Dokters in private sektor ploeg terug

Die OHH-span werk aan ‘n jong pasiënt (Foto: Verskaf)

Operation Healing Hands (OHH) is ʼn inisiatief wat in 2016 deur dokters in die private sektor begin is om pasiënte te help wat nie onder normale omstandighede mediese dienste sou kon bekostig nie.

Dokters en ander mediese personeel in hospitale in en om Pretoria bied sonder vergoeding hul tyd en bekwaamheid om minderbevoorregtes se lewens drasties te verander.

Dié inisiatief het begin as ʼn projek om saam te val met Mandela-dag, in samewerking met die Centurion-daghospitaal, maar het só uitgebrei dat hulle deesdae meer as een keer per jaar dié wonderwerke laat gebeur. Nietemin staan Mandela-week steeds uit.

“Hierdie jaar vind daar 19 operasies onder die vaandel van OHH in en om Mandela-week in ses verskillende hospitale plaas,” het Ané du Preez, woordvoerder van OHH gesê.

OHH gaan hierdie week 19 operasies doen (Foto: Verskaf)

“Drie knievervangings (twee operasies) word op 11 en 27 Julie in Zuid-Afrikaanse-hospitaal gedoen terwyl nog ʼn verdere vyf operasies (waaronder ʼn karpale tonnel- loslating en twee rotatorkraag-hersteloperasies) op 16 Julie daar plaasvind.”

“Sewe jong pasiëntjies in die Centurion-daghospitaal word ook op 16 Julie met ʼn verskeidenheid operasies gehelp.”

Du Preez het gesê dit is vir OHH en vir Centurion-daghospitaal belangrik om terug te ploeg in die gemeenskap en op só ʼn manier ʼn verkil te maak.

“Dit gaan maar oor die passie vir die saak. Almal wat betrokke is, is pasiënte wat chirurgie moet ondergaan en dit is baie moeilik vir hulle om die geld bymekaar te kry. So dit het maar begin met die bestaande behoefte en ʼn poging om die behoefte te verlig,” het sy gesê.

Persone wat glad nie ʼn mediese fonds het nie, wat Suid-Afrikaanse burgers is en mense wat behoeftig is, word vir dié inisiatief oorweeg. Mense word gekeur deur ʼn etiese en finansiële komitee om seker te maak die regte mense kwalifiseer vir die operasies.

“Ons help mense wat ʼn ingryp nodig het, nie ʼn langdurige proses nie. Hulle lewe moet ná die operasie verander het. Ons kan byvoorbeeld nie mense help wat terminaal siek is nie, al wil ons hoe graag. Ons kan wel mense help vir wie een operasie alles sal verander. Ons wil regtig ʼn impak op hul lewens hê en hul lewe verander,” het Du Preez gesê.

Een van die dogtertjies, wat in pleegsorg is, is doof en sal ‘n operasie daarvoor ondergaan (Foto: Verskaf)

Elmarie Marais, bestuurder van die Centurion-daghospitaal, het gesê dit is belangrik vir hulle om om te sien na behoeftige pasiënte.

“Daar is soveel mense wat swaarkry en wat regtig ly. Ons wil graag help en ons hand uitreik, want hoe anders doen ʼn mens dit? Om dit op só ʼn gestruktureerde manier soos hierdie te doen werk goed,” het sy gesê.

OHH het deur die jaar fondsinsamelings vir dié lewensveranderende operasies, het Du Preez gesê.

“Ons probeer soveel as moontlik pasiënte help. En hoe meer geld ons het, hoe meer mense kan ons help. Enigiemand kan ʼn donasie maak, al is dit hoe klein. Dit kan dalk die koste vir steke of ʼn drup dek, en dit help klaar,” het sy gesê.

Vir donasies, aansoeke of navraag oor OHH, besoek hul webtuiste of Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Sjoe ·

Donasie? Bydrae? Die hospitale en dokters maak miljoene ‘n jaar, ons word tot op die been toe uitgebuit, julle kan maar self daardie donasie maak. Baie mooi gebaar, hou so vol, en vermeerder dit elke jaar .. dankie dat julle terugploeg in die gemeenskap, maar doen dit met julle eie geld.

Liza ·

Sjoe, Sjoe, dit is kras, die Dr vra nie geld vir hulle dien gedoen nie, dit is gratis, maar ongelukkig moet daar fondse wees vir die hospitale, wat dit nie heeltemal dalk gratis kan doen nie, en ek glo dat daardie donasie gaan vir dit. Ek self is n staatspasient en glo my ek wag al lank vir n heup en skouer operasie. Sal wat gee om my arm weer behoorlik te kan gebruik, en pynloos te leef, maar nou , ek wag maar geduldig en is nie meer vandag se jong kind nie. BAIE DANKIE AAN DAARDIE DR’S

MICKEY ·

Dr Chula neurochirurg en Dr Mnguni v Eugene Marais neem ook deel aan die inisiatief… hil doen n brein prosedure op 23 Julie …. wat n voorreg om deel te kan wees.

not in wonderland ·

Hulle blaas hulle eie beul en versoek dan donasies. Hoe dan?

Judge ·

Geagte not-in-wonderland. Ek sien nie dat enige van die betrokke dokters se identiteite in die artikel geopenbaar word nie. So wie blaas wat? Het jy ooit die moeite gedoen om die nodige navorsing te doen van waarvoor die fondse benodig of aangewend word? Ooit enige vorige artikels of koerant uittreksels bestudeer? Enige van die radio opnames gevolg? Opgelees oor die kostes van ‘n bilaterale heupvervanging?
Dit is hartseer dat jy voel jy nie in wonderland is nie maar ek kan jou belowe elke liewe pasiënt wie se vervangings gedoen is, of wie se mangels verwyder is en nou behoorlik kan asemhaal en enige van die minder bevoorregtes wat by OHH baat gevind het tot dusver, beleef ‘n nuutgevonde wonderland van hulle eie. Doen moeite. Raak betrokke. Versprei bietjie meer liefde en wees minder sinies en meer ingelig. Dit sal jou lewe net kan verryk. Xxxxx

hpret ·

Dankie aan elkeen wat betrokke is by OHH. Julle mag dalk nie die hele wêreld wen nie, maar vir daardie gelukkige pasiënte en diegene wat julle ken beteken julle die wêreld. Hou aan met goeie werk! Mag elkeen wat hierdie berig lees besef dat selfs klein dingetjies wat met positiwiteit en liefde gedoen word die wêreld ‘n beter plek maak…. En die vader weet, ons het baie meer daarvan nodig!

Jana ·

SJOE, NOT IN WONDERLAND duidelik is beide van julle ondankbare siele in wonderland!
Patiente wat reeds operasies ontvang het deel beslis nie julle negatiewe opinies. Waarom het nie een van julle self dokters geword nie…??? Dink julle die chirurg kan opereer sonder ‘n nakrkotiseur, narkosemiddels, pynmedikasie ens. Moet die dokters dit uit hulle sak betaal? Die spesialiste gee GRATIS hulle tyd en kennis. Sommige operasies duur 4-6ure. Mense se lewens is in daardie tyd in hulle hande. So ja, hulle kan met reg hulle eie beul blaas. NOT IN WONDERLAND ten minste het hulle beul om te blaas.
SJOE, vir enige dienste wat iemand lewer betaal jy tog vir die persoon se kennis. Waarvoor sal ‘n dokter/spesialis 10-14 jaar studeer? Om verniet te werk. Twyfel of jy dit doen.
Dankie OHH vir elke spesialis, narkotiseur, hospitaal, fisioterapeut, verpleegster. Die ure wat julle gratis in sit om net 1 operasie moontlik te maak. Dit verander mense se lewens werklik.

Riaan ·

Ek weet nie waaroor word gestrei nie maar dit is verseker ondankbaar want die drs bring hul kant om lewens tespaar.My yippe links asook regs is oorgedoen en was vir talle operasies by Wilgers Hospitaal asook Nelspruit Mediclinic na 2 groot kar ongelikke.So ASB besef drs gee hul bes om lewens tehelp verbeter!

Sorette ·

Baie dankie aan die Dokter wat inisiatief geneem het om hierdie wonderlike projek te begin. Ten spyte van lang werksure word vrye tyd opge-offer om al die nodige reelings, vergaderings en organisering te doen om pasiente wat dit nie kan bekostig nie te help. Mense se lewens word verander.

JAN ·

Daar bestaan nie so-iets soos ń vry maaltyd nie. Iemand anders betaal. Alles het ń prys.
Die diens herhinder aan die Distriks Geneesheer van ouds dae van stoute apartheid.
Daar is omtrent nie een privaat dokter wat nie bankrot was nie van slegte skuld en wanbetalings van Med fondse.

bgj van der westhuizen ·

jammer om dit te se maar al die dokters wat hulle tyd so op offer vir verniet maak dit weer op op die privaat mense wat deur hulle sien word en die hospitaal is elke geval oorprys op alles

Eish ·

Elke bietjie help.
Dit is tragies dat mense moet sterf agv die feit dat hul nie mediese fondse kan bekostig nie en ook agv staatshospitale se inploffing.

blom ·

Dis fantasties wat hierdie dokters doen, en daar is regtig mense daar buite wat nie mediese fonds kan bekostig nie, maar dan kry die mense wat kla hulle kan nie mediese fonds bekostig nie, maar ons ry die grootste SUV en het DSTV. Maak nie sin nie.

Helena ·

Ek skaam my morsdood. Hoe op aarde kan ons as Suid Afrikaners so naywerig wees. Goeiste genugtig nou word daar allerhande agendas gesien in ‘n liefdestaak. Daardie prostese wat gebruik word in ‘n heup of knie vervanging word nie geskenk nie, dit moet gekoop word. Die koste kan maklik R50 000 beloop. Skaam julle om so gal te braak oor iets waarvan julle nie veel weet nie. Hierdie dokters hoef dit nie te doen nie, maar uit die goedheid van hul harte sien hulle om na hul medemens en word dan gekruisig indien hulle ‘n bydrae vra. Weet jy wat kos ‘n “moon boot” of ‘n “sling”. Wat kos nasorg by ‘n fisioterapeut ens ens. Nee mense, sodra jy ophou selfsugtig en veroordelend is, dan sal jy ook vreugde vind daarin om meer van jouself te gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.