Een skakering donkerder

50-Shades-of-Grey-2

Marina Strydom verduidelik waarom sy nie die fliek ’50 Shades of Grey’ gaan kyk nie. Foto: Argief.

In die afgelope week gons die sosiale media en media behoorlik oor die fliek 50 Shades of Grey wat Vrydag, 13 Februarie vrygestel word en op die gelyknamige trilogie gebaseer is. Ek gaan nou nie hier verduidelik waaroor die boeke gaan as jy dit nie gelees het nie. Dit kan mens sommer maklik Google.

Ekself het ook nie die boeke gelees nie en ek beplan nie om die fliek te kyk nie. Onmiddelik sal kritici sê dat ek mos dan nie ‘n opinie kan uitspreek nie. Gewoonlik sal ek saamstem, maar in hierdie geval is ek van mening dat dit nie nodig is om die boeke te lees of die fliek te sien, voor jy ‘n opinie mag hê nie. Waarom sê ek so?

As ‘n twintigjarige student was ek saam met ‘n groep studente op ‘n toer in die buiteland. Op een sonnige somerse middag is ‘n klompie van ons Suid-Afrikaners by een van die studentehuise ontvang. Op ‘n stadium wou ek ‘n draai gaan loop en stap toe niksvermoedend in die toilet in. Net daar, binne ‘n paar minute, word ek toe brutaal en terloops van my jeugdige seksuele onskuld gestroop. Voor my op die deur, langs my teen die mure, onder my op die vloer, bo my teen die dak, letterlik oral is die hele plek toegeplak met die mees walglike, kru en skrikwekkende pornografie wat jy jou moontlik kan indink. Om die saak te vererger lê daar boonop ‘n stapel halfoop pornografiese tydskrifte verstrooi.

Ek was te oorweldig om nuuskierig te wees. Totaal verbyster en geskok het ek my oë so half-en-half probeer toeknyp, gedoen wat ek moes doen en so vinnig as moontlik daar uitgevlug. Maar dit was te laat. Die skade is gedoen. In daardie enkele minute is daar ‘n lêer in my kop geskep wat ek nooit weer kon uitwis nie. Die beelde het vir weke en maande daarna op die mees onvanpaste tye deur my kop geflits en dit vir my vormende seksuele identiteit baie moeilik gemaak om self te besluit wie sy is.

Hierdie gebeure het direk daartoe aanleiding gegee dat ek, jare later, as getroude volwasse vrou van 40 en ma van twee kinders en na eindelose ander “blootstellings” oor die afgelope 20 jaar die standpunt inneem dat ek nie na skadelike of geweldadige seksuele, sadomasochistiese (soos onder andere in 50 Shades of Grey) of pornografiese materiaal en destruktiewe vorme van erotika wil kyk nie.

Hoekom nie?
Is dit omdat dit tradisioneel sou sonde wees of omdat ek teen die verobjektifering van die menslike liggaam is of omdat ek “outyds” is of omdat ek teen enige vorm van subtiele geweld teen vroue is? Gedeeltelik ja, maar nie in die eerste plek nie. Ek wil nie daarna kyk nie, omdat ek oortuig is dat dit sleg is vir my en iets in my doodmaak en skeeftrek en vergiftig wat God eintlik as baie goed en mooi gemaak het.

Daar is nie een van ons wat nie ‘n seksuele wese is nie. Die vraag is wie is ek binne my seksualiteit? Ek glo dat daar ‘n fyn verwantskap tussen seksualiteit en spiritualiteit is. Wat anders is seksualiteit as ons menslike smagting na eenwording met iets of iemand groter as onsself? En waarom is die mensdom so behep met seks? Waarom staan mense tou vir ‘n kaartjie vir die fliek? Is dit omdat ons eintlik maar dierlik is of omdat ons nuuskierig is of is dit dalk eerder omdat ons probeer om deur seks of die seksuele ‘n diep en groot gat in ons wese te vul? Omdat ons probeer om een te word met iets of iemand wat ons diepste alleenheid en smagting na sin kan bevredig? ‘n Mens sou vir ure hieroor kon debatteer.

