Die gawe van gee

Argieffoto (Foto: Noah Buscher/Unsplash)

Dit is ʼn nuwe jaar, met nuwe geleenthede en uitdagings wat met nuwe hoop aangepak word. Soos elke jaar van tevore begin ek hierdie Januariemaand met my nuwe leeslys vir die jaar wat voorlê, Irma Venter en Madelein Rust se twee nuwe boeke word eerste gretig saam met my leesliggie verslind. Daarna beweeg ek oor en begin lees aan ʼn boek van Benescke J v Rensburg, God was dáár. Hierdie boek bestaan uit verhale van bekendes en ander oor wonderwerke wat hulle lewens radikaal verander het.

Retief Burger skryf in die boek oor die feit dat God jou weer op die bergtop sal laat staan. Dit was in ʼn stadium in hierdie aanbiddingsleier se lewe wat hy ʼn laagtepunt beleef het en aan sy verhouding met God begin twyfel het. Maar in hierdie tyd het God Hom opnuut aan Retief openbaar.

Ek is so dankbaar dat Retief en die ander skrywers hierdie tye van ontmoeting met God met my as leser deel, hierdie gawe van gee gaan vind rusplek in my hart en ek kan nie help om te dink aan hoe groot gedeelte GEE en DEEL ook van my roeping uitmaak nie. My roeping hier by Solidariteit Helpende Hand. Ek is lief vir skryf en praat, daarom vul ek my rol as woordvoerder elke dag met ʼn groot glimlag en opgewondenheid. En deur te kan lees wat ander geskryf het, deur te weet hulle deel hulle verhale om nuwe hoop te bied, dit is ʼn gawe.

Hierdie jaar staan voor ons, op sy twee voete wag hy vir ons om hom te omhels en om ons roeping te leef. Hierdie jaar het die Here vir ons gegee, nog ʼn jaar, nog gedeelde ure saam met ons geliefdes. Hoe dan anders as om te gee wanneer ons moet, hoe dan anders as om te deel wanneer ons kan?

Gedurende die feesseisoen, net soos elke jaar, het my gedagtes van dankbaarheid weer kaalvoet geloop tussen gedagtes van hartseer ook. In my pos by Helpende Hand leef ek elke dag met hierdie gedagtes van kinders wat swaar kry, bejaarde persone wat hoop verloor het en persone met gestremdhede wat nie ʼn uitweg het nie. ʼn Mens sien en beleef hartseer elke liewe dag, maar ʼn  mens sien hoe hoop ʼn werkwoord word en hoe daar saam gestaan word om hierdie mense te help.

Soos wat ek sit en terugdink aan die lekkerste somer-Kersfees hier in Pretoria saam met net my man en my dogtertjie in die heiligheid van ons almagtige skepper, dink ek ook aan hoe ons takke, streke, personeel en vrywilligers hulle tyd en liefde gedeel het met ons mense landswyd. Elke jaar se kersprojekte is mooi, diensbaar en gevul met hoop.

Ek dink terug aan Kersfees in die Kolonnade-winkelsentrum, ek sien ons vrywilligers besig om ʼn spesiale geskenktoedraaistalletjie te beman, ek sien hulle in hul Helpende Hand-hempies en met glimlagte op hulle gesigte – daardie glimlag kan jy nie aansit nie dit is ʼn opregte een wat net wakker gemaak word deur elke dag jou roeping te leef. En hierdie vrywilligers, net soos al ons vrywilligers landswyd, weet wat dit beteken om roepings gedrewe te werk.

Die spasie wat opgeneem is, was klein, maar die impak wat dit gemaak het was groot. Nie net was daar ʼn gevoel van vreugde en samewerking nie, maar die hoop om studente te help studeer was die agenda van elke persoon wat gehelp het. Gedurende hierdie tydperk het die gemeenskap nie net geskenke toegedraai nie, maar het hulle ook ʼn beduidende bedrag van R35 000 ingesamel om behoeftige studente met rentevrye studielenings te ondersteun.

