Die getye van die lewe

Hannie Viljoen. (Foto verskaf)

Deur Hannie Viljoen

Daar is vir my veral twee dinge wat innerlike vrede en ʼn diep waardering vir die lewe bring, en dit is om na die golwe van die see en na ʼn kampvuur te staar.

Wanneer jy egter deur een van die twee natuurkragte vasgekeer word, soos as jy deur brandende vlamme omring word of as die golwe jou voete onder jou uitslaan en jy nie vir asem kan opkom nie omdat die wind te sterk is, ervaar jy dié natuurkragte heeltemal anders. Die vrede word met vrees vervang, en die mooi word ongenaakbaar.

Toe ek vyf jaar oud was, het my broers my geleer om die golwe op ʼn klein lyfplank (boogie board) uit te ry. Een oggend het die manne gaan diepseehengel en die vroue het strand toe gegaan. Vol selfvertroue het ek elke golf uitgery soos my twee sterk broers my geleer het. Skielik het die wind opgesteek, die een golf na die ander het my voete onder my uitgeslaan en verskeie trekstrome het my lyfie al hoe dieper en dieper die see in getrek. Vreesbevange het ek my arms uitgesteek en my suster, wat heelwat ouer as ek is, het my uit die onstuimige water gered.

Jare daarna het ek dié water wat vir soveel ander vreugde bring, steeds vermy. Ongeveer tien jaar het verbygegaan voordat ek weer die golwe met laagwater aangedurf het. Om my selfvertroue in die see terug te wen, het ek keer op keer in die see ingegaan en al hoe langer in die diep water bly staan.

Soms raak die lewenswater baie diep, dan moet jy soos ʼn palmboom met elke storm al hoe sterker word. Vroeër vanjaar het ek ʼn miskraam gehad en dit het gevoel of die golwe van die lewe my voete onder my uitgeslaan het. Dit is in dié tye wat jy voel jy verdrink, dat die volgende golf jou gaan oorrompel omdat jy so vegvoos is dat jy wil opgee.

Ons het kort daarna by my skoonouers in Mosselbaai gaan kuier en ek en my man het met hoogwater in die see gaan swem, maar later kon ek die onstuimigheid nie meer verduur nie. Ek het so rustig as moontlik met elke golf probeer om terug te keer vasteland toe. ʼn Halfuur later sit ek op die strand na die golwe en kyk en dink daaroor dat dit nie eintlik só erg was nie.

Toe besef ek ons voel soms te midde van ʼn storm in ons lewe asof ons nooit daaruit gaan kom nie, terwyl ons ander kere op die kantlyn sit en kyk hoe ander in dieselfde golwe vasgevang is en dink hulle oorreageer, want dit is nie só erg nie.

Wanneer ons self in ʼn storm is, voel dit oorweldigend, asof ons die geveg gaan verloor, of daar nie hoop is nie. Dat die see nie jou maatjie is nie en dat die see soms wen. Die lewe is soos die see, daar is hoog- en laagwatergetye. Soms wen die lewe en ons verstaan dit nie.

Dan dink ek aan dié Bybelvers oor Jesus en sy dissipels in ʼn skuit op pad na die ander kant van die see van Galilea: “En ʼn groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word. Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie? En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: ‘Swyg, wees stil!’ En die wind het gaan lê, en daar het ʼn groot stilte gekom.” – Markus 4:37-39

Soms is dit hoogwater, soms is dit laagwater; dit is die ritme van die natuur en die lewe. Dit kan nie altyd hoogwater wees nie en ook nie altyd laagwater nie. Leer jou lesse in die gety waarin jy jouself bevind.

As dit laagwater is, geniet die rustigheid, hernu jou krag en herwin jou energie sodat jy, wanneer dit weer hoogwater is, kan moed hou en enduit volhard totdat dit weer laagwater is.

Solidariteit Helpende Hand het vanjaar in hul navorsing gemeld dat angs, depressie en eensaamheid in Suid-Afrika, soos in die res van die wêreld, hoogty vier. As jy tans in die hoogwater is en jou geestestoestand trek swaar omdat jy maatskaplike uitdagings in jou huis beleef of omdat die ekonomiese krisisse golf na golf oor jou breek, moet jy onthou Wie jy dien. God ken die balans alte goed. Hy weet in watter gety jy jou bevind en Hy sal jou dra wanneer die storms van die lewe oor jou losbars en dit hoogwater is. Hy weet hoe moeilik dit is.

Mag elke gety van die lewe jou daaraan herinner dat Jesus jou redder is, die Een wat op water loop, wat die storms laat bedaar, wat self die dood oorwin het.

  • Hannie Viljoen is hoof van navorsing by Solidariteit Helpende Hand wat pas ʼn studie oor gemeenskappe voltooi het. Vir meer inligting oor die resultate van die gemeenskapsnavorsing regoor Suid-Afrika, besoek gerus Helpendehand.co.za/ons-gemeenskap/.

Lees ook die berig getiteld Afrikaners worstel met angs en depressie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.