Die ouderdom is nie vir almal beskore

Meryl Streep in ‘Only murders in the building’. (Foto: IMDb)

So sit ek die naweek vroegoggend reeds af na die haarsalon om die dergelike grys strepies wat stelselmatig in my middelpaadjie vermeerder, toe te kleur.

Langs my sit nog twee vroue, albei se haarwortels ook die ene haarkleur besmeer. “Weg met die grys!” is al wat ek sê toe die haarkapper vra wat my behoefte is.

Ek en die ander vroue maak oogkontak soos die deelnemers in The Hunger Games – grys is die verpestelike vyand en ons sal hom vandag, hier tussen die haardroërs en die sterk walms van ammoniak en sjampoe, verslaan.

Terwyl ek wag vir die haarkleursel om sy werk te doen, kry ek ʼn paar boodskappe van my suster in die Kaap. Dié is ook by die haarsalon, besig om die silwer spatsels in haar haarlyn toe te kleur.

“Ek botoks ook my hare,” skryf sy. Botoks? Ja, sê my haarkapper toe ek nuuskierig uitvra – ek dog nog altyd ʼn mens botoks net jou gesig.

Nee, verduidelik die haarkapper, botoks vir die hare is fantasties. Dit hou die hare soepel en glad en stryk as’t ware die hare plat soos botoks met die voorkop ook maar maak.

Deesdae pomp mense mos hulle wange, lippe en voorkoppe sonder skaamte met botoks en ander kosmetiese produkte in. Dié storie, wat vir my maar bra pynlik lyk as ek moet eerlik wees, word skoon op sosiale media gedeel sonder om te blik of te bloos.

Fair enough, dink ek elke keer, maar hier en daar is ʼn suster (en selfs ʼn broer) wat ek voel maar effe kan brieke aandraai met die spuitnaalde. Ons weet later nie meer of jy hartseer of gelukkig is nie, want elke gelaatstrek lyk dieselfde.

Vat maar vir Madonna (en die meerderheid van Hollywood) as ʼn voorbeeld: As jy een keer te veel onder die mes gegaan het, is daar geen meer omdraaikans nie.

Watse onverwagte verligting was dit nie vir my nie toe ek na die nuwe seisoen van die Netflix-reeks Only murders in the building kyk, en die lieflike Amerikaanse aktrise Meryl Streep (74) verskyn op die skerm met plooie en kreukels en al!

Elke liewe een van daardie lyntjies op haar gesig het my herinner aan die gesogte aktrise wat sy is, asof elke lyntjie ʼn rolprent of ʼn mylpaal in haar lewe verteenwoordig. My respek vir haar is nou selfs nog meer.

Is dit nie maar eintlik wat dit is nie? Is ons plooie en lyntjies nie net die liggaam se manier om te wys “hei, jy, ek is deur baie, en ek bied jou al vir jare soveel, respekteer my!” nie?

Is elke plooi en lyntjie nie net ʼn verteenwoordiger van wat ons op hierdie aardbol kon vermag, ten spyte van ongelooflike uitdagings, nie? Is oudword nie ʼn eer nie? Hoekom beveg ons hierdie natuurlike proses so ter wille van skoonheidstandaarde en sosiale media?

Die nuus van die jong kletsrymer Angie Oeh se afsterwe weens kanker in die jong ouderdom van 24 ruk my. Ons is so gekant teen die tekens van ouderdom, maar tog is dit iets wat nie almal beskore is nie.

Ek kan nie help om te wonder nie: Wat sou dié wat die aarde jonk verlaat wou gee vir grys hare in hulle middelpaadjies?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Daisy ·

Daar is baie voordele aan oud word en ek geniet elkeen van hulle.
Bankkostes en subskripsies word verlaag, jy hoef nie meer ander se grille en giere in ag te neem nie, jy kan maak wat jy wil (as jou pyne en skete dit toelaat), jy kan kook en eet wat jy wil en daar is nog baie meer

Bolandse Nooi ·

Nee, wat … mens moenie te oud raak nie. Mens moet die een of ander tyd dood. In my geval, hoe vinniger dit kom, hoe beter. Ek beplan nie om 2024 te verwelkom nie.

Laminin ·

Ek het op 48 by my haarkapper ingestap en gesê strip elke gryntjie kleur van my hare af! Op 50 is ek letterlik spierwit grys. Daar gaan byna nie ‘n dag verby wat ek nie gekomplimenteer word oor my pragtige hare nie. Dis die mees bevrydendste aksie wat ek nog geneem het. Nie een dag spyt nie. Spaar minstens R800 per maand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.