Wanneer elke mens gebore word is ons binnewêreld soos ‘n sagte, onbewerkte stuk land met die mees vrugbare grond waarin oneindige potensiaal geleë is. Hierdie binnewêreld bestaan uit alles wat my maak wie ek is. My seksualiteit, my waardes oor dinge soos materialisme, snobisme en rassisme, my selfbeeld, my Godsbeeld en spiritualiteit en nog ‘n horde ander onsigbare dinge. Daarom probeer enige goeie ouer sy of haar kind se binnewêreld so lank as moontlik ongeskonde hou en beskerm. Maar iewers begin dit verander. Iewers word ons binnewêreld ons eie verantwoordelikheid.

En wanneer dit eers gebeur het moet ek self besluit wat ek met daardie stukkie heilige grond doen. Wil ek dit bewerk en in ‘n lewegewende ruimte omskep? Sien ek kans om die onkruid wat vansself opkom aanhoudend uit te trek? Of laat ek toe dat enigiemand enige gemors en afval en onkruid op my grond kom stort. Staan ek dalk en kyk hoe daardie stukkie heilige grond mettertyd in ‘n ashoop verander, wat jaar na jaar een skakering donkerder word?

Daar is baie mans en vroue wat sukkel met pornografie en komplekse seksuele probleme. Ons samelewing is vol seksuele geweld en ander vorme van geweld teen vroue en kinders. Terselfdertyd is egskeidingsyfers hoër as ooit en die grense van jongmense se seksuele gewoontes en voorkeure was nog nooit so wyd nie. Dit wil voorkom asof daar iets groots fout is met die morele vesel van ons gemeenskap.

Dalk het jy reeds die boeke gelees of die fliek gekyk. Dalk wonder jy of jy moet. Miskien moet jy net eers vra hoekom. Hoekom wil jy dit doen? Wat gaan die uitkoms daarvan op jou stukkie heilige grond wees? As ek sê dit het geen effek op my nie, is dit nie iemand se plek om my voor te skryf nie, maar is ek dan ook bereid om te erken dat ek dalk oneerlik of naïef oor die uitwerking daarvan op my sou kon wees? Dalk kom die vraag of ek en God dieselfde droom vir daardie stuk land het hier op die tafel.

As ek hierdie vrae klaar geantwoord het, neem ek natuurlik die verantwoordelikheid vir my besluit. Ek dink daar is ‘n goeie kans dat God sou droom dat die dinge wat ek op my heilige grond toelaat aan die kant van groei en lewe sal staan. En dat ek God sal toelaat om weer en weer die grond van my binnewêreld te bewerk, ongeag van wat al deur ander of myself daar gelos is, want vir God bly daardie grond altyd heilig.

Wat ek hier skryf is my persoonlike opinie en dit is wat ek sal antwoord as iemand my vra hoe ek voel oor 50 Shades of Grey. Jy voel dalk heeltemal anders. Soveel skakerings, soveel opinies…

Marina Strydom

Meer oor die skrywer: Marina Strydom

Marina Strydom is 'n leraar verbonde aan die Ooskerk-gemeente in Pretoria. Sy is die ma van twee dogtertjies en haar passies sluit prediking, spiritualiteitsontwikkeling, kuns, kreatiwiteit en die lewe in. Sy reis ook graag (al is dit hoofsaaklik in haar kop) na nuwe plekke en kulture.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Corne Spies

Goed gestel Marina! Ek stem heeltemal met jou saam. Ek moet eendag voor God verantwoording doen oor my lewe en hierdie fliek en boeke is mos nie tot Sy eer nie?

Henning Venter

Baie dankie vir `n sobere artikel wat lyne reguit trek en veral uit die vrou se oë en siel skryf. Groot waardering.

Cathy Kotze

Baie goeie artikel. Beide liefde en seks is wonderlik….saam!

Ek bid dat God by my sal wees regdeur my lewe. Iets sê vir my dat ek daardie teater waar die fliek vertoon word, alleen sal moet binne gaan. Hy sal nie daar wees nie.

Deon Farmer

Dankie dat jy nie skroom om jou getuienis te deel nie…pragtig verwoord…ek deel jou oortuiging met alles wat ek is! Leef liefde!

Piet Snot

Skerp, Marina.
‘n Pel van my sê altyd: “What has been seen, cannot be unseen”.