René Roux (Foto: Verskaf deur SHH)

Soos wat ʼn mens dink aan al die Kersfees-inisiatiewe maak dit elke stukkie van jou hart warm, maar vir my is dit besonders om te weet dat hierdie tak van Solidariteit Helpende Hand geskenke toegedraai het en so kan help bou aan ʼn toekoms vir ons jeug.

Ja die werk is lank, hulle het omtrent geskenke toe gedraai van die oggend tot die aand. Maar om in jou hart te weet dat jy ʼn verskil maak, maak die dae korter en die gevoel wat by jou bly soveel langer.

Die vrygewigheid van diegene wat geskenke toegedraai het, het die harte van die gemeenskap geraak. Wanneer die doel van die Moot-Wes-studiefonds met hulle gedeel is, het dit dikwels ʼn nog dieper verbindingsvlak geskep. Elke geskenk het nie net materiële waarde gehad nie, maar ook die waarde van die gemeenskap se medelye en ondersteuning vir die opvoeding van jongmense.

Een van die mees waardevolle en spesiale geskenke wat toegedraai is, was ʼn Familiebybel. My man het ook die voorreg gehad om op Kersdag vir ons dogtertjie weer van Jesus se geboorte te lees uit die Bybel, haar ogies was op hom en haar ore was gespits maar haar hart, haar hart was by Jesus.

Mense kan nou nie elke dag Kersgeskenke toedraai nie. Ek weet vir ʼn feit dat my dogtertjie en baie ander kinders elke dag sal wil Kersfees hou, maar ʼn mens tree ook ʼn nuwe jaar binne vol nuwe uitdagings en nuwe pogings. ʼn Nuwe jaar gevul met nuwe maniere om ʼn verskil te maak, ʼn jaar wat “Kolonade-geskenktoedraai” weer nodig sal wees om te sorg dat ons jong studente kan gaan studeer, al kan hulle dit nie bekostig nie.

Namens die gemeenskap en die Moot-Wes-studiefonds, wil ons elke persoon bedank wat bygedra het tot die sukses van hierdie projek. Hierdie aksie van gee is nie net ʼn eenmalige gebeurtenis nie, maar ʼn voortsetting van ʼn tradisie wat in die harte van die gemeenskap gewortel is.

Ek erken weer God is groot en goed. Alle eer gaan aan Hom wat die sukses van hierdie tak moontlik gemaak het. Mag hierdie gees van gee voortduur en ʼn baken van lig vir die toekoms wees. Mag die gemeenskap se liefde en samewerking steeds bloei, nie net tydens Kersfees nie, maar reg deur die jaar wat vir ons voorlê.

Net soos wat ʼn mens die samewerking en die gawe van gee gesien het tydens Kersfees, sien ʼn mens dit ook so vroeg soos die eerste skooldag van die nuwe jaar. ʼn Mens sien hoe mense saam kom om tassies en skryfbehoeftes uit te deel aan behoeftige kinders wie se ouers dit nie kan bekostig nie.

ʼn Mens sien hoe Helpende Hand se streke beplan aan nuwe maniere van geldinsameling om gemeenskapsontwikkeling te bevorder. ʼn Mens sit op panele waar daar finansiële bruggies gebou word vir behoeftige kinders. ʼn Mens sien hoe nuwe studente kan gaan studeer met befondsing vanuit die Studietrust. ʼn Mens sien hoe ʼn toekoms gebou word deur mense wat gee en deel, ʼn mens sien hoe ʼn beter toekoms blink vir Suid-Afrika en ʼn mens sien hoe ʼn roeping van gee en deel ʼn reuse verskil maak in diegene wat dit die nodigste het se lewens.

Mag ons geskenke van waardes elke dag van die jaar met liefde, empatie, hoop, vreugde, roeping, geloof, deernis met vir mekaar uitdeel, toegedraai in die sagste van ons menswees sodat ons ander kan help groei.

Mag ons vrywilligers elke dag vanjaar waardes saai wat werk.

Om deel te word van die Helpende Hand-familie besoek www.ondersteunons.co.za, gaan loer ook op www.helpendehand.co.za hoe jy by jou naaste tak betrokke kan raak en besoek www.hh-studietrust.co.za om ons jong studente te ondersteun.

  • Rene Roux is ʼn adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.