Bak ’n kolwyntjie en gedenk klein kankerstryders

Cupcakes of Hope wil alle Suid-Afrikaners opkommandeer om te bak op Nasionale Kolwyntjiedag op 1 Oktober ter ere van kinders wat met kanker worstel. (Foto verskaf)

Hou jy daarvan om te bak en om goeie dade vir jou medemens te verrig? Indien wel, benodig Cupcakes of Hope jou hulp.

Hierdie niewinsgewende organisasie wat kinders met kanker regoor die land ondersteun, vier vanjaar sy tiende verjaardag en wil alle Suid-Afrikaners opkommandeer om te bak op Nasionale Kolwyntjiedag op 1 Oktober ter ere van kinders wat met kanker worstel.

Cupcakes of Hope wil as organisasie vrywilligers bymekaar bring om te help om hul teiken van R10 miljoen vir kinders met kanker te oorskry.

Sedert 2021 het die aantal pasiënte wat deur dié organisasie ondersteun word, verdubbel. In Julie alleen het meer as 240 jong kankerpasiënte finansiële bystand ontvang, met die jongste begunstigde wat maar net vyf maande oud was.

Soveel mense het al vriende of familie bygestaan in hul stryd teen kanker, ander het al ʼn geliefde verloor, maar ʼn kind met kanker is sekerlik een van die uitdagendste reise waarmee enige gesin te make kan kry.

Tog bied Cupcakes of Hope ʼn lighartige, prettige en lonende manier om in solidariteit met kankeroorlewendes te staan. Vrywilligers, wat liefdevol as ʼn kolwyntjie-engel bekendstaan, is die mense wat mildelik van hul tyd gee om ʼn verskil te maak deur te bak of wat die veldtog ondersteun.

“My ma is nie meer hier nie. Ek wil graag elke persoon wat hierdie stryd veg aanmoedig dat jy nie alleen is nie. Ons is almal gretig dat jy sterker aan die ander kant sal uitkom,” het kolwyntjie-engel Lucretia Peterson gesê wat haar ma aan kanker verloor het en op die dag gaan bak.

“Cupcakes of Hope is nie net ’n platform waar ons kinders met kanker help nie. Deur vrywilligers te wees, gee ons eer aan ons vriende en geliefdes wat deur kanker geraak is, en dit bring vreugde, genesing en doelgerigtheid vir so baie van ons. Dit is ook ʼn manier om dit vooruit te betaal en nuwe vriende te maak, wat familie word,” sê Sandy Cipriano, stigter van Cupcakes of Hope.

Cupcakes of Hope wil as organisasie vrywilligers bymekaar bring om te help om hul teiken van R10 miljoen vir kinders met kanker te oorskry. (Foto verskaf)

Enige iemand kan deel wees van verrigtinge op 1 Oktober en enige resep kan vir die kolwyntjies gebruik word net solank dit die geheime bestanddeel van liefde bevat.

Van geldinsamelingsveldtogte met kolwyntjies by die kantoor tot gemeenskapskoekverkope of vriende en familie wat bloot bymekaar kom om te bak, elke daad van vriendelikheid dra by tot die behoeftes van kinders wat met kanker stoei.

Die geld wat op 1 Oktober ingesamel word, sal Cupcakes of Hope in staat stel om voort te gaan met die broodnodige ondersteuning wat hulle elke maand aan honderde jong kankerpasiënte en hul gesinne bied. Dit sluit in om hul mediese rekeninge en ander noodsaaklike behoeftes te dek, van doeke tot voeding en alles tussenin.

Nasionale Kolwyntjie-dag word op Saterdag 1 Oktober by 58 winkelsentrums landwyd aangebied. As jy in die Pretoria-omgewing is kan jy ʼn draai by Brooklyn Mall maak om dié winkelsentrum se Cupcakes of Hope-geleentheid te ondersteun.

Tientalle Cupcake Angels het reeds ingeskryf maar daar is ʼn groot behoefte aan selfs nog meer. Jy kan betrokke raak deur of  kolwyntjies te bak en skenk, of deur een van die winkelsentrums te besoek en vir ʼn klein skenking ʼn heerlik kolwyntjie, wat lief gemaak is, te ontvang.

Om aan te meld as ’n kolwyntjie-engel, stuur ’n e-pos na [email protected] of vir meer besonderhede oor die werk wat deur die organisasie gedoen is, klik hier of gaan na Cupcakes of Hope se Facebook– en Instagram-bladsy.

Enige iemand kan deel wees van verrigtinge op 1 Oktober en enige resep kan vir die kolwyntjies gebruik word net solank dit die geheime bestanddeel van liefde bevat. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.