[Foto’s] 1 000 km, 1 000 sleehonde oor Alaska-wildernis vir gedenkrit

Iditarod-honderesies wat jaarliks in Alaska gehou word (Foto: Verskaf)

ʼn Kakofonie het weergalm oor die Alaska-wildernis terwyl meer as 1 000 honde weggespring het in vanjaar se Iditarod-honderesies wat jaarliks in dié deelstaat van die VSA gehou word.

Vanjaar was Pieter Geldenhuys, ʼn Pretoriase man, as lid van die mediese span ook deel van dié resies wat strek oor nagenoeg 1 678 km oor die onherbergsame wildernis in Alaska.

Geldenhuys sê dié avontuur het reeds maande tevore begin toe hy ingeskryf het om deel te wees van die mediese span tydens vanjaar se Iditarod.

Dié wedren herdenk die 1 085 km-rit wat in 1925 deur 150 sleehonde (huskies) met 20 mushers (sleehanteerders) onderneem is om witseerkeel-entstowwe vir duisende inwoners te vat om sodoende hul lewe te red.

Vanjaar het 1 056 honde, meestal sleehonde (ook bekend as Eskimo- of poolhonde) of kruisgeteelde sleehonde, in spanne van 16 elk hulle mushers oor die Alaska-wildernis getrek in temperature van tot -50 grade en winde wat tot 140 km per uur gewaai het.

Geldenhuys, wat nog altyd ʼn passie vir sleehonde en buitengewone avonture gehad het, sê hy kon dié oproep om te kom help nie weerstaan nie.

“Die vanselfsprekende opsie was dat ek as mediese vrywilliger sal optree, aangesien ek ʼn apteker is. Ek is dus ingedeel by die “Canine drug testing team” of die sogenaamde “P-team”; die mediese span wat aangewys is om die honde vir verbode middels te toets.

Pieter Geldenhuys (Foto: Verskaf)

“Dit was ʼn ongelooflike ondervinding! Om urienmonsters in onder-vriespunt-temperature te neem was nie maklik nie. Meer as 100 helpers was bereid om hierdie ekstreme natuurelemente te verduur – solank hulle net as vrywilligers kon optree tydens die wedren.”

Geldenhuys sê dié honde is “superatlete” en bewonderenswaardig omdat hulle die vermoë het om ʼn 1 000 km-resies te hardloop en dan nog steeds wil aangaan nadat hulle oor die wenstreep is.

“Ek het baie empatie met die mushers wat by die honde slaap en saam met hulle eet in die bibberkoue. Dit is ʼn bewys van die wedersydse toewyding in die vennootskap tussen hanteerders en honde,” vertel hy.

Hy sê dié resies is verder ʼn bewys van die nou band tussen mens en dier. “Dit was ʼn uitmergelende en emosionele ondervinding om hierdie ongelooflike interaksie tussen mens, dier en natuur te kon beleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Johann ·

Julle kan gerus die animasiefilm “Balto” wat hierdie gebeure weergee beloer. Aangrypend. Balto is die naam van een van die poolhonde.

M'Lady ·

Dis n absolute wrede resies en moet ter wille van die honde wat daaronder ly vir altyd gestop word. Die “mushers” is net so wreed teenoor die honde. Hoeveel honde het al gesterf in hierdie resies. Ongelukkig is daar geen diere welsyns wette in Alaska nie.

tamboti ·

M’Lady, wat wreed is, is die kuikens wat ons verorber en die bees, skaap, bok wat na 24uur se hongersnood en ten aanruik van die dood by die slagpale afgemaai word. So tensy jy net selfgedode plantmateriaal eet (of stof soos die kakkerlak) moet jy nie te krities wees oor die’ resies nie – dis ‘n avontuur vir man en sy vriend! (Dan praat ek nie eers van wat die Filipyne en Chinese met hul hondjies doen nie)
Oubaas se HONNE!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.