16-jarige samel geld in vir ouetehuis met humor, sang

Leané (agter regs) saam met (vlnr) Morné Kruger, Milan Dry en Marialle Erasmus en agter is Alexa Retief en Jaden Scholtz. (Foto verskaf)

Leané Dickenson, gr. 10-leerder aan Hoërskool Zwartkop, het as ʼn Mej. Zwarrie-semifinalis ʼn geldinsamelingsprojek aangepak waarmee sy nou ʼn groot verskil in bejaardes se lewens gaan maak.

“Ek moes as deel van die kompetisie liefdadigheidswerk doen en ek het dadelik daaraan gedink om geld vir die inwoners van Ons Tuis Louis Trichardt in Pretoria in te samel.

“Bejaardes lê my na aan die hart en ek het toestemming by Eldoraigne Aftreelandgoed gekry om vir die inwoners en mense wat daar betrokke is ʼn konsert aan te bied. My ouma en oupa is al ʼn rukkie lank inwoners by die aftreeoord en ons kom gereeld daar,” vertel Leané opgewonde.

Leané het ʼn paar van haar vriende genader om hul talente saam met hare in te span en daar is vir die inwoners gesing en toneelgespeel. Een van die stukke wat opgevoer is, het oor ʼn malvapoeding gegaan wat by die kerkbasaar verdwyn het en ʼn oom met erge gehoorprobleme wat die saak probeer oplos.

“Die mense het so lekker gelag,” vertel sy.

Leané kuier saam met die Ons Tuis-inwoners. (Foto verskaf)

Die konsertsaal wat 100 mense kan akkommodeer, was byna vol. Alhoewel die konsert gratis was, het Leané vir donasies gevra en verduidelik waarvoor die geld aangewend sal word. Met haar warm glimlag is dit te verstane dat harte diep aangeraak en beursies groot oopgemaak is.

“Toe ons die eerste skenking van R5 000 kry, het ek amper uitgepass!” sê Leané giggelend.

Ons Tuis Louis Trichardt, geleë in Danville, bied bekostigbare selfsorgeenhede met twee etes per dag.

“Ons is regtig so dankbaar vir hierdie skenking van Leané,” vertel Vicky Muller, bestuurder by Ons Tuis Louis Trichardt. “Ons wil onder andere ʼn grootskermtelevisie aankoop waar al die inwoners saam gesellig na rugbywedstryde en ander programme kan kyk. Ons sal die geld ook vir kruideniersware en sonsambrele in die tuin aanwend. Daar sal hopelik ook ʼn paar rand oorbly om die bejaardes sommer net lekker te bederf.”

“Die finale bedrag wat aan Ons Tuis Louis Trichardt oorbetaal is, is ʼn allemintige R20 200,” sê Rentia Mynhardt, skakelbeampte vir Ons Tuis.

Op 16 droom Leané van ʼn toekoms as regisseur in die rolprentbedryf en die span by Ons Tuis glo dat die meisie met soveel woema en selfvertroue beslis ʼn sukses daarvan kan maak.

Vir meer inligting oor Ons Tuis-tehuise, besoek gerus hulle webwerf of Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie ·

Pragtig meisiekind jy gaan dit nog ver bring met jou goeie gesindheid veral wat oues van dae behels. God sal jou uit jou voete seen. Mag jy net geluk en vreugde ervaar in die lewe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.