Die suidelikste houtvrou het nóg ʼn geheim

marie-elise-boegbeeld

Marie Elise (die boegbeeld van die bark met dieselfde naam) het op Dinsdag 6 November 1877 dubbele burgerskap verkry toe sy in Suid-Afrikaanse waters uitgespoel het. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Sy is nie net mooi nie, sy is beeldskoon. Tog daar is ʼn effense weemoed in haar gesig te bespeur. Haar naam is Marie Elise. Sy is Frans. Lyk half of sy uit die adelstand kon kom. Sy is sonder twyfel misterieus. Menige bewonderaar is al meegevoer deur haar sielvolle oë en het waarskynlik gewonder wat sy probeer sê. Almal het tog ʼn storie, ’n lewensverhaal om te vertel. Haar veraf blik en uitdrukking spreek van ʼn hunkering, so asof sy na iets soek. Dalk haar lang verlore minnaar? Of verlang sy sommer net na haar tuisdorp in die verre Frankryk?

Ô femme merveilleuse, quell mystère as-tu gardé?
Dis-moi ton secret, d’où viens-tu?
Avez-vous déjà eu un amant?

Of, soos Koos du Plessis dit nostalgies in Afrikaans stel met sy aangrypende “Kinders van die Wind”:

Ek ken ʼn ou, ou liedjie
Van lank-vergane skepe
In die kelders van die see
Van swerwers sonder rigting
Van soekers wat nooit vind…

Marie Elise (die boegbeeld van die bark met dieselfde naam) het op Dinsdag 6 November 1877 dubbele burgerskap verkry toe sy in Suid-Afrikaanse waters uitgespoel het. Om drieuur die oggend op daardie geskiedkundige dag, tref die Franse bark (ʼn driemasseilskip) ʼn rotsrif by Ryspunt. Die skip was besig met sy terugvaart na sy vaderland – die Franse eiland Bourbon in die Indiese oseaan – nou Réunion.

Kaptein Portal van die Marie Elise het teen sonsondergang die vorige aand, tydens die verbyvaart om Kaap Infante, ʼn rooi baken aan die kuslyn opgemerk. Hy sien dit aan vir die Agulhas-vuurtoring en laat die skip se koers na noord verander. Ryspunt lê sowat 30 seemyl oos van Kaap Agulhas… Hierdie besluit het aanleiding daartoe gegee dat die geheimsinnige houtvrou (die boegbeeld van die bark) Suid-Afrika s’n word het.

Daar word vertel dat die boegbeeld van die Marie Elise by L’Agulhas uitgespoel het. Ek kan nie pa staan vir die waarheid hiervan nie. Hoe dit ook al sy, la belle femme met haar pleitende uitdrukking kry haar staanplek in die Skeepswrakmuseum op Bredasdorp. Die een wat voor Afrika se suidelikste vuurtoring pryk, is ʼn replika. Dirk Uys, LV en pa van die bekende Suidpunter Sumarius Uys, het haar in 1948 onthul om saam te val met die 100-jarige herdenking van die voltooiing van ons ikoniese vuurfakkel.

Daar is altyd mense met kennis oor bepaalde onderwerpe. Sulke mense moet jy respekteer. Die grootste gesaghebbende oor skeepswrakke aan die suidpunt is die skrywer Jeannette Grobbelaar. En so vertel sy my nou die dag iets merkwaardigs: die Marie Elise in die museum het ʼn dubbelganger… en dis nie die replika wat Sumarius se pa onthul het nie!

“Pierre, kyk mooi na die houtvrou. Jy sal sien aan haar regterkant is sy heeltemal gelyk, geen kurwes nie. Wat sê dit vir jou? Sy het ʼn tweelingsuster gehad! Ons vrou moes aan die bakboordkant (links) op die Marie Elise se boeg gemonteer gewees het. Ek is oortuig daarvan haar sussie het direk langs haar gestaan, aan die stuurboordkant. Die skip het ʼn dubbele borsbeeld gehad – ʼn rariteit as daar ooit een was! Die twee beelde moes langs mekaar ingepas het.”

