Delheim se Wilde Sampioen-snuffeltog is terug

Van die sampioenspesies wat in Delheim Wynlandgoed se woud groei. (Foto: Verskaf)

Van groot karbonkels teen ʼn boomstam tot ragfyn sampioenkoppies en sampioen-geïnspireerde disse. Dit is wat op besoekers wag wat op 16 Junie by Delheim Wynlandgoed aansluit vir sy gewilde Wilde Sampioen-snuffeltog.

Delheim is ʼn familiewynplaas geleë op die R44 in die Simonsberg sub-streek van die Stellenbosch Wynroetes, op die Knorhoekpad.

Onder die kundige begeleiding van die gasheerduo, Nora Thiel en Gary Goldman, word snuffelaars op ʼn unieke sampioen-ervaring geneem. Dit sluit in ʼn oorsig oor snuffeltogte en sampioen-variëteite, asook ʼn driegang sampioen-geïnspireerde middagete met wyn van die landgoed.

Die Delheim-woud met paddastoele is veral gewild onder besoekers. Dit is hier waar die fungi ongestoord floreer, sy drade onder die woudvloer weef en organiese materiaal in gesonde grond omskep.

Eetbare sampioene word dikwels aan verskeie gesondheidsvoordele gekoppel en sommige kulture beweer selfs dat dit bonatuurlike magte het. Baie sampioenspesies is heerlik as ʼn gereg, met van die beste voorbeelde daarvan wat op Delheim groei.

Van die sampioenspesies wat in Delheim Wynlandgoed se woud groei. (Foto: Verskaf)

Groepe vir die snuffeltogte word tot slegs 30 deelnemers beperk, sodat elkeen ʼn intieme en eerstehandse ervaring van hierdie opwipgeleentheid kan hê.

Dit is al vir sowat 15 jaar ʼn hoogtepunt op die Kaapse wynland-kalender. Thiel het in ʼn huis grootgeword waar daar gereeld vir sampioene gesnuffel is. Albei van hulle is meester-mikofiele wat genoeg oefening gehad het om dié fungus uit te snuffel.

Buiten dat sampioene net vir ’n kort rukkie ná die eerste winterreën hul opwagting maak, word hierdie snuffeltog net op een dag vir die publiek aangebied.

Lede van Delheim se wynklub kan hierdie uitstappie ook op 2 Julie meemaak. As jy dus nie reeds ʼn lid is nie, is dit nou die perfekte tyd om aan te sluit.

Kaartjies kos R650 en geen persone onder die ouderdom van 18 word toegelaat nie. Besoekers word versoek om ʼn mandjie, knipmes, stapskoene en reënbaadjie saam te bring. Vir besprekings stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.