Dokter deurkruis SA ʼn vierde keer vir liefdadigheid

Dr. André Hattingh het op Sondag 4 Maart in Witrivier aangekom. (Foto: verskaf)

Ná 7 000 km op sy Harley Davidson-motorfiets, talle borde propvol heerlike kos en ’n hele paar kuiertjies by mense oor die ganse land heen, het dr. André Hattingh uiteindelik weer in Witrivier, Mpumalanga, geland.

Dié reusereistog oor Suid-Afrika was nie ’n blote pretrit nie, hoewel André dit dikwels so beskryf, dit was ten bate van die niewinsgerigte organisasie, Pediatric Care Africa.

Die rit het Sondag 12 Februarie in Witrivier afgeskop en tot Saterdag 4 Maart geduur. Dit was André se vierde liefdadigheidsrit.

“Hierdie jaar was ongelooflik suksesvol,” vertel André aan Maroela Media.

“Niemand het seergekry nie, ons was op skedule en het talle vriende langs die pad gemaak!”

Daar is reeds sowat R70 000 met die rit ingesamel, maar André hoop dat daar mettertyd nog geld sal invloei.

Pediatric Care Africa wil vanjaar poog om vir 45 kinders se operasies te betaal, 400 kinders by spesialiste te kry en ’n 1 000 kinders na hul plaaslike dokter toe te neem.

André, wat homself trots as ’n smulpaap beskryf, het veral die heerlike kos in die verskeie dorpies geniet.

“Ons het lekker by die Muisbosskerm in Lambertsbaai geëet, lamskenkels en afval in Upington, en daar is ’n vrou wat ook op ons pad langs die pad staan en beeskop maak. Ons ondersteun haar elke jaar, en  vanjaar was nie anders nie.

“Ek het nou al ’n reputasie vir my liefde vir kos ontwikkel; almal wil vir my iets gee om te eet. Ek dink ek is die enigste mens wat 7 000 km op ’n motorfiets kan ry en dan nog gewig optel daarby,” skerts hy.

Hy het ook talle vriende langs die pad gemaak, met talle motorfietsryers wat dele van sy tog saam met hom gery het.

Volgende jaar sal die vyfde jaar wees wat hierdie megatog sal plaasvind.

“Ons wil dit groter as ooit vantevore maak. Ons wil probeer om die rekord te breek vir die hoeveelheid motorfietse wat op een pad in tandem ry.”

Die pad wat dr. André gery het. (Foto: verskaf)

Deur die loop van die rit, het André en sy span by verskeie kinderhuise gaan kuier om kosskenkings te maak en tyd saam met die kinders deur te bring.

Van die kinders onthou hom van vorige jare se kuiers, vertel hy.

“Ons het vir die kinders ook lekker roomys gevat. Die ding is, dis nie ’n demokrasie nie, hulle het maar my gunstelingroomys gekry,” sê hy tong in die kies.

Hy vertel dat die weer gedurende die eerste paar dae van die rit wispelturig was, wat die pad bietjie moeiliker gemaak het. Die stand van paaie in provinsies soos Mpumalanga en Limpopo het ook vir baie uitdagings gesorg.

“Die paaie is in sommige plekke lewensgevaarlik,” vertel hy.

“Verlede jaar was die paaie nog nie so swak nie.”

’n Verkeersbeampte het André net buite St. Lucia van die pad afgetrek. Nie vir ’n boete nie, maar vir ’n foto.

“Ek verkies dit beslis! ’n Foto is darem maar baie beter as ’n boete.”

  • Vir meer inligting oor Pediatric Care Africa, besoek hier die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.