Agter die linkervlaggie

Rosa Duvenhage.

Deur Rosa Duvenhage 

Taking care of yourself doesn’t mean ‘me first’. It means ‘me, too’.  You matter. Your happiness matters. – L.R. Knost

Ek stop vir ’n oomblik op die trappies. My oë gly oor die horison wat vanoggend spog met soveel skakerings van blou dat dit moeilik is om te sien waar die water ophou en die lug begin. ’n Paar treë voor my beweeg my gesin oor die sand met ons strandbagasie.

Ons mik na die linkervlaggie. Dis ons baken. Ons sit altyd agter die linkerkantse lewensreddervlaggie om verskeie praktiese redes. Dis makliker om jou sambreel te kry as jy uit die see kom. Dis naby as jy wil gaan swem en dis ’n ongeskrewe reël tussen ons vriende dat ons mekaar daar ontmoet.

Ons vind die perfekte plekkie. Die sand is gelyk gespoel en in ’n japtrap is ons sambreel geplant, handdoeke oopgegooi en baljaar my mense reeds in die branders. Ek kry my lê op die sand en binne ’n paar minute voel ek dit…

Sand onder my vingerpunte, die gedruis van die branders in my ore en die reuk van sonroom in my neus. Iewers lui ’n roomyskarretjie se klokkie, die son bak warm op my vel en ‘n ligte briesie wat van die see se kant kom, sus my sintuie. Dit voel amper asof ek tussen twee wêrelde sweef, ’n veerligte plek tussen die hemel en die diep blou see.

In hierdie tussenwêreld haal my liggaam en siel mekaar in. Die ontmoeting is mooi. Die twee vat hande en gooi die vertrek se vensters oop. Die sonstrale skyn in en die seelug vul die spasie. Die plek is stowwerig, oorvol en deurmekaar. Saam begin hulle orde skep in die warboel van ervarings, emosies en gedagtes.

Sommige hopies word sonder seremonie uitgesmyt, ander word gesif en geskommel en geleidelik, dag na dag agter die linkervlaggie word die spasie weer stukkie vir stukkie myne.

(Foto: S O C I A L . C U T/Unsplash)

Die slim mense met die dik brille en die wit jasse reken dat mens nodig het om kontak te maak met die aarde om emosionele sowel as liggaamlike gesondheid te bevorder. Dit kan in die vorm wees van kaalvoet loop, lê op die gras of selfs deur te swem of te loop in water. Volgens die studies is kontak met die aarde nie net goed vir jou immuunstelsel nie, dit kan ook inflammasie en pyn verminder, stresvlakke verlaag en gemoedstoestande verbeter.

Ons almal weet egter dat ’n vakansie met jou boude in die sand of ’n swem in die see elke Desember nie genoeg is om ons te help om ons daaglikse stres, probleme en gejaagde leefstyl te hanteer nie.

Ons het meer nodig.

Die internet bars uit sy nate met gesondheidsprogramme, diëte en oefeninge wat jou liggaam kan transformeer en gesond kan hou, maar wat doen ons vir ons binnelandskap? Watter selfsorg-gewoontes het ons in plek om te help dat ons geestesgesond kan bly in die dolle wêreld waarin ons leef.

Mark Twain skryf: “You’ll never change your life until you change something you do daily”.

In 2019 was daar ’n artikel in ’n tydskrif oor die mag van gewoontes. Die artikel vertel dat gewoontes ontwikkel omdat die brein eintlik op soek is na maniere om moeite te bespaar. As jy die brein vrye teuels gee, sal hy byna enige roetine in ’n gewoonte verander want dit gee die brein kans om gereeld te ontspan.

Amerikaners het ’n studie gedoen oor die mag van gewoontes. Lisa was 34 jaar oud, vir die grootste deel van haar lewe oorgewig, verslaaf aan sigarette en diep in die skuld. In die vier jaar voor die studie het sy ophou rook, 27 kg gewig afgeskud en byna al haar skuld afbetaal. Sy het haar eerste marathon gehardloop en begin met haar meestersgraad.

Wat was die aansporing?

ʼn Handvol mense doenig by die sfinks in Giza, Egipte. (Foto: Nariman El-Mofty, AP)

Sy wou ’n woestynekspedisie in Egipte aanpak en het besef dat as sy die droom wou bewaarheid, sy die vetjies sou moes afskud, fiks word, uit die skuld kom en ophou rook.

Toe die navorsers Lisa se brein skandeer, het hulle vasgestel dat haar ou gewoontes steeds daar is. Wanneer iemand byvoorbeeld ’n sigaret aansteek, het sy steeds die behoefte ervaar om te rook. Ou gewoontes word egter moeilik verbreek omdat die paaie vasgelê is in jou brein en jou brein ken nie outomaties die verskil tussen goeie en slegte gewoontes nie.

Om ’n gewoonte te verander moet jy dit vervang met ’n nuwe een. Lisa het byvoorbeeld haar oefenklere saans reeds uitgesit langs ’n foto van die piramides. Sy het haarself ook beloon met ’n stukkie sjokolade wanneer sy haar oefendoelwitte bereik het.

Navorsing het bewys dat iets eers ’n gewoonte raak as jou brein die beloning begin verwag.

Ons is nie grootgemaak of geleer hoe om na ons psigiese gesondheid om te sien nie. Ons kap net aan en kan nie verstaan hoekom ons oud, moeg, depressief, oorweldig en angstig voel nie.

Vir my persoonlik het ek twee dinge nodig om my binnelandskap ’n aangename en veilige plek te maak – alleentyd, waar ek myself kan hoor dink, en tyd in die natuur. As ek nie op ’n gereelde basis seker maak dat ek by hierdie twee dinge uitkom nie, raak die afgrond tussen my liggaam en siel so groot dat ek sukkel om weer my ewewig te herwin.

Mense verskil. Wat vir my werk, gaan nie noodwendig vir jou werk nie, maar diep binne-in elkeen van ons is daar ’n vertrek waarvan die vensters oopgegooi en die inhoud in die helder sonlig bekyk moet word.

Jou liggaam en siel het tyd nodig, ’n gereelde afspraak om mekaar in te haal. Vir party gaan dit voor die klavier of in die veld wees. Vir ander dalk met ’n verfkwas in die hand, agter die kospotte of op ’n bergpiek. Dis nie ’n lewensbelangrike afspraak nie, maar dis ’n lewensverrykende een. ’n Afspraak wat jy net kan nakom as selfsorg ’n gewoonte word.

Die beloning vir hierdie gewoonte sal veroorsaak dat jou liggaam en siel mekaar gereeld ontmoet in die tussenwêreld.

Die ontmoeting sal mooi wees.

Die vertrek se ruite sal oopstaan, die sonlig sal inskyn en daar sal vrede, vergenoegdheid en orde wees

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.