450 kg se doppies vir ’n rolstoel is vir dié span geen uitdaging

By Willem Stuurman (voor) is agter van links Heylin Williams en Justine Swartz (Happy Hearts vir Sinethemba) en regs is Sinethemba-bestuurder Heinelize Knoesen. (Foto verskaf)

Wat gebeur as jou ongeskiktheidstoelaag heel maand moet hou, as jy 24 jaar laas normaal kon loop en jou nederige blyplek soms ʼn minder lekker plek raak om te woon? Dit is die bestaan van meer mense as wat ons kan dink. Op Malmesbury bied die Happy Hearts-program nuwe hoop aan gestremde persone, vertel Sarie Marais-Nell.

Wanneer jy op ʼn weeksoggend by die Happy Hearts-program in Malmesbury instap, kon jou gemoed dalk effens afgerem gevoel het – maar jy gaan definitief met ʼn nuwe ingesteldheid daar uitstap.

Want sodra Heylin Williams, die Happy Hearts-programbestuurder met haar entoesiastiese oggendgroet die vertrek binnestap en vra: “Waar is dit lekker?”, sal groeplede opgewonde antwoord: “Hiér is dit lekker!” Dan raak elke Happy Hearts-deelnemer se hart sommer warm, want hulle weet wat gaan volg: Opbouende gesprekke, handwerk (dikwels inkleur- of rygwerk), musiek, lekker warm tee en kort voor hulle huis toe gaan, ook middagete.

As enigeen op die musiek wil saamdans – soms so sit-sit in sy rolstoel – verhoog dit die gevoel van vreugde.

Heinelize Knoesen, Justine Swartz, Heylin Williams en Aranza November, almal van Sinethemba op Malmesbury, baie opgewonde omdat plastiekdoppies ‘n nuwe rolstoel kan verseker. (Foto verskaf)

“Omdat baie van ons lede uit swaarkry-omstandighede kom, is dit ons mikpunt om ʼn veilige ruimte te skep, ʼn plek waar deelnemers gelukkig voel en nuwe vaardighede aanleer. En omdat die kombinasie van armoede en gestremdheid dikwels sosiale mishandeling veroorsaak, was baie van ons groeplede op ʼn laagtepunt toe Happy Hearts ʼn jaar gelede gestig is,” verduidelik Heylin.

“Een van ons lede het ná ʼn vroeëre traumatiese gebeurtenis opgehou praat. Ons het saam met hom die pad van terapie gestap en deesdae gesels hy vryelik. ʼn Jong vrou kon nooit voor mense optree nie – sy was onlangs tydens ʼn byeenkoms ʼn belangrike spreker.”

Sinethemba is ʼn tuisversorgingsdiens in vyf Swartlandse dorpe. Met 71 personeellede spreek Sinethemba die oormag probleme aan van fisiese en psigiatriese siektes, te midde van armoede en soms ook gestremdhede. Sinethemba het verlede jaar vir Heylin aangestel om met die Happy Hearts-program spesifiek met gestremde persone te werk.

“Ons werk stop nooit wanneer dit 17:00 is nie, want ons bekommernis oor pasiënte gaan saam huis toe,” vertel Heylin.

Die voortdurende tekort aan rolstoele is een van hulle uitdagings. Sommige stoele is stokoud, of nie regtig geskik vir pasiënte se spesifieke gestremdheid, liggaamspostuur of -grootte nie.

(Grafika verskaf)

Dít – en Julie as internasionale plastiekvrye maand – het gelei tot Happy Hearts se nuutste projek van hoop: Hulle versamel 450 kg plastiekdoppies om dit in te ruil vir een standaardrolstoel by Kaapstad se Sweetheart-stigting. Hierdie nie-winsgewende organisasie het sedert sy ontstaan in 2013 reeds vele mense se lewens met rolstoele verbeter.

“Om te dink jou weggooigoed raak iemand anders se rykdom,” verduidelik die Sweetheart-stigting op hul webblad. Die stigting het laasjaar ʼn nuwe rekord behaal deur 50 rolstoele te gee in ruil vir doppies.

