Dewald Gouws: ‘Dis ʼn roeping, ek het nie gospelmusiek gekies’

Dewald Gouws. (Foto: verskaf)

Dewald Gouws, ʼn gospelsanger wat vandag die land van kerk tot stadsaal plat toer om mense te nooi om in die hemelse teenwoordigheid van die Heilige Gees te wees, se lewe het onherroeplik verander tydens ʼn visvanguitstappie in Hentiesbaai in 2006.

Op ʼn somersaand, ná ʼn aand van kuier, het hy saam met een van sy vriende teruggestap na die huis waarin hulle tydens die wegbreek gebly het. Dié twee het verdiep geraak in ʼn hartsgesprek oor die Here.

“Die gesprek het begin toe ek hom vra waarom hy so afsydig voorkom. Hy het bloot geantwoord dat hy ses maande tevore sy hart vir die Here gegee het.”

By die huis gekom, gaan die gesprek bloot voort. Gouws het aan die man se lippe gehang, die getuienisse wat dié aand gedeel is, het aan sy hart geklou.

“Ek het Sondagskool toe gegaan, ek is voorgestel en aangeneem. Ek het egter nie geweet dat die Here se teenwoordigheid so tasbaar kan wees nie.”

Iets het daardie onvergeetlike aand in Gouws se hart geroer.

ʼn Ruk ná die wegbreek het Gouws wakker geword, hande in die lug en met ʼn  aanbiddingslied in sy hart. Hy het tóé geweet dat die verkondiging van die Here se Woord ongetwyfeld sy roeping is.

Die 47-jarige sanger is reeds nege jaar besig met gospelbediening en het vyf albums op sy kerfstok.

In 2003, ʼn paar jaar voordat sy lewe handomkeer verander het, het hy aan Idols-sangkompetisie se deur geklop met die hoop om ʼn deurbraak in die musiekbedryf gemaak.

“Ek weet nou dat dit nie die Here se plan vir my was nie. Ek het ook nie die selfvertroue gehad om noodwendig daar te presteer nie. As die kameras nader gekom het, het ek nie geweet watter kant toe om te gaan om te probeer wegkom nie.”

Hy getuig egter dat die Here se teenwoordigheid selfs toe in sy lewe was.

“Ek wou op my eie die musiekbedryf betree. Die Here het daardie deure toegemaak en gewag vir die regte tyd. Die oomblik toe Hy sien dat my hart reg is en my agenda rein is, dat ek vir Hom wil werk, toe bemagtig en bekragtig Hy my. Dis hoekom my bediening vandag volhoubaar is.”

Dié sanger, wat na sy optredes as bediening verwys, het een doel voor oë: om mense te nooi om kinders van die Here te word.

“Die Here ken Sy kinders se harte. Ek wil hê dat wanneer mense na my musiek luister, moet hulle die kragtige werking van die Heilige Gees ervaar. Hulle moet weet dat hulle nooit alleen is nie en dat hulle veilig in die palm van God se hand bewaar word.”

Gouws se stralende passie om die Here te dien deel hy met enige iemand wat bereid is om te luister.

“Dis ’n roeping. Ek het nie gekies om ’n gospelsanger te wees nie, maar ek weet dis wat ek moet doen. Ek het ’n bonatuurlike ontmoeting met die Here gehad.”

Hy is tans besig om van dorp tot stad te toer, iets wat sy hart warm laat klop. Gouws besef dat daar deure deur die land heen vir hom oopswaai om die Woord van die Here te verkondig, ongeag die gebou waaraan daardie einste deur gekoppel is.

“Mense is honger vir die woord van die Here.”

Hy vertel van ’n optrede wat hy onlangs by ’n ouetehuis gedoen het.

“Die inwoners het ongelooflik hartseer en terneergedruk gelyk. Mens kon sien dat hulle na hul mense verlang. Ná die vertoning het baie skoon begin huil en my kom omhels.”

Dis dié soort impak wat Gouws graag op mense wil hê.

Luister na Gouws se enkelsnit “Nooit Alleen” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.