Jeannette Grobbelaar was van 1975 tot 1983 die hart en siel van die Skeepswrakmuseum op Bredasdorp – die enigste een in Suid-Afrika en een van die weiniges in die wêreld. Sy word binne twee maande nadat sy daar as sekretaresse aangestel word, kurator.

Eendag krap sy met ʼn breinaald aan die geheimsinnige dame. “Ek sien toe haar kleur is koningsblou, soos dié van ’n Franse vorstehuis. Toe besef ek sy kan niks anders as volbloed-Frans wees nie. ”

Niemand sal natuurlik weet waar ons geheimsinnige beskermengel se alter ego haar nou bevind nie… dalk dwaal sy op êrens op die suidpunt rond op soek na haar ander helfte.

Maar daar is ʼn verdere konneksie tussen die Uyse en ons Franse vrou. Dit was Ryspunt wat die Marie Elise geëis het. Dié het sy naam gekry toe die Italiaanse bark Momina Zino op 25 November (my troudag) in 1874, in digte mis en reën op dieselfde rotsrif loop waar die Queen of the Thames beswaarlik drie jaar gelede in 1871 ook na haar ewige seegraf gestuur is.

Ja, julle het reg geraai: Die Momina Zina se vrag was rys! En die tweede Uys-konneksie? Ene Piet Uys het die plaas Martha 2 besit wat aan Ryspunt gegrens het!

Terloops, moenie verbaas wees as die water by Ryspunt effens soeterig proe nie… die Marie Elise se ruim was propvol suiker van Réunion! Ek wens ek kon Marie Elise se ander helfte kry. Dan sal ek haar trane kan afvee en haar met haar sussie herenig…

  • Pierre Massyn is ʼn navorser en Franse burger. Hy is op ʼn Dinsdag gebore – dieselfde dag waarop die Marie Elise gestrand het.

Voetnota:

[1] Hoewel daar onsekerheid bestaan oor die Franse herkoms van die Marie Louise-boegbeeld by die personeel wat tans by die Skeepswrakmuseum op Bredasdorp werk, berus ek my by die navorsing van Jeannette Grobbelaar, voormalige kurator van die museum, vanweë haar navorsing en uitgebreide kennis ten opsigte van skeepswrakke aan die suidpunt van Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

ZAR ·

Wat ‘n heerlike storie, dankie. Ek het my nou omtrent ingeleef. Ek het dadelik die plat linkerkant opgemerk, maar het gedink dit het afgebreek en is net weer oorgeverf.
Jou voetnota is vir my weereens ‘n bewys hoe belangrik vakleerlingskap is en hoe nodig dit geword het. Ons kennis moet oorgedra word aan die kinders van vandag.

Peet Schabort ·

Dankie vir ‘n broodnodige artikel. Die voetnota laat my terugdink hoe ek en my vrou by Kaappunt personeel daarop gewys het van artikels wat saam in ‘n uitstalling verskyn wat nie uit daardie tydvak dateer. Dit is gelukkig dadelik verwyder. Ongetwyfeld is kurators ‘n onmisbare by museums maar is besig om te verdwyn. Gewone belangstelling soos wat ook ek het is net nie genoeg. Ek herinner my aan die harde werk wat kurator Antoinette Antha ingesit het by Bethal se museum reeds in die 1990’s om reg te laat geskied aan ALLE bevolkingsgroepe vd omgewing. Dis nou al 25 jaar later en . . . dat ek liewer my kommentaar terughou . . . Volgens my is universiteitsopleiding ‘n MOET vir kuratore.

E.K. vra net ·

Was dit nie haar geliefde aan haar sy wat dalk weg is nie? Mens wonder…

John ·

Daaris soveel interessanthede in daai museum, soos die swart begrafniskoets met die mooiste glasvensters wat mens laat hoop dat die reisiger en die betraande familie dit tog raakgesien het. So van lyding gepraat… Na nou die dag se mooi preek van dominis was ek ook verplig om die winkeleienaar te versoek om darem ook swart toiletpapier op die rakke te sit. Mens kry darem al swart seep en swart poppe, maar sjoe, hoeveel pyn en lyding vir jare al of is of is daar ‘n dieper betekenis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.