Decorex Joburg: ’n Vertoonvenster van ontwerp-, dekorinspirasie

‘n Lucky-stoel vir die eetkamer ontwerp deur Haldane Martin. (Foto: Maroela Media)

Vandag is die laaste dag om Decorex Joburg se vier vlakke propvol inspirasie vir kombuise, badkamers, dekor en jou buitenste leefareas self te ervaar.

Die Sandton-konvensiesentrum is die plek waar talle van Suid-Afrika se topontwerpers sedert 28 Julie bymekaarkom om die beste in die plaaslike wêreld van ontwerp en binnehuisversiering uit te stal. Dit is ook die eerste keer ooit dat toonaangewende ontwerp- en dekoruitstalling in die hartjie van die Johannesburgse sakekern plaasvind.

Decorex Africa is al 29 jaar lank ʼn anker in die ontwerpbedryf. Die skou, wat reeds ʼn instelling op talle ontwerpers en binnehuisversierders se kalender is, was nie net bly om ná die inperkingstyd van die pandemie volstoom terug te wees nie, maar is ook heeltemal herbedink met ʼn nuwe voorkoms om die ontwerpbedryf te ondersteun.

Decorex Joburg word Donderdagoggend amptelik geopen. (Foto: Maroela Media)

Bielle Bellingham, ʼn kreatiewe direkteur en voormalige dekortydskrifredakteur, is die kurator vir die skou in Kaapstad én Johannesburg. Onder haar waaksame oog is speelruimtes geskep wat die behoeftes en begeertes van dié tyd weerspieël en illustreer.

Bellingham het ʼn paar van haar insigte as kurator gedeel wat in die uitstallings by vanjaar se Decorex gesien kan word:

  1. ʼn Sagter aanslag

Die verskillende ruimtes in ʼn huis is gereed om te skuif na sagter teksture. Dink 3D, lywige stukke wat ʼn nuutgevonde gevoel van ʼn toevlugsoord in jou huis help skep. ʼn Huis word die plek waar die goedvoelfaktor verhoog word.

  1. ʼn Werk-en-speel-balans

Werkruimtes word ʼn plek waar daar ʼn fyn balans gevind word tussen werk en speel. Dit is ook ʼn voortdurende balans wat gevind moet word in die dekor- en ontwerpbedryf. Ons het ʼn sekere vlak van praktiese uitvoerbaarheid nodig om doelgerigte ontwerp te skep, maar wat sou ʼn ontwerp wees sonder speelse kreatiwiteit?

  1. Nie meer net ʼn kombuis nie

Kombuise is vinnig besig om aan te pas en te verander in ʼn soort leefruimte op onkonvensionele wyses. Die Decorex Africa-kombuisprojek omhels kombuisontwerp wat nuwe rigting vir die hardwerkende ruimte bied.

  1. Maak meer self

Sedert die pandemie se inperkings en ontluikende kommer oor volhoubaarheid het daar ʼn dringendheid ontstaan oor die daad van om iets te kan skep. Dit is nou die tyd om te leer hoe om daardie rusbank te bewaar, omskep en te herstoffeer in plaas daarvan om dit net te vervang. Decorex Africa het talle uitstallings wat fokus op die selfdoen-beweging van die toekoms.

  1. ʼn Sirkulêre ekonomie

Produk- en interieurontwerp wat met volhoubaarheid in gedagte geskep is, sal ʼn verskuiwing in die ingesteldheid van ontwerpers en verbruikers, asook die uitkoms van produkte dryf. Decorex Africa is vanjaar ʼn vertoonkas vir nuwe bio-materiale, oppervlakke en oplossings wat verbruikers hul beste ekovriendelike lewe met ʼn gemak sal laat help leef.

  • Kaartjies is by die deure beskikbaar. Besoek Decorex.co.za vir meer inligting of kom kuier saam op Facebook, Twitter en Instagram vir meer ontwerp- en binnehuisversieringwenke.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.