Dankbaarheid en hoop

(Foto: Joshua Reddekopp/Unsplash.)

Deur dr. Jan Jooste 

Is daar êrens mense wat deurgaans slegs die goeie in hul lewens ervaar? Selfs deurlopende “goeie” ervarings bring dalk ook hul eie probleme, soos vervelendheid of ʼn oormatige groei van die middellyf?

Waarskynlik kom elkeen eerder slaggate in die lewenspad teë, en is die vraag dan: Hoe nou?

Dankbaarheid en hoop is twee towerwoorde wat saam ʼn beter lewenspad oopsluit. Sáám help DANKBAARHEID en HOOP om die skade van die slaggat te herstel en te groei na ʼn beter lewenspad.

Wanneer ek dankbaar is vir dít wat met my gebeur, ontstaan daar ʼn positiewe wisselwerking wat waarskynlik gaan meebring dat my hoop op ʼn verbetering, makliker tot die nuwe droomuitkoms lei:

(Grafika verskaf)

Dankbaarheid en hoop help dat ek eienaarskap neem van my situasie. Wanneer ek dankbaar is vir die 80% genade wat ek ontvang, is dit maklik om te hoop dat die ander 20% ook kan verbeter. Dán is dit meer waarskynlik dat ek sal besluit om self te werk om die situasie verder te verbeter. Dié aksie lei dan tot ʼn uitkoms, wat waarskynlik my dankbaarheid gaan verhoog. Hoe meer ek self ingryp om my situasie te verbeter, hoe meer sal ek eienaarskap neem van die situasie; wat die spiraal na hoër hoogtes sal lei.

Telkens in die wentelbaan sal elke stap positief inwerk op hoop om dit te vergroot; terwyl die hoop weer meehelp om elke stap beter te laat plaasvind. Wanneer ek beplan om die situasie te verbeter, vergroot my hoop – terwyl die teenwoordigheid van hoop help dat ek beter en makliker beplan.

Namate ʼn mens oefen vir atletiek of gholf, of studeer vir ʼn eksamen of werk aan ʼn projek, vergroot die hoop op ʼn beter uitkoms.

Nuwe verwikkelinge is dan net nuwe situasies om eienaarskap van te neem en te verwerk, na ʼn nóg beter lewenspad.

Die teenoorgestelde benadering

Wanneer iemand egter nie dankbaar is vir die goeie aspekte van ʼn situasie nie, kan die wiele maklik afval.

Ondankbaarheid of gebrek aan dankbaarheid loop maklik saam met wanhoop en ʼn gebrek aan hoop; en lewer presies die spieëlbeeld van die dankbaarheid-en-hoop-spiraal.

Ondankbaarheid en ontevredenheid veroorsaak maklik dat iemand anders geblameer word vir die huidige situasie. Alles is dié of daai se skuld! Natuurlik kan ʼn mens dan nie eienaarskap neem van die situasie nie, minstens nie ten goede nie. Dermate dat mens wel beplan om te ontsnap uit die situasie, kan dit maklik neerkom op straf of negatiewe gevolge vir die skuldige, eerder as op beplanning om die situasie te verbeter.

Negatiewe beplanning lei tot negatiewe aksie wat negatiewe uitkomste veroorsaak. Steeds word die situasie self nie verbeter nie, so die ondankbaarheid word nie opgelos nie.

Alles vind plaas in die afwesigheid van hoop, wat dan eintlik wanhoop is. Die wisselwerking tussen wanhoop en elke stap dryf die spiraal verder na groter wanhoop.

Wanhoop lei tragies tot depressie en moontlik selfmoord. Ons sien wanhoop in ons gemeenskappe met protesaksie. Dit is die wanhoop op ʼn beter toekoms wat maklik mense motiveer om hul eie fasiliteite af te brand.

Die ondankbaarheid-en-wanhoop-spiraal lyk so:

(Grafika verskaf)

Nuwe verwikkelinge kan dan maklik die spiraal vinniger na onder versnel.

God se ingryping

Hierdie twee maniere van dink is beskryf sonder om na die Goddelike ingryping daarin te verwys, veral om aan te toon dat die dankbaarheid-en-hoop-spiraal op eie meriete alreeds ʼn wenbenadering is. Mét God verkry dit superkrag. Christene hoop reeds op die ewige lewe, en ʼn tussen-in hoop op ʼn beter huidige situasie kan maklik daarmee versoen word. “As hulp in benoudhede, is Hy in hoë mate beproef.” (Psalm 46:2).

Onthou Paulus en Silas in die gevangenis: “En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister.” (Handelinge 16:25). Die Here was getrou en het met ʼn aardbewing die deure oopgegooi en die boeie van hul voete losgemaak.

Onthou ook Habakuk: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie — nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil.” (Habakuk 3:17 en 18).

Bo alles geld God se belofte: “Want sewe maal val die regverdige en staan weer op, maar die goddelose struikel in die ongeluk.” (Spreuke 24:16). Hierdie gedeelte erken dat regverdiges gaan val. Christenskap vrywaar ons nie van ellende nie. Dit waarborg egter dat ons weer sal opstaan.

Dankbetuigings

Hierdie artikel is genadiglik ʼn mini-gevallestudie daarvan om ʼn probleem positief te aanvaar en dan positief daarmee te handel.

ʼn Geruime tyd luister ek Sondagoggende na Sondagjoernaal wat aangebied was deur Lizelle de Bruin. Dit het my altyd getref hoedat sy in ʼn onderhoud altyd sal vra waarvoor die gespreksgenoot dankbaar is en wát hoop gee. Dit was kosbaar aangesien ek as onder vise-kanselier intiem betrokke was by studentesake. Ek het deurgaans ervaar dat studenteprotes die gevolg is van ʼn gebrek aan hoop.

RSG besluit toe om die program te beëindig. Ek kry toe die e-posadres van die bestuurder, maar besluit om eers ʼn ordentlike motivering op te stel, voordat ek kla.

In die navorsing besef ek toe dat Lizelle de Bruin waarskynlik internasionaal pionierswerk gedoen het deur dankbaarheid en hoop met mekaar te verbind. Daar is heelwat artikels beskikbaar oor dankbaarheid en die positiewe gevolge daarvan. Slegs een artikel is opgespoor wat dankbaarheid en hoop tegelykertyd behandel; maar dan sonder om na die onderlinge wisselwerking te kyk.

Daar is één belangrike wisselwerking tussen dankbaarheid en hoop wat moontlik die onderlinge dinamiek bepaal. Dankbaarheid impliseer ʼn kyk na die verlede vanuit die hede, terwyl hoop ʼn kyk na die toekoms vanuit die hede impliseer. Vanuit ʼn positiewe ingesteldheid kyk ʼn mens terug én vorentoe, terwyl jy geanker is in die hede. Beide konsepte word dus in die hede geanker.

Daarby kom dan die verdere dinamiek soos uitgewys in die dankbaarheid-en-hoop-spiraal.

Hopelik gaan hierdie studie mense meehelp tot ʼn beter môre.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter9 ·

Sinvol; dankbaarheid kan dus die gevolg wees van ‘n onwribare, vaste vertroue in die Bron voortvloeiend uit die erkenning dat alles’ n genade-geskenk is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.