Klink 450 kg plastiekdoppies onmoontlik? Die energieke Heylin laat haar nie keer nie. “Gebruik dit wat nou in jou hande is, waar jy ook al is, is een van ons motto’s,” vertel sy. “Ons werk hard vir rolstoel nommer 1, maar eintlik benodig ons ses rolstoele!”

Soveel plastiekdoppies vra die hele gemeenskap se hulp, daarom is alle koshuise, skole, ouetehuise en instansies gevra om te help – plastiekdoppies van melk- en koeldrankbottels, tandepasta en haarsjampoe-houers en selfs van pilhouers.

Getrou aan Heylin se aard, het sy Happy Hearts-lede so geïnspireer dat hulle elkeen ook fluks doppies vergader. Al het hulle min geld, al beweeg hulle soms ongemaklik, kan hulle en hul families nou ʼn verskil maak en help doppies versamel.

Verlede week, toe hierdie projek amptelik afgeskop is, is 20 kg doppies ingeweeg. Of groeplede se arms en rûe dalk van geboorte of weens beserings so styf en krom is – elke groeplid moes sy eie sak met doppies in ʼn spesiale houer ingooi. Want ʼn Happy Hearts-lid tree so selfstandig as moontlik op.

We don’t hide our problems, and we don’t hide behind them,” beklemtoon Heylin.

En toe word die persoon, wat die eerste nuwe rolstoel gaan ontvang, se naam aangekondig: Willem Stuurman (57) van Malmesbury.

Willem Stuurman (57) is 33 jaar gelede verlam gelaat na ‘n skiet-ongeluk. (Foto verskaf)

Willem vertel op sy nederige manier aan die gaste dat hy as 33-jarige verlam geraak het en sedertdien net effentjies kan loop met behulp van aluminiumversterkte beenstutte. Die rolstoel tuis kan lankal nie meer opvou en agterin ʼn motor inpas nie.

Willem woon in ʼn houthuisie in sy suster se agterplaas op Malmesbury: “My suster in die Kaap se woonstel is te hoog in die lug, ek kan nie daar in nie.

“Voor Happy Hearts was my dae partykeer baie lank. Dan sit ek daar in die agterplaas in Afghanistan* en bedink my lewe; my gesonde dae toe ek vir ʼn transportbesigheid gewerk het. Ons moes orals saam met die vrag ry en toe kon ek ander dele van die land sien – Oos-Kaap, die Sandveld, Kaapstad-hawe.”

Nadat Sinethemba van Willem bewus geraak het, laai hul bussie hom twee oggende per week op om groepbyeenkomste saam met ander gestremde persone by te woon.

“Hier vertel hulle vir ons dat ons ‘differently abled’ is en nie regtig ‘disabled’ nie,” vertel Willem. “Hulle bemoedig ons en hier word soggens ook gebid. As iemand iets verkeerd doen, praat hulle reguit daaroor, maar dis nooit ʼn geskellery nie.”

Willem, wat op nege skool verlaat het, bou graag miniatuurbote uit oorskietstukke hout. “Destyds, as ons transportlorrie by die hawe moes produkte aflaai, het ek die skepe só bekyk. Toe ek nie meer kan loop nie en na twee groot operasies, het ek in 2001 begin bote bou: trawlers, visvangbote, enige soort skip. As die vissermanne visstokke vashou, sorg ek dat elke visstok en sy katrol regtig werk; vislyne met naaldwerkgare. Die trawlers het nette agteraan en ratte – alles moet regtig kan werk as ek daarmee klaar is,” gesels hy entoesiasties, al sukkel hy dikwels om die regte materiale vir sy bote te kry voordat ʼn familielid of buurman dit koop.

Die Sinethemba-bestuur beplan om op Loslitdag, op 3 September (dit val saam met Happy Hearts se eerste verjaardag), die heel eerste rolstoel aan Willem te oorhandig.

*Afghanistan is ’n woonbuurt in Malmesbury waar inwoners meestal afhanklik is van staatstoelaes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.