Bekendes slaan af vir HelpJag

 3-werner-greef-schalk-burger-snr-naas-botha-en-bok-van-blerk.jpg

Werner Greef, Schalk Burger snr., Naas Botha en Bok van Blerk het die besondere dag bygewoon. (Foto is verskaf)

’n Groep bekendes het onlangs vir die eerste keer in Worcester in die Wes-Kaap byeengekom om te help om behoeftige kinders in Afrikaanse gemeenskappe te voed.

Sportlegendes soos Naas Botha, Marius Joubert, Marius Schoeman, Tobie Botes, Werner Greeff, De Wet Barry en Schalk Burger sr. het op 7 Maart die “Legendes Gholfdag van Hoop” by die Worcester-gholfklub bygewoon. Die geleentheid was ten bate van HelpJag, ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand. HelpJag, wat deel is van Helpende Hand se Kosblikkie-projek, versprei wildsvleis na ongeveer 119 skole reg oor die land en voed daagliks meer as 8 000 kleuters.

Kunstenaars soos Ichnus Wait, Adam Tas en Appel het opgetree en die gaste wat die geleentheid bygewoon het op hul voete gehad. Bok van Blerk en Wynand Strydom het ook die geleentheid bygewoon en spontaan saam met Adam en Appel liedjies gesing. Die akteur Ramey Short se teenwoordigheid het die dag nog meer spesiaal gemaak.

Die aand is afgesluit met ’n veiling waartydens meer as R200 000 ingesamel is vir die verwerking en verspreiding van wildsvleis. “Dit was werklik ’n merkwaardige geleentheid met ’n indrukwekkende gastelys. Hul ondersteuning vir HelpJag beteken vir ons baie, want vir vele Suid-Afrikaanse gesinne is vleis deesdae ’n luuksheid. Dit is hartverskeurend dat soveel kleuters afhanklik is van ’n ete by die skool as hul primêre ete vir die dag. Vleis is ’n goeie bron van proteïne en is nodig vir gesonde ontwikkeling,” sê Margolé Riekert, hoof van projekte by Solidariteit Helpende Hand.

 2-ramey-short-marius-schoeman-marius-joubert-en-tobie-botes.jpg

Ramey Short, Marius Schoeman, Marius Joubert en Tobie Botes. (Foto is verskaf)

Toekomstige hoogtepunte sluit in die HelpJag Gholfdag op 12 April in samewerking met die Kriek Wildlife Group in Kimberley en die HelpJag Legendes Gholfdag op 9 Oktober in Pretoria by die Centurion Country Club.

Die publiek kan HelpJag ondersteun deur ’n donasie te maak of ’n bok te skenk nadat hulle gaan jag het. HelpJag het ’n netwerk slaghuisondersteuners reg oor Suid-Afrika en sorg vir die verwerking en verspreiding van die vleis. Verlede jaar is ongeveer 32 ton vleis ingesamel en versprei. Oor die afgelope ses jaar is meer as 200 ton vleis verwerk en nasionaal versprei.

“Die kinders wat deur HelpJag gevoed word, is ons toekomstige leiers, onderwysers en entrepreneurs. Deur ’n bok te skenk of ’n donasie te maak, kan jy ’n direkte impak maak op hul lewens en hul toekoms. Helpende Hand het sterk strukture reg oor die land wat dit moontlik maak om die projek volhoubaar en landwyd te bedryf,” sê Riekert.

 1-al-die-spelers-wat-die-legendes-gholfdag-van-hoop-by-die-worcester-gholfklub-bygewoon-het.jpg

‘n Groepfoto van al die spelers wat die Legendes Gholfdag van Hoop by die Worcester Gholfklub bygewoon het. (Foto is verskaf)

Riekert moedig die publiek aan om deel te word van hierdie merkwaardige inisiatief. “Of jy nou ’n jagter, ’n slagter of iemand is wat eenvoudig wil help, jou bydrae kan ’n lewe verander. Onthou, geen bydrae is te klein nie.”

Besoek www.helpjag.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.