Die Moot is anders

‘n Uitsig oor die Moot van Magaliesberg se kant. (Foto verskaf)

Ek is terug in die Moot, na ʼn jaar en ʼn half in die mooie Kaap. Al het ek hier in die Moot grootgeword, is dit nogal vir my ʼn aanpassing om weer terug te wees.

In die Kaap het die mense gereeld vir my gevra, waar kom jy vandaan? “Pretoria, die Moot,” sê ek dan.

Soms ken hulle die Moot en dis ʼn “O, ja! Ek ken die Moot”.

Maar wee, o, wee! So nou en dan is die antwoord: “Wat is die Moot?” Hoe verduidelik ʼn mens dan nou so iets?! Nou dat ek terug is, sal ek makliker kan verduidelik.

In Bellville was ek bederf met vele winkelsentrums in die omtrek. Jy kan kies en keur tussen Tygervallei, Willow Bridge, Fairbridge, Cape Gate, die Blomtuin OK, Old Oak Spar en die Pick ʼn Pay Hypermarket. Jy waag dit om tienuur die aand gou in jou pajamas by die Engen in La Rochelle iets te gaan koop. En so een keer in ʼn jaar loop jy miskien iemand wat jy ken by Stodels raak.

Die Moot is effens anders. Gaan jy Saterdagmiddag 15:00 Waverley Plaza toe, dan sien jy die hele gemeenskap se mense. Jy maak of jy daardie boelie van skool nie sien nie en hier en daar groet jy so in die verbygaan kerkmense, maar om in vrede inkopies te doen in die Moot – sonder dat iemand sien wat jy alles in jou trollie laai – nee, dis jou nie beskore nie.

As iemand my nou vra sal ek kan verduidelik: “Uhm, soos… dis ʼn klein dorpie in die middel van ʼn groot stad.”

By Cappuccino’s loop jy die man raak wat in jou dae die hoofseun was by Hoërskool Oos-Moot. Nes jy in Clicks staan en jou voorskrifmedisyne gaan haal, staan jou buurtannie langs jou. By Total gaan praat jy maar gou met die oom wat in jou straat bly. By die Tuinhoekie duik jy tussen die plante weg vir ʼn vorige skooljuffrou.

So stil-stil is ek ook maar lief vir die Moot. My grootwordplek. Al bedel die bachelors Saterdagoggende met tutu’s by die verkeersirkel in Codonialaan. (Deesdae is daar skoolkinders wat elke week vir ʼn ander tipe skooltoer geld insamel.) Al raak die slaggate meer en meer. Al is daar altyd iemand wat die vierrigtingstop voor Checkers verkeerd verstaan, ek bly lief vir die plek.

Dalene by die skeepswrak by Agulhas. (Argieffoto)

Hoe goed ken ek nie die geluide van die Moot nie, hoe lieflik die stiltes wat soms op ʼn Sondagmiddag oor die plek daal.

Saans is daar krieke en paddatjies. Die bure se hoenderhaan maak amok in die buurt. Daar is selfs ʼn enkele paar blouapies, ystervarke en hase. Op die Magaliesberg is perde en bokke en growwe uitgekapte paadjies vir drawwers en fietsryers.

Ons het in ons sitkamer ʼn massiewe venster. Daar is geen gordyntjies en tierlantyntjies voor die venster nie. Dit is óóp. Wat daardie venster so spesiaal maak is die uitsig, want ʼn mens kan die helfte van Pretoria daardeur sien. ʼn Klein spikkeltjie East-Lynne; Pierneefrif; Tom Jenkinsrylaan; Unisa; die Reserwebank en dan weer ʼn klein gedeelte van Pretoria-Wes. Saans is daar ʼn skouspel van stadsliggies en dalk ʼn mooi sonsondergang.

In die aande gaan staan ek voor die venster en laat die harmonie op my inwerk. Die paddas, die krieke, die liggies, die stilte en soms hoor ek die mense by Hollandia sokker speel. Of by die Adelaars se rugby-velde weerklink die joligheid. Ek dink aan hoe die Moot verander, maar hoe die Moot dieselfde bly. Ons is almal een gemeenskap. Ons hou aan bou en mooimaak.

Die realiteit van die honderde stadsliggies tref my elke keer. By een van daardie liggies is daar iemand wat lag. Êrens is daar iemand wat huil. Dood. Siekte. En ek besef: ek is maar nét ʼn liggie in hierdie groot stad. ʼn Liggie uit iemand anders se venster. ʼn Liggie van die Moot. Die goeie ou Moot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anton ·

Pragtig geskryf. Ek woon al 7 jaar in Dubai maar sien alles wat jy beskryf asof ek nou daar is. Ek kom van Pretoria Tuine, so ek ken ook die Moot soos die palm van my hand..of dalk beter! Dankie vir die mooi storie, jy is ‘n goeie skryfster!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.