Bring jou stapskoene en verken die natuur by dié monument

Die uitsig na die Voortrekkermonument op een van die staproetes. (Foto: Verskaf)

Een van die dae hoef Gautengers nie meer ver te ry vir ʼn ware natuurervaring nie. Waar anders kan jy in die hartjie van Pretoria veilig tussen ʼn trop swartwildebeeste stap?

Die Voortrekkermonumentterrein is tans die tuiste van 95 boomspesies en 29 aangeplante boomspesies op Monumentkoppie. Daar is ook 12 soogdierspesies, 11 reptielspesies, ongeveer 80 voëlspesies en 50 skoenlapperspesies.

Daarom maak dit sin dat die span by die Voortrekkermonument dié ryk natuurskat met die res van die Jakarandastad se inwoners wil deel. Deel van die monument se aanbod is om vyf staproetes vir die publiek oop te stel, ʼn splinternuwe natuurgids uit te gee en moontlik later ʼn uitkykpunt te bou by die ghwarriegat waar voëlkykers kan uitspan.

Ilomi deel interessanthede oor die natuur langs die nuwe staproete. (Foto: Verskaf)

Ilomi Kruger, natuurprogrambeampte by die Voortrekkermonument, het sedert die begin van die jaar skouer aan die wiel gesit om die aanbod uit te brei.

Drie van hierdie roetes is reeds uitgelê en ʼn handjievol natuurliefhebbers het die geleentheid gehad om die roetes self te beleef.

“Ek het dit vreeslik waardeer om deur die natuur te stap en soveel geleer in die proses oor koorsbome en verskillende spesies. Ilomi is ʼn uitstekende gids. Dit was lekker om teen ʼn gemaklike pas te stap en alles in te neem,” sê Lieandri Ackermann wat die begeleide staptoer gedoen het.

Ilomi Kruger (Foto: Verskaf)

“Die hele staproete was leersaam. Ons is in die stad, maar dit voel glad nie so nie. Die uitsigte is ongelooflik, veral oor Suikerbosrand. Kinders sal mal wees oor die roete,” vertel Samantha Müller wat ook saamgestap het.

“Die Voortrekkermonumentterrein het ʼn groot biodiversiteit en geskiedkundige waarde,” sê Ilomi.

Die hele Voortrekkermonumentterrein en die gebied rondom Groenkloof en Fonteine was eens deel van Lucas Bronkhorst se plaas. Dit is destyds oorgekoop deur die Transvaalse regering, en die Voortrekkermonument is later op die grond gebou. Dit is by die ghwarriegat waar die leiklip uitgekap is om die monument se trappe uit te lê.

“Voor enige iets op die terrein verander kan word, moet ons goedkeuring kry by die stadsraad,” vertel Ilomi. “Ons is tans besig met die finale prosesse om die staproetes te open. Die roetekaarte is reeds uitgelê, en stappers sal toegang tot die kaarte kan verkry deur QR-kodes.”

Die groep stap die 3,5 km-roete. (Foto: Verskaf)

“Die voëlspesies wissel, afhangende van die seisoen, maar ons hoop om ’n verdere aanbod vir voëlkykers te skep. As ons goedkeuring by die stadsraad kry, sal ons graag  ʼn uitkykpunt by die ghwarriegat wil bou,” sê Ilomi.

Stappers sal kan kies of hulle  ʼn begeleide toer saam met Ilomi wil meemaak waartydens sy interessanthede oor die natuur deel, of hulle kan op hulle eie deurstap. Die roetes is tussen 3,5 km en 5 km lank. Daar sal ook  ʼn pakket beskikbaar wees vir die publiek wat ʼn staproete, toegang tot die Voortrekkermonument en ʼn koopbewys by een van die restaurante insluit.

As jy lief is vir die natuur en die natuurerfenis, kan jou bydrae die Voortrekkermonument ondersteun. Besoek www.vtm.org.za vir meer inligting hieroor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.