Bybel van Voortrekkerleier word deel van musiekspel

Familie van Sarel Cilliers saam met die akteurs van ‘Die Gelofte’ op die verhoog. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Nie net het familie van die Voortrekkerleier Sarel Cilliers in die gehoor van ʼn vertoning van Die Gelofte op Saterdag 28 Mei gesit nie; die oorspronklike Bybel van Cilliers het tydens dié vertoning as rekwisiet op die verhoog gepronk.

Vir die skrywer en regisseur van die spogproduksie, Jannes Erasmus, was dié kosbare oomblik van onskatbare waarde.

“Om te dink dat Sarel Cilliers se nalatenskap 200 jaar later op ’n verhoog iewers in Pretoria verewig word. Daardie einste Bybel wat destyds soveel vir mense beteken het, maak weer eens ’n verskil,” het Erasmus aan Maroela Media vertel.

Stoffelina Maria Buys (née Cilliers) en haar boetie, Andries Cilliers, die agterkleinkinders van Sarel Cilliers, het saam met ander familielede die geleentheid bygewoon.

Maroela Media het by Dawie ‘Zottie’ de Villiers ingeloer om ʼn bietjie te gesels oor die geleentheid en die familie se noue bande met die geskiedenis.

De Villiers is nie net die skoonpa van Nadia Beukes, een van die aktrises wat deel is van Die Gelofte se rolverdeling, nie. Sy dogter, Minette, is getroud met Andries Cilliers jr.

Johan Vorster, wat die rol van Sarel Cilliers vertolk, hou die oorspronklike Bybel vas. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Dié is die seun van Andries Cilliers, die einste agterkleinseun van Sarel Cilliers.

De Villiers, wat self met talle kosbare, geskiedkundige voorwerpe as deel van ’n reuseversameling spog, het die musiekspel terdeë geniet.

Die familie van Sarel Cilliers saam met die skrywer en regisseur, Jannes Erasmus. v.l.nr. Andries Cilliers Jnr, Andries Cilliers, Petrus Cilliers, Jannes Erasmus, Stoffelina Maria Buys, Cilliers Buys (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Die regisseur het dit reggekry om ’n storie wat eintlik swaar is, lig te maak deur ’n hedendaagse perspektief in te sluit.”

Hy is ook trots op Beukes wat haar plek as Voortrekkervrou op die planke van die AfriForum Teater volstaan.

“Dit was vreemd om haar in so ’n historiese rol te sien, so met die kappie op en al. Sy hou baie daarvan. Sy is in murg en been ’n Afrikaner – dis ’n geliefkoosde rol vir haar.”

Erasmus vertel dat een van die familielede na afloop van Saterdag se vertoning na hom toe gekom het en gebieg het dat hy gewonder het of die jong Erasmus ’n sukses van die produksie sou kon maak.

“Dit was ’n groot kompliment toe hy vir my sê dat hy trots is en dat hy gevoel het dat Sarel Cilliers reg verteenwoordig is.”

Die speelvlak van Die Gelofte is verleng tot en met 19 Junie en kaartjies daarvoor kan hier aangeskaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Talitha ·

Wat ‘n wonderlike vertoning is dit nie! Indien jy nog nie het nie en daar is nog kaartjies beskikbaar, gaan kyk dit gerus! Welgedaan aan die hele produksie-span.

Retha ·

Wens ons kon dit bywoon, mar 70plussers hoort nie meer alleen op ver paaie nie

Hendrik ·

Die vertoning was baie baie goed en mense wat nog nie 16 Desember se Geloftedag gedenk nie kom besoek Kleinfontein oos van Pretoria gerus op die dag.

ABDP ·

Die wat nog nie gaan kyk het nie, MOET kaartjies koop. Beslis elke sent werd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.