Die nuwe normaal vir plastiekgebruik en -verpakking

Foto ter illustrasie. (Foto:
Sophia Marston/Unsplash.)

Daar word te midde van die huidige tegniese- en ander uitdagings in Suid-Afrika hard agter die skerms gewerk om te sorg dat plastiek in die ekonomie bly en uit die omgewing gehou word.

Die koronavirus, beurtkrag, droogtes… Ons as Suid-Afrikaners moet van die mees aanpasbare mense op aarde wees. Ons gaan verseker ’n enorme sukses hiervan maak! So sê Johann Conradie, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Plastiekherwinningsorganisasie, Sapro.

Johann is een van die dryfvere agter die SA Plastics Pact wat op 30 Januarie vanjaar in Kaapstad bekendgestel is. Die omvattende projek om ’n sirkulêre ekonomie vir plastiek te skep, is deur die Wêreldnatuurfonds Suid-Afrika in samewerking met Sapro en WRAP in die Verenigde Koninkryk ontwikkel en is ’n eerste vir Afrika.

“Ons land was een van die eerstes om by die globale Ellen MacArthur Foundation’s Plastics Pact aan te sluit.”

Hy verduidelik dat die projek, wat deur GreenCape bestuur en uitgerol word, ten doel het om ’n plastiekwaardeketting te skep wat sal voorkom dat plastiek afval of besoedeling raak. Die vernaamste teikens is om weg te doen met problematiese en onnodige plastiekverpakking en om te verseker dat alle plastiekverpakking teen 2025 herbruikbaar en/of herwinbaar sal wees.

Die ooglopende vraag is hoe werk kan voortgaan terwyl Covid-19 Suid-Afrika (en die res van die wêreld) op die oomblik lamlê.

“Werk gaan definitief voort, maar beplanning moet uiteraard nou net aanlyn gedoen word”, sê Johann.

“Daar is reeds heelwat momentum en entoesiasme wat ons nie graag wil verloor nie.  Korona help eintlik om te wys hoe belangrik samewerking op ’n globale vlak is en dat ons definitief nie met die natuur moet mors nie…”

Daar word beraam dat daar jaarliks agt miljoen ton plastiek in die see beland. Volgens navorsing deur die Ellen MacArthur Foundation sal die hoeveelheid plastiek in die see teen 2050 meer weeg as al die vis in ons oseane. Die stigting beraam dat plastiek, gelykstaande aan een vol vullisverwyderingsvragmotor, elke minuut in die see gestort word. Dié hoeveelheid sal teen 2030 tot twee per minuut styg as daar nie nou drastiese en daadwerklike optrede is nie.

Die Pact se Suid-Afrikaanse lede staan op sowat 25 en sluit van die land se bekendste kleinhandelgroepe en ander groot handelsmerke en organisasies in. NGO’s en die regering het ook hul gewig agter die verreikende projek gegooi. En dié getal vennote klim steeds.

Lede beywer hulself om deur middel van nuwe ontwerpe, innovering en alternatiewe hergebruikmetodes die probleem van onnodige plastiek die hoof te bied. Johann sê dit beteken daar word nou met ’n vergrootglas gekyk na hoe plastiek gemaak en gebruik word.

“As die teikens bereik word, sal dit nie net ’n tamaai bydrae lewer om die omgewing te bewaar nie, maar sal werkskepping in die plastiekinsameling- en herwinningsektor asook ander sektore ’n stewige hupstoot gee.”

“Ons sien met die koronavirus hoe die wêreld saamstaan en agter een doelwit kán verenig. En soos met die virus, kan ons slegs verseker dat plastiek uit die omgewing gehou word as almal saamwerk.”

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.