Drawwers spring weg om ‘die son te wen’

Carla van Huyssteen, Corli Leonard en Tumi Matlou (Foto: Instagram via corlileonard)

Carla van Huyssteen, Corli Leonard en Tumi Matlou (Foto: Instagram via corlileonard)

Asics se Beat the Sun-veldwedloop het al vroeg vanoggend afgeskop en topatlete en amateurdrawwers, onder wie ses Suid-Afrikaners, het 15 uur, 41 minute en 35 sekondes om die wedloop te voltooi voor die son ondergaan.

Die veldwedloop vind plaas in Chamonix in Frankryk op 21 Junie – die langste dag van die jaar in die Noordelike Halfrond.

Dit is die tweede keer dat Asics, die vervaardiger van drafskoene- en klere, dié sonwedloop aanbied.

Agt spanne van ses drawwers elk neem deel aan die Beat the Sun-wedloop. Die spanne is onderskeidelik van Afrika, twee groepe van Asië, drie groepe van Europa en twee groepe van Amerika.

Maroela Media het vroeër berig hoewel Asics self die topatlete vir die wedloop gekies het, kon die publiek vir die amateurdrawwers stem.

Die oefenprogram vir die wedloop het reeds in Februarie vanjaar begin.

Die hele Afrika-span en hul ondersteuning (Foto: Instagram via corlileonard)

Die Afrika-span en hul ondersteuning (Foto: Instagram via corlileonard)

Die Suid-Afrikaners wat deelneem, is Corli Leonard, Tumi Matlou en Hadi Salmouni onder die amateurdrawwers, en Carla van Huyssteen, Givemore Mudzinganyama en Duncan Kiptanui onder die topatlete.

Ander wêreldbekende topatlete wat aan die wedloop deelneem, is Ryan Hall en Deena Kastor. Kastor het in 2004 ʼn bronsmedalje in die Olimpiese maraton verower en Hall is die rekordhouer vir die vinnigste maraton deur ʼn Amerikaner met ʼn tyd van 02:04:58.

Jy kan die wedloop en die spanne se vordering regstreeks dophou deur die Beat the Sun-webwerf te besoek.

Lees meer oor die atlete op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.