Doktorale navorsing inspirasie vir gradeplegtigheid-rok

Dr. Anja Erasmus. (Foto: Zeniël de Meyer/Zenography)

Dr. Anja Erasmus het nie soos talle ander vroue ure in die winkels deurgebring op soek na die perfekte uitrusting vir haar gradeplegtigheid nie, maar het eerder inspirasie uit haar eie navorsing oor parasiete geput om ʼn skepping vir dié spesiale geleentheid op te tower.

Erasmus het einde Julie haar doktorsgraad in omgewingswetenskappe aan die Noordwes‑Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus verwerf en het op die verhoog gepronk in ʼn uiters unieke rok waarop ʼn uittreksel van haar tesis op lap gedruk is.

Erasmus het aan Maroela Media vertel dat die saadjie vir dié skepping reeds in 2018 deur haar ma, Carien Pienaar, geplant is toe sy ʼn plakkaat vir ʼn konferensie ontwerp het waarvoor sy gekleurde bloedselle as agtergrondpatroon gebruik het.

“My ma het toe reeds opgemerk dat die patroon vir haar so mooi is dat sy dit op lap sal wil druk, maar omdat ons destyds nog konferensieplakkate op papier gedruk het, het ons nie veel daarvan gemaak nie,” verduidelik sy.

Erasmus en haar navorsingsgroep het egter vroeër vanjaar plakkate wat hulle vir ʼn konferensie in Kopenhagen, Denemarke, gebruik het, op lap laat druk omdat dit makliker is om te vervoer en boonop meer omgewingsvriendelik is.

Erasmus saam met prof. Victor Wepener (links) en prof. Nico Smit (regs) by die konferensie in Kopenhagen. (Foto: Verskaf)

“My studieleier, prof. Nico Smit, het opgemerk dat dit werklik omgewingsvriendelik sal wees indien ʼn student dié lap weer benut en tydens ʼn praatjie dra. Ek het toe vir my ma gevra of sy kans sien vir die uitdaging.”

Erasmus vertel dat haar ma, ʼn regsadviseur, nog altyd gaande oor naald- en skilderwerk was en al menigmaal vir haar items soos rokke vir dinees, handsakke, dagboekoortreksels en selfs sakke vir haar skootrekenaar, asook ʼn disseksiestel vir haar veldnavorsing gemaak het.

“Ons het soos altyd ʼn paar ontwerpe oorweeg, in hierdie geval om ook die meeste van die inligting op die lap te behou, en sy het die finale ontwerp bepaal en die rok gemaak.”

Pienaar het die rok in Danabaai in die Wes-Kaap gemaak en Erasmus kon dit gevolglik twee dae voor haar gradeplegtigheid vir die eerste keer aanpas. “Ek en my ma was aanvanklik skepties, maar dit het perfek gepas. Dit is altyd vir my lekker om iets te dra wat sy gemaak het.”

Erasmus se studieleier het ook ʼn foto van haar in haar unieke uitrusting op Twitter gedeel en ʼn positiewe reaksie op sosiale media ontketen.

“Die geweldige reaksie van my studieleiers, sommige lede van die prosessie van die gradeplegtigheid en ook op sosiale media, is steeds vir ons verbasend. Baie mense het vir ons gesê dit is innoverende en iets wat hulle ook in die toekoms sal wil probeer.”

Erasmus verduidelik dat daar na haar spesifieke studieveld as omgewingsparasitologie verwys word en dat die navorsing wat op haar rok uitgebeeld word oor die parasietgemeenskap van die superklipvis (Clinus superciliosus), wat in getyrotspoele en tussengetypoele voorkom, en die invloed van faktore op die voorkoms en verspreiding van parasietspesies tussen verskillende liggings langs die Suid-Afrikaanse kus handel.

Die NWU sowel as die Nasionale Navorsingstigting (NNS) se logo’s is ook op die rok te sien. (Foto: Zeniël de Meyer/Zenography)

Die NWU sowel as die Nasionale Navorsingstigting (NNS) – wat haar navorsing befonds het –  se logo’s is ook daarop te sien.

Erasmus sê dat sy nog altyd ʼn belangstelling in die natuur gehad het.

Sy het in 2011 aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria gematrikuleer en daarna haar studies by in BSc Toerisme, Dierkunde en Geografie by die NWU voltooi.

In 2015 het sy met haar nagraadse studies in biodiversiteit en bewaringsekologie begin, waar haar liefde vir navorsing in dié veld werklik vlam gevat het.

“In my navorsingsfokus in omgewingsparasitologie kyk ek na parasietspesies in mariene visse, asook die rol wat hul in die ekostelsel speel. Ek stel verder besonder belang in kartografie en ruimtelike databestuur, en maak en gebruik graag kaarte vir publikasiedoeleindes.”

Dié blonde wetenskaplike geniet ook tans die navorsing wat sy by die Water Research Group van die NWU se eenheid vir omgewingswetenskap en bestuur doen. Sy het verder ʼn groot passie vir kaartwerk en databestuur en hoop om eendag met museumversamelings of organismes in ʼn akwarium te werk.

Sy en haar man, dr. Hannes Erasmus, woon tans in Potchefstroom en is albei besig met nadoktorale navorsing by die NWU.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.