Boeregeneraal se graf opgeknap

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, Jacques Müller, beeldhouer van Pretoria wat die replika gemaak het, en Louis Pretorius, agteragterkleinseun van genl. Koos de la Rey. (Foto: Verskaf)

Een van die mees gevierde Boeregeneraals spog nou met ʼn nuwe replika van ʼn oorspronklike bronsbeeld op sy graf, wat meer bestand teen vandale is.

Woensdag, presies 107 jaar nadat genl. Koos de la Rey in ʼn padblokkade doodgeskiet is, is sy graf in die Lichtenburg-begraafplaas herstel.

Die oorspronklike bronsbeeld van De la Rey wat in 1917 deur Fanie Eloff, kleinseun van pres. Paul Kruger, gemaak is, is in April vanjaar deur diewe gesteel toe hulle ook sy graf gevandaliseer het.

Jacques Müller, ’n beeldhouer van Pretoria, het ʼn replika van die De la Rey-beeld in opdrag van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gemaak.

Müller sê dit was ’n reuse-uitdaging om hierdie beeld te maak omdat hy net van ’n paar ou beskikbare foto’s af moes werk.

“Die grootste uitdaging was om die grootte, hoogte, lengte en breedte van die beeld te bepaal. Ek sou dit glad nie kon doen sonder die granietwiel wat as voetstuk vir die oorspronklike beeld gedien het nie. Die diewe het dit gelukkig nie gesteel of beskadig nie.”

Hy sê daarvolgens kon hy bepaal hoe groot die beeld was, voordat hy toe De la Rey se gesig uit harde skuimrubber gevorm het. Daarna het Müller klei gebruik om meer detail aan die Leeu van die Wes-Transvaal se gesig en kenmerkende baard te gee.

“Dit was ’n monumentale voorreg om Oom Koos se graf in ere te herstel.”

Jacques Müller waar hy vir oulaas die laaste stoffies met ‘n borsel van genl. Koos de la Rey se replikabeeld afstof. (Foto: Verskaf)

De la Rey was bekend vir sy groot bydrae: Voor die oorlog het hy ’n belangrike minderheidstandpunt verteenwoordig; tydens die oorlog was hy een van die mees onverskrokke en bekwame aanvoerders en ná die oorlog het hy ’n belangrike bydrae gelewer om die vryheidstrewe by Afrikaners lewend te hou, teenoor die aanloklikheid van inskakeling by die groot Britse Ryk. Selfs ná sy dood was hy ’n simbool van Afrikanerskap en die strewe na ’n herstelde republiek.

Jacobus Hercules de la Rey is in 1847 in die Winburg-distrik in die Vrystaat gebore. As jong man het hy nie dadelik gaan boer nie, maar eers ’n transportryer in en om die diamantvelde geword.

Die Anglo-Boereoorlog was die periode waartydens De la Rey naam gemaak het. Vroeg in die oorlog het sy een seun in die Slag van Modderfontein gesneuwel.

Ná die oorlog was De la Rey een van die mees gerespekteerde Boereleiers. Hy het aktief aan die heropbou van sy volk deelgeneem en was ’n lid van die verteenwoordigende regering wat die nuwe kolonie in 1904 van Brittanje ontvang het.

Met Uniewording in 1910 was hy een van die oprigters van die Suid-Afrikaanse Party, die party wat deur die meeste Afrikaners gesteun is. Hoewel verskille met partyleiers soos generaals Louis Botha en Jan Smuts al vroeër geblyk het, was hy een van hulle lojaalste ondersteuners. Hy is in die senaat van die Unie van Suid-Afrika aangestel, waarvan hy tot sy dood ’n lid was.

Toe De la Rey in 1914 dood is, kon sy politieke loopbaan nog vele hoogtepunte opgelewer het. Hy is deur die polisie doodgeskiet toe sy motor deur ’n padblokkade gejaag het. Die polisie het die fout gemaak om te dink dat dit die motor van ’n berugte rowerbende was.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, is dit vir dié organisasie ’n groot voorreg om betrokke van die herstelproses te wees.

“Dankie vir genl. De la Rey se familie en die gemeenskap dat die FAK betrokke mag wees,” het hy gesê.

Langner het beklemtoon waarom erfenis vandag nog belangrik is.

“Elke erfenis is ietsie van onthou. Elke stukkie is deel van ons storie. Deur erfenis te bewaar, onthou ʼn mens nie net nie, maar anker jy jou in die toekoms van ons land.”

Jan-Danie Malan, kultuurorganiseerder van die FAK in die Vrystaat, was ten tyde van die grafskending van die eerste mense op die misdaadtoneel om die skade te bepaal, ’n klag by die polisie aanhangig te maak en met skrootwerfeienaars te skakel ingeval die beeld daar sou opduik. Die FAK het ook ’n beloning van R20 000 aangebied vir enigiemand met inligting oor die gesteelde beeld.

Louis Pretorius en sy ma, Rosina Pretorius. Sy is die agterkleindogter van genl. Koos de la Rey. Haar ouma, Pollie de la Rey, was Koos se dogter gewees. (Foto: Verskaf)

Verteenwoordigers van die FAK, die gemeenskap en lede van genl. De la Rey se familie het die onthullingseremonie bygewoon. Die Voortrekkers, kultuurorganisasies en skole in Lichtenburg het ook kranse by die graf gelê.

Louis Pretorius, agteragterkleinseun van De la Rey, het gesê die vandalisering van “Oupa Koos” se graf was nie net vir hulle as families “’n verskriklike skade” nie, maar ook vir die Afrikanergemeenskap.

Hy het die polisie bedank vir hulle vinnige optrede na dié diefstal van sy ooroupagrootjie se bronsbeeld en dat hulle aangehou het om leidrade op te volg om dié beeld te probeer opspoor.

“Baie dankie aan die FAK wat hierdie projek gelei het. Ons is diep dankbaar teenoor julle en die Afrikanergemeenskap.”

Pretorius het gesê etlike geslagte van die De la Rey-familie is in die Lichtenburg-begraafplaas begrawe. Hy en sy gesin en sy ma, Rosina, bly nog op genl. Koos de la Rey se plaas naby dié dorp. Rosina is die kleindogter van een van De la Rey se dogters, Pollie, wat ook in hierdie begraafplaas begrawe is.

“As regsman het hy voor geloop. As gesinsman het hy sy familie beskerm. Ons eer jou, Oupa Koos, vir die voorbeeld wat jy gestel het. Hy het geveg vir ’n beter toekoms vir sy mense.”

Die CVO-skool Lichtenburg en die Voortrekkers het kranse by die graf kom lê. (Foto: Verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cecilia ·

Dankie FAK.
Maar hoe kry iemand dit reg om so beeld ongesiens te verwyder?

Swerwer ·

Dankie, wat ‘n wonderlike voorreg om ons geskiedenis op so ‘n wyse te bewaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.