Die hanslam wat koppe laat draai

Lammie op een van sy vele stranduitstappies. Foto: Verskaf.

Wanneer Lammie, die mak Weskuslam, sy laatmiddagstappies op Langebaan se strand geniet, is hy onbewus daarvan dat hy koppe laat draai en monde laat oophang. Hierdie vrolike troeteldier hou veral van kinders en besef nie hy vorm ’n ongewone prentjie nie, berig Sarie Marais-Nell.

Jaco Kotze, Lammie se eienaar, woon reeds baie jare op Langebaan en vertel: “Stel jou hierdie situasie voor – my dierbehepte vriendin daag een Vrydagaand by die huis op met ’n week oue lammetjie. Ons sit vas hieroor, want ’n skaap as troeteldier is darem heeltemal anders as ’n hond!

“In daardie stadium het ons reeds drie honde, katte en hoenders op ons erf, skaars 50 meter vanaf die Langebaan-strandmeer. Wel, sy het gewen en vier maande lank moes ons elke aand die kombuisvloer met koerante bedek en elke oggend die “herwinningsproses” deurmaak – tot Lammie heeltemal te groot geraak het vir die huis. Ons het hom na sy eie kampie met water en gras en skadu in die agterplaas uitgeskuif. Intussen het hy van kleins af gewoond geraak aan hierdie strandstappies – hy is versot daarop.”

Toe die paartjie se weë vroeg in 2019 skei, het die vriendin alternatiewe blyplek vir Lammie gereël. Kort daarna kry Jaco die oproep: Lammie is depressief en eet niks meer nie.

“Ek het Lammie dadelik gaan haal en só raak hy deel van ons ‘skikkingsooreenkoms’.

“Dit het weke geduur voor hierdie hanslam weer begin bokspring en speel en sy skeidingsangs oorwin het. Dis duidelik hy vind ’n veilige hawe hier by my.”

Lammie kry ook gereeld aandag van almal op die strand as hy gaan stap. Foto: Johann Hanekom/Verskaf.

Bedags sien Lammie so uit na sy gereelde stranduitstappies dat hy hek toe loop wanneer Jaco die leiband, stapstok en hoed optel. Sodra die hek oopgaan, begin Lammie wei-wei see se kant toe drentel. Hy is slegs vas aan die leiband as daar te veel mense of honde is, andersins geniet hy die stapkans en seewater ten volle.

“Soms draal hy soveel dat ek voor hom die strand bereik. Dan hoor ek net van agter af Lammie se klippetie-klippetie soos hy hardloop om my in te haal.”

Hierdie Dormerlam van 21 maande is veral lief vir die kinders wat naderstaan en in sy wol kom krap. Wanneer die kinders ekstra spelerig is, raak Lammie soms laf – tot groot plesierigheid van almal rondom hom. Dan sal hy daar, op die seesand, teen hulle resies hardloop of kopstamperig raak.

Intussen verstom Jaco hom oor mense se reaksies; oor die grappies wat besoekers aan Langebaan maak. “Is sy naam Tjoppie? Is julle op pad na ’n braai of dalk na Clifton?” is van die lawwe vrae wat Jaco gereeld hoor.

“Ek kan amper nie verstaan waarom mense dink dis so vreemd om ’n hanslam te hê nie. Ek is nie eksentriek nie! Ek stap met hom soos ek met my honde langs die see stap,” verduidelik hierdie sakeman en raadslid vir die Saldanhabaai-munisipaliteit.

“Elke middag, net ná my en Lammie se stappie, neem ek my honde ook vir ’n 3 km-wandeling. Jy kan tog dink ’n skaaplam en honde se stapbehoeftes sal verskil van mekaar.”

Almal wil ook graag ‘n foto van die Dormerlam op die strand neem. Foto: @XposedSA/Verskaf.

Vroeg in Novembermaand het Lammie een middag oudergewoonte tot buite die hek beweeg en daarna vinnig teruggehardloop huis toe, hy wou geen tree verder gee nie. Daardie nag het Lammie baie siek geraak en moes hy ’n noodoperasie kry.

“Dieselfde veearts wat hom op vier maande gekastreer het, het die verstopte urienbuisie onder verdowing herstel.”

Volgens Jaco is nierstene onder skape dodelik indien dit nie betyds behandel word nie.

“Die veearts moes sy hele urienweg wysig om hom te red.”

Intussen het hierdie hanslam ’n gewilde onderwerp van braaivleispraatjies en selfoonfoto’s geraak. Al meer besoekers aan Langebaan begeer om hierdie “anderste strandloper” te ontmoet.

“As Lammie dalk ’n toerismewaarde tot Langebaanstrand toevoeg, is dit ook reg so,” verklaar Jaco.

“Die nabygeleë Schaapeneiland was tog oorspronklik die plek waar skape aangehou is; dis ’n integrale deel van die streek se geskiedenis.

“Dit lyk my Lammie is ’n goeie toonbeeld van die huidige Weskus-situasie: Onlangse ontwikkelings in ons streek ten spyt, bly die Weskus-atmosfeer pure plaas!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anine ·

Dis nou n oulike lekker-lees berig wat mens laat lekker-voel!
So bly die veearts kon hom betyds red.

Diereliefhebber ·

Jaco, SA sou baie beter plek gewees het, as meer mense so lief was vir diere soos jy. Wat geen moeite ontsien nie, as dit by dier se versorging kom nie. Hierdie berig is die pragtigste een wat ek in 20 jaar gesien of gelees het, ek beny jou en vir Lammie se see wandelings!! Ek bedank jou as mede burger vir die voorbeeld wat jy stel, veral vir jong mense om te sien!!

Weinig wol ·

So ‘n heel anderse storie as die lot van die arme skaap op Clifton strand nie te lank terug nie….

Swartwolf ·

Oulike storie – hou net die eff weg van lammie op die strand.

Henriëtte ·

Lammie en sy storie is DIERbaar. Wens daar was meer fotos. Ek glo ek gaan Maroelamedia gate uit geniet. Groot groete. Henriëtte.

Danel Morkel ·

Ek wil baie graag ‘n foto/video stuur van hoe ons met ons skapie dam toe stap. Hy is baie lief vir sy stappies dam toe saam met die honde. Vir wie kan ek dit stuur.

Sune van Heerden ·

Dagsê Danel

Dankie vir jou boodskap.
Stuur gerus die foto en besonderhede per e-pos aan [email protected]

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.