1966), p. 656.

[3] J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa, pp. 419-420.

[4] C.C.E. Aucamp, Vanslewe: fragmente uit die dagboek van … (1868-1953), in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge, ʼn vertolking van ʼn streek (Kaapstad, 1971), p. 103.

[5] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe. Kultuur-historiese leesboek (Pretoria, 1924), p. 73.

[6] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe, p. 73.

[7] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe, p. 72.

[8] Nasionale Kultuurhistoriese Museum, HG 7014 312, tekening: Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noordoos van Brits (hardbieshuis), E. Mayer, 1927.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Peet Schabort ·

“Nou word die vloer gesmeer nadat hy droog is. Waarmee glo ek dat dit beesmis was ?
En die mure glo ek was met modder gepleister ?
Die eerste tekening is nie fig. 2 maar wel die tweede.
Nogtans dankie en baie insiggewend.
Net weer ‘n bewys dat ons voorvaders nie in weelde geleef het soos nou se dae die prentjie uitgebeeld word om ons ‘by te kom